Wednesday, January 30, 2013

Oordenking 3 Februarie 2013

Oordenking 3 Februarie 2013

Jesus-mense weet liefde kom van God

“... want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God.” (1 Johannes 4:7)

• Jesus-mense ontdek dat Jesus ‘n regte mens is wat self hierdie aardse lewe ervaar het (dit het ons Kersfees gehoor).
• Jesus-mense het die voordeel van Jesus se wondermag aan hulle kant (daarom doen Jesus wondertekens).
• Jesus-mense se ywer vir God is soos ‘n verterende vuur (onthou die tempelreiniging).
• Jesus-mense is wedergebore deur die Heilige Gees (dit het Nikodemus by Jesus gehoor).
• Jesus-mense se dors word deur die Lewende Water geles (die Samaritaanse vrou by Jakob se fontein het dit ontvang).

Nou kan ons beter verstaan:

NB Jesus-mense bestaan in liefde!

Liefde wat van God kom, is ‘n integrale deel van Jesus-mense. Almal wat die guns in God se oë vind om te glo dat Jesus se sterwe en opstanding vir ons die ewige lewe waarborg, word verander in liefde. Hulle begryp wat God-liefde is:

God-liefde word nie aan- en afgeskakel nie; dit is ‘n permanente goddelike bestaansvorm deur die krag van die Heilige Gees; dit is ‘n voelbare en sigbare lewenswyse; dit is ‘n bevrydende en vernuwende manier van lewe; dit is onvoorwaardelik; dit ken geen begin of einde; dit kan nie uitgeput raak nie; dit kan nie met die menslike verstand volledig begryp word nie; dit het geen gelyke in die geskape werklikheid nie; dit kan nie nou al volledig beskrywe word nie...

... want dié liefde, is God self!

En Jesus het vir ons kom wys wie God is. Hoe het Hy dit gedoen?

Hy het die hemelse heerlikheid verlaat, Hy het sy lewe gegee, Hy het die hoogste offer gebring, Hy het die volledige prys vir ons sondevergifnis betaal, Hy het na drie dae uit die dood opgestaan, Hy het opgevaar hemel toe, sy Gees is uitgestort op Pinksterdag ...

Hy het deur sy Gees tot binne-in Jesus-mense gekom, Hy sit God-liefde voort in elkeen van ons wat ons lewens oopmaak vir Hom!

Hierdie God-liefde is wie God is.
Hierdie God-liefde is wie Jesus is.
Hierdie God-liefde is ons Jesus-mense!

Doom Charl

Tuesday, January 22, 2013

Oordenking 27 Januarie 2013

Oordenking 27 Januarie 2013

God soek jóú erg!

“Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Johannes 4:14b)

Moet asseblief nie die grootste en mees algemene fout maak met hoe jy jou verhouding met die Here verstaan nie! Ons as gelowiges dink so maklik dit ons soeke na God wat bepalend is in die kwaliteit van ons verhouding met die Here – ja, met die klem op óns soeke. Ons dink: ék moet God soek, ék moet meer bid, ék moet meer Bybel lees, ék moet meer dit of dat om nader en meer intiem met God te lewe.

Kom ons kyk wat het by die fontein by Sigar tussen Jesus en die Samaritaanse vrou gebeur: Jesus, die Jood, loop die gevaarlike kort pad deur Samaria na Galilea; by die fontein by Sigar wil Hy rus en water drink; Hy doen die mees onaanvaarbare ding om by ‘n vrou, en dan nog ‘n vrou met ‘n slegte naam, water te vra; maar dan bied Jesus vir haar lewende water aan, water wat haar ewige dors sal les ... kom ons maak weer die sprong na vandag:

Wie verteenwoordig hierdie Samaritaanse vrou vandag? Dit kan diegene met ‘n slegte naam wees, wat dalk ‘n etiket dra van so en so wees. Dalk is dit jy wat voel daar is te veel verkeerd in jou lewe, Jesus is te goed om vir jou bedoel te wees. Miskien het daar iets groot verkeerd geloop in jou verlede, iets wat jy dink God nooit sal kan vergewe nie. Moontlik voel jy nog nie gereed dat Jesus jou lewe kom oormaak nie, jy voel jy wil nog eers dit of dat. Opgesom: die Samaritaanse vrou verteenwoordig vandag elkeen van ons wat dors en smag na iets nuut in ons lewe as Jesus-mense.

Wat bied Jesus vir jou vandag aan? Wat het Hy vir die vrou aangebied? Lewende water. Dit is die lewe wat deur die Heilige Gees aan iemand gegee word omdat Jesus as Verlosser aan die kruis gesterf het. Hierdie lewe-gawe van God maak jou so vol, dat dit oorloop in jou lewe en ook vir ander verandering en vernuwing bring.

Kom ons keer terug na die probleemstelling aan die begin, naamlik dat ons geneig is om te veel klem te plaas op óns soeke na God. In die gesprek tussen Jesus en die vrou leer ons dat die klem baie sterker val op Jesus se aanbod van lewende water.

Dit is Hý wat jou soek; dit is Hý wat na jóú dors; Hý gee die lewende water; Hý bewerk die vernuwing; Hý maak van jóú ‘n kanaal van lewende water na ander; dit is Hý, en nogmaals Hý!

Laat Hý jou ewige dors les!

Doom Charl

Wednesday, January 16, 2013

Oordenking 20 Januarie 2013

Oordenking 20 Januarie 2013

Het jy al gevra?

“Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”” (Johannes 3:4)

Het jy al gevra?
Het jy al vir Jesus gevra?
Het jy al gevra dat jy weer gebore word?

Jesus-mense is wedergebore-mense. Dit is mense wat deur die Heilige Gees volgelinge word van die lewende mens, Jesus. Jesus-mense is nou al reeds in die koninkryk van God, al is hulle nog van vlees en bloed op hierdie tydelike aarde. Maar omdat hulle wedergebore is, is hulle reeds “gees”, dit wil sê, hulle is reeds Gees-vervuld, hulle het reeds deel aan die goddelike dimensie waarin God bestaan. Wedergebore Geesvervulde Jesus-mense sal nie verlore gaan nie, maar het reeds die ewige lewe. Want hulle glo, hulle glo in die enigste Seun van God. Want hulle ontvang deur die onverdiende guns van God, die gawe om in Hom te glo.

Twee geleerdes, twee leermeesters, twee Joodse Rabbi’s is in gesprek met mekaar oor die wondertekens wat die Een doen. Rabbi Jesus stuur die gesprek in die rigting van die koninkryk van God, en hoe om daar in te kom. Dan vra Rabbi Nikodemus uit oor hoe ‘n ou man weer gebore kan word. Rabbi Jesus verduidelik en sy verduideliking kan net verstaan word as dit reeds met jou gebeur het. “... elkeen wat uit die Gees gebore is” (Johannes 3:8 se einde) verstaan die reëls van die koninkryk van God. God bied ‘n nuwe lewe aan, en elkeen wat hierdie aanbod aanvaar, word ‘n nuwe inwoner van sy koninkryk. Maar daarmee is die nuwe lewenswyse nie afgehandel nie. Jy behoort weer te vra, en weer te vra, ja, tot vervelens toe te vra:

Wanneer laas het jy vir Jesus gevra?
Wanneer laas het jy vir Jesus gevra dat sy Gees intenser in jou sal werk?

En wanneer sy Gees intenser in jou werk, word Hy al hoe meer in jou. Die aardse dinge kry ‘n ander betekenis omdat Hy nou ook deel daarvan is. Die Jesus-mens leef volgens die waarheid wat die Gees in jou werk. Oorgemaakte mense lewe anders, al hoe meer anders. Ander mense word om ander redes belangrik. Ander aardse goed word belangrik. Ander lewenswaardes geld omdat jy oorskakel na God se waardes.

Jesus is jou antwoord, indien jy vra!

Doom Charl

Wednesday, January 9, 2013

Oordeking 13 Januarie 2013

Oordenking 13 Januarie 2013

Tema: Ywer vir U

“Liefde en ywer vir u huis brand in my soos ‘n verterende vuur.” (Johannes 2:17 uit Die Boodskap)

Dit bly indrukwekkend om te sien hoeveel ywer, energie en toewyding suksesvolle sportmense kan insit. Die prysgawe van persoonlike gerief en die ure wat aan oefening en voorbereiding spandeer word, is vir baie sportmense die resep van sukses en prestasie. En hoe lekker is dit nie as jou span of jou sportheld wen nie!
Maar hoe funksioneer wen en presteer in God se koninkryk?

Kom ons gaan kyk hoe Jesus vir ons die reëls in God se koninkryk prakties kom wys het. Dis die groot Joodse Paasfees; baie besoekende Jode is in Jerusalem; geld word gewissel en diere-offers word gekoop en verkoop; dit gaan woes ... dan daag Jesus op: Hy jaag die verkopers uit die tempel en keer die geldwisselaars se tafels om. Jesus wys prakties hoe Hy voel oor die verontreiniging van die tempel. Die eer van sy Vader word direk aangetas met dit wat daar in die tempel gebeur het. En die Seun van God tree op in liefde vir sy Vader; die ontreiniging van die tempel is vir Hom soos ‘n verterende vuur in Hom. Hoe kan ons hiermee die sprong maak na vandag?

Jesus was en is en sal altyd dieselfde wees (Hebreërs 13:8). Hy voel vandag nog net so ernstig oor elke saak wat God se saak enige skade kan aanrig. Sy ywer en gefokusde toewyding vir God se saak is vandag nog 100% in plek. Hy neem steeds volle verantwoordelikheid daarvoor. Hy kan nie waag om die eer van God aan ons oor te laat nie, ons maak van nature ‘n gemors daarvan.

Maar die groot sprong na vandag, kom met die plek wat die tempel destyds vir Jode ingeneem het. Die tempel in Jerusalem was waar die God van Israel in sy heiligheid teenwoordig was, net daar, nie op ander plekke nie. Nou sê Jesus in Johannes 2 dat Hy die tempel sal afbreek en weer in drie dae sal bou. Vir die toegewyde Jode, is dit die hoogste daad van verraad teen die Jodedom. Maar Jesus verwys na sy eie dood en opstanding op die derde dag. Hy Self kom gee nuwe inhoud en betekenis aan die teenwoordigheid van God. Hy Self word deur Hul (Drie-enige) Gees die-altyd-Teenwoordige, die God met ons.

... en so het Jesus steeds vandag die liefde en ywer in Hom vir Hul saak “soos ‘n verterende vuur.” En hier kom die beste vir vandag: dieselfde liefde en ywer kom werk Hy in elkeen van ons wat glo! Hy Self sorg vir die wen en presteer in ons vir sy koninryk! Sy ywer vir God word ons ywer vir Hom!

Doom Charl