Thursday, November 26, 2015

Oordenking 29 November 2015


 
Die nuwe en finale afwagting van Hom!

“Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.” (Jesaja 9: 6a)

In die volgende weke maak almal van ons op een of ander manier gereed vir Kersfees. Daar word planne gemaak van waar ons gaan wees, saam met wie ons gaan wees en wat ons gaan doen. Daar is min tye van die jaar waarin daar soveel moeite deur so baie mense gedoen word om vir ‘n spesifieke geleentheid gereed te maak. ‘n Mooi woord wat dit beskrywe is “afwagting”.

In die Ou Testament was daar ‘n “afwagting” dat vir die volk van die Here ‘n Messias sou kom wat ‘n baie sterk leier vir hulle sou wees. ‘n Beskrywing van hierdie afwagting, kry ons in Jesaja 9: 5-6: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring ... Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”

Met Kersfees vier ons fees dat hierdie afwagting van destyds in alle opsigte waar geword het. Om die waarheid te sê, die Een wat wel op aarde mens kom word het, is baie meer as wat verwag was. Hy het die enigste Verlosser vir alle mense van alle tye geword en sal dit altyd wees. Sy heerskappy deur sy Gees in sy kinders oortref alle fasette van afwagting. Daar is nie genoeg name of woorde om reg te laat geskied aan Wie Hy werklik is nie. Hy oortref alle verwagtinge!

Maar Hy het self gesê terwyl Hy hier was: “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem ...” (Johannes 14:3). Hierdie woorde van Jesus beteken dat daar steeds by ons ‘n afwagting is. Die afwagting van die Ou Testament wat waar geword het, maak plek vir ‘n totaal nuwe afwagting vir ons vandag. En Kersfees bied elke jaar die ideale geleentheid om nuwe inhoud aan hierdie nuwe afwagting te gee. Die afwagting van Jesus se eerste koms, word vervang met ‘n nuwe afwagting vir sy tweede en finale koms.

Hierdie finale afwagting dat Jesus verseker weer kom, dra direk by tot ‘n groeiende dringendheid dat Hy so gou moontlik weer moet kom. Die chaos in die wêreld, persoonlike omstandighede én veral die intense begeerte van elke Jesus-mens om Hom self te ontmoet, dryf hierdie groeiende finale afwagting.

Hy en Hy alleen sal alle verwagtinge oortref! Weereens!

Thursday, November 19, 2015

Oordenking 22 November 2015

God se oop koninkryk

“Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” (Matteus 19: 14)

Jesus gebruik kinders as voorbeeld om te verduidelik dat sy koninkryk oop is vir ALMAL.

In hierdie demonstrasie kry ons die beste manier om na mekaar in die kerk en na ander buite die kerk te kyk. Ons is van nature so geneig om etikette om mense se nekke te hang. Bewustelik en onbewustelik deel ons mense in groepe: diegene van wie ons hou en met wie ons saamstem; die ander van wie ons nie hou nie en ook nie soos hulle dink, leef of praat nie. En dan maak ons selfs binne die kerk die grootste fout: ons deel mense in volgens sekere sondes; of dalk meer vroom, volgens hulle kerklike bydrae, betrokkenheid of spirituele voorkeure.

By ons klein kindertjies kan ons baie leer oor hoe hulle onvoorwaardelik maats maak. Hulle speel so maklik met mekaar oor grense heen. Ons sal almal kan vertel van hoe ons tot ‘n sekere ouderdom meer vriende gehad het en sonder enige vooroordele goed met ander oor die weg gekom het. Ja, ons sou wel een dag met mekaar baklei oor onbenullighede en net die volgende dag is ons weer die grootste maatjies.

In die koninkryk van die hemel waar Jesus se reëls geld, kan ons net van dag tot dag groei in die wyse waarop Hy almal as sy vriende sien. Hy kan nie kwaad bly vir sy vriende nie. Hy hou nie boek van die kwaad nie. Hy het nie witbroodjies of swartskape nie. Hy beloon nie sommiges met groter geskenke as vir ander nie. Hy het een prys, sy eie lewe, vir almal betaal. Die resultaat van hierdie liefde van Hom aan sy vriende, is die werk van sy Gees in elkeen van sy vriende.

En waar die Gees werk, word grense afgebreek en vooroordele teenoor ander mense verdwyn. Met ‘n Jesus-hart is almal altyd welkom binne die koninkryk van God. Hoe meer intens ons die Gees toelaat om ons lewens van binne nuut te maak, hoe meer ontdek ons iets van die misterie van die koninkryk van die hemel. En daar geld totaal ander norme en reëls as in ons alledaagse lewe. Hoe langer hoe meer word dit duidelik dat ons nie al die antwoorde het en alles kan verklaar nie.

Thursday, November 12, 2015

Oordenking 15 November 2015

Volkome bevryding deur God se hand

“Hoe ontsagwekkend is u werk!” (Psalm 66: 3)

Elkeen van ons wil graag vry voel, innerlik tot rus kom. Hierdie pad loop elkeen een of ander tyd. Kom ons raak bewus van een wesentlike deel van geestelike bevryding.

Die Psalm-skrywer vertel van die groot werke van die Here in die geskiedenis van Israel. Die indrukwekkende trek op droë grond deur die Rietsee. Hoe die Here met Israel se vyande afgereken het. Al die struikelblokke wat Hy uit hulle pad geneem het. Steeds is Hy vandag besig om ons almal kollektief te beïndruk met wat Hy vir ons beteken.

Ook op individuele vlak, is die Psalm-skrywer net so dankbaar oor alles wat die Here vir hom in tye van nood beteken. Hy wil graag vertel en selfs uitroep, oor hoe die Here na hom geluister het toe daar sonde in sy hart was. Dieselfde Here gee steeds rede dat elkeen van ons rus kan vind in daardie dinge wat Hy in ons lewe laat gebeur.

Volkome bevryding het dus te doen met alles wat ons kan waarneem wat God doen. Soos reeds lank gelede in die geskiedenis van Israel, is Hy steeds besig in en rondom die lewens van sy kinders vandag. Tussen die gebeure van lank gelede in die Ou Testament en vandag, weet en glo ons van Jesus. Die te-goed-om-waar-te-wees-liefde-van-God, soos wat Hy vir ons kom wys het met Jesus, is die heel belangrikste bousteen vir volkome bevryding.

Hierdie God-se-liefde-in-Jesus-daad, gee direk geleentheid vir elkeen van ons om waarlik rus in Hom te vind. Niemand kan en sal of wil iets groter vir ander ooit doen nie. Hierdie liefdesdaad van God aan ons, saamgevat in die woord “Jesus”, gee geleentheid dat elkeen van ons ook kan uitroep:

            “Hoe ontsagwekkend is u werk!”

Die woord “ontsagwekkend” is so ‘n akkurate beskrywing van God se werk in en rondom elkeen van ons. In daardie dinge wat ons wel agterkom dat dit net Hy was wat iets spesifiek kon laat gebeur, en selfs dan soms ons asem wegslaan in verwondering daaroor, ontwikkel elke Jesus-mens respek en ontsag vir Hom. Innerlike bevryding het te make met die bewustelike gewaarwording van God-aan-die-werk.

Innerlike vryheid en rus kom deur jou oë oop te maak vir God se hand aan die werk, en dan met jou hart teenoor Hom te reageer.

Thursday, November 5, 2015

Oordenking 8 November 2015


Die nuwe mens in wording

“Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.” (Titus 2: 11)

Die oorgang van die ou lewe na ‘n nuwe lewe, is ‘n lewenslange stryd waarmee elke Jesus-mens elke dag besig is. Die ou sondige natuur moet gedurig en stelselmatig sterwe om ruimte te maak vir die nuwe mens. Ou verkeerde gewoontes is later nie meer lekker nie. Met nuwe gedagtes en ‘n ander manier van kyk, gaan God se kinders groeiend vorentoe op pad na sy doel met elkeen van ons.

Hierdie geestelike groei en heiligmaking, wat deur die Heilige Gees in ons aan die gang is, is baie ingewikkeld maar tegelyk baie eenvoudig. Dit is ingewikkeld omdat ons van nature makliker terug neig na ons ou lewenswyse voor ons bekering. Dit kom meer outomaties om net vir jouself te lewe, in plaas daarvan om selfloos God en ander eerste te stel. Dit voel aanvanklik net baie lekkerder om eerste vir jouself te sorg, voordat jy vir ander iets hoef te doen.

Tog is dit tegelyk ook baie eenvoudig. Die beste Spesialis in vernuwing, is binne in elke Jesus-mens. Niks is vir Hom ‘n probleem nie. Niks staan in sy pad nie. Niemand kan sy werk keer of ongedaan maak nie. Geen struikelblok of hardkoppigheid of verharde hart, kan Hom keer nie. Elke bekeerde kind van God het geleentheid om net eenvoudig en met erns, sonder skuldgevoelens of enige verdienste, oor te gee aan Hom.

Maar hoe? Soos Paulus vir Titus sê: “... God (dit is die Gees in ons) ... voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe ...” (Titus 2:12)

Alle mense kan nou reeds voorberei word vir die hemel, maar sonder rede stel almal nie belang nie.

Vrywillig, sonder dwang, openhartig, opreg, eerlik, liefdevol, soekend, sonder skuldgevoel, toegewyd, gefokus ... almal woorde wat iets beskryf van elke Jesus-mens se daaglikse geleentheid om meer en meer die nuwe mens in wording te wees. Hierdie nuwe mens in wording, is 100% God se Gees se verantwoordelikheid in ons. Ons kan self niks doen om “... met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug ... te lewe” nie. Moenie eers probeer nie. Elke probeerslag, vertraag God se genadewerk in jou.
 
Gee God se genadewerk ‘n volledige kans in jou lewe ...