“In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” (1 Petrus 1:3)
Ons is besig om beter te verstaan wat die
“nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Mag elkeen besef: ek ís die
nuwe mens in wording!
Hoor die ongelooflike woorde wat Petrus aan
die begin van sy brief gebruik: “uitverkorenes
van God; vreemdelinge in die wêreld; deur die Gees afgesonder om aan Hom
gehoorsaam te wees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus; lewende hoop
op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis ...”
Ons daaglikse uitdaging en geleentheid is om
beter te ontdek wat ons reeds as nuwe mense is. Deur die bloed van Jesus aan
die kruis en die oorwinning deur die opstanding, ontvang elke Jesus-mens die
geskenk van nuwe lewe. Hierdie nuwe lewe is gewaarborg deur Iets en Iemand
buite die mens self, en juis daarom is dit permanent en onaantasbaar. God self
is die volledige en volmaakte waarborg. Die opoffering en prys wat sy eie Seun
vir hierdie nuwe lewe betaal het, is net te groot dat daar enige gebrek of
tekort daarin kan wees.
Op pad na die finale voltooiing van God se
werk in elke Jesus-mens, vind daar ‘n proses van suiwering plaas. Petrus skryf
baie realisties oor hierdie pad. Hy noem dit “beproewings”, wat onder andere
verwys na die moontlike pyn en teenspoed op ons pad. Ons elkeen se lewenspad
het opdraandes en afdraandes, en deur elke ervaring van die negatiewe en die
positiewe, het ons geleentheid om te groei of nie. Hoe beter ons besef wie ons
reeds in Jesus Christus is, hoe beter groei ons deur hierdie ervaringe. Anders
gestel, eers met die ontdekking van die groot geskenk van nuwe lewe, kan ek en
jy die uitdagings van die lewe hanteer.
Hierdie nuwe lewe begin en eindig by God, wat
van ewigheid tot ewigheid is Wie Hy is. In sy onveranderlike en
onvoorwaardelike liefde, het Hy elkeen van sy Jesus-mense geskep en uitverkies
om deel te vorm van sy ewige plan met alles. Nou is dit vir ons as Jesus-mense
om gedurig meer van God in ons, en sy plan met ons, te ontdek.
Kom ek nooi jou uit om vandag bietjie vooruit
te dink. Waar wil jy graag oor ‘n jaar wees in jou verhouding met Hom in jou?
Waarmee sukkel jy die meeste in jou geestelike groei? Hoe sal jy die graagste
hierdie nuwe lewe wil belewe? Weet dan: Hy is jou antwoord!