Wednesday, July 27, 2011

Oordenking 31 Julie 2011

Oordenking 31 Julie 2011
Ontspan, Hy weet alles!
“... al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” (Ps. 139:16)
Dat God alles van almal weet, lok twee reaksies uit: vrees of vertroue.
Vir die skrywer van Psalm 139 beteken dit dat hy God in alles kan vertrou. Daar is niks wat Hy van Hom kan, wil en hoef weg te steek nie. God sien deur die mens, Hy gaan oral saam met die mens, die mens kan nie wegkruip nie, elke weefsel en aartjie is vir God bekend, selfs die vyand is geen vreemdeling nie. So ‘n God hoef jy nie te vrees nie, Hy kan jou ondersoek, deurgrond, lei ...
Hoekom is sommiges bang vir Hom? Bang dat Hy alles weet? Wil hulle iets wegsteek? Dink hulle hulle kan iets wegsteek? Waarvoor wil hulle iets wegsteek? Wegkruip sal nie help nie. Weghardloop sal ook nie help nie. Leuens sorg vir groter bang wees. Lees weer Psalm 139:7-12, wegkom kan niemand nie!
Waar kom God se meesterlike kennis oor die mens vandaan? Hy is Skeppergod! Hy weef elke mens aanmekaar op ‘n onnabootsinde wyse. Niemand sal dit soos Hy kan doen nie, al het Hy self die mens hoe slim gemaak. Elke geskape mens is ‘n wonderwerk op sy eie. Lank voor X-strale en MR’S het Hy al kennis geneem van elke verborge liggaamsdeel in ons. Ons soek wonderwerke, ons kan net na onsself kyk en in verwondering saam met die Psalmskrywer voor die Wondergod neerval!
En dan beroof ons God van die vryheid wat Hy aan elke mens gegee het, met ons verstaan oor ons lewensdae op aarde. Hy weet van elkeen van ons vandat ons ouers die genade ontvang het, dat konsepsie plaasvind, maar die daad was hulle vrye wilsbesluit. Van geboorte af is elkeen ‘n vry mens wat sy eie lewenskeuses maak. Die gelowige glo van harte dat hy deur die Gees in keuses gelei word, of ten minste bygestaan word, maar dit is nie altyd gewaarborg dat hy die regte keuses maak nie. Ons maak verkeerde besluite as gelowiges, tog staan die Here by ons al ons lewensdae ... tot op die laaste dag, wanneer dit ookal sal wees.
Daarom pleit die skrywer: “Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Ps. 139: 24)
Doom Charl

Wednesday, July 20, 2011

Oordenking 24 Julie 2011

Oordenking 24 Julie 2011
Hoe lyk Hy in jou vir ander?
“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.” (2 Kor. 3:18b)
DIT is geestelike groei! DIT is heiligmaking! DIT is ‘n dieper spiritualiteit!
Verlang, begeer, vra, bid, smeek, smag, soek ... jy opreg hierna?
“Uit onsself is ons nie in staat ... Ons bekwaamheid kom van God ... Dit doen die Here wat die Gees is.”
(2 Kor. 3:5a en c; 3:18d)
So help een van die ontvangers van die oordenking my om geestelike groei beter te verstaan:
As jou kind gebore word, is jy as ouer oorweldig deur ’n gevoel van liefde, beskerming en vertroeteling, maar die kind moet leer wat liefde is. Deur jou kind se ontwikkeling as peuter, kleuter en jong kind, is dit vir ouers nodig om die kind in liefde te straf om sekere beginsels by die kind tuis te bring. Soos die kind ouer word, ontwikkel wedersydse respek en liefde, en is straf al hoe minder nodig. Later kan jy net jou kind vermanend aanspreek en dan reageer jou kind vanuit dit wat in sy hart is. As jou kind volwasse is, is dit ouers se verwagting en hartsverlange dat jou kind jou liefde met wedersydse liefde sal beantwoord.
Geloof gaan deur soortgelyke groeifases: God se Gees skenk geloof, wedergeboorte vind plaas, oefening in geloofsgehoorsaamheid deur God se Woord is nodig, God se liefdesdade word op jou hart geskrywe, en so word God se manier van lewe in jou al hoe meer ‘n spontane lewenswyse!
Coenie Burger beskryf dit as ‘n houding of ingesteldheid waarmee ons die genade wat die Here aan ons gee, ontvang en kanaliseer sodat dit tot egte lewensvernuwing kan lei. God gee wat Hy vra, Hy soek net ‘n oop kanaal, ‘n gewillige hart, ‘n leerbare gees, ‘n diensbare instrument – so gaan Hy voort met sy koninkrykswerk in en deur ons. En intussen sorg Hy vir die groei, op sy manier en op sy tyd, deur sy Gees.
??????? Wil jy groei? Vra die Gees om jou te bly verander, Hy doen dit graag!
“Ons lyk al hoe meer soos kinders van God. Dit is die Here, Hy wat die Gees is, wat ons so verander.”
(2 Kor. 3:18 uit bybel@kinders)
Doom Charl

Thursday, July 14, 2011

Oordenking 17 Julie 2011

Oordenking 17 Julie 2011
Aanneemlik vir U, Here, asseblief!
“Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.” (Psalm 19:15)
Hoekom loop so baie van ons met skuldgevoelens rond? Hoekom dink so baie mense hulle is nie goed genoeg vir die Here nie? Wonder ons nie almal of ons aan die vereistes van die Here voldoen nie? Tussen ons gewete en sy gebooie voel ons ellendig skuldig!
Net in die afgelope week loop ek by verskillende geleenthede twee mense raak wat spontaan begin verduidelik hoekom hulle Sondag moes gewerk het, so asof hulle daarmee wil bely dat hulle die sabbatswet oortree het en dat dit nou ewig teen hulle name opgeteken gaan staan. Het die Heilige Gees dan nog nie sy nuwe wet op hulle harte geskrywe wat hulle vry maak nie? Is Sondag dan nie opstandingsdag vir hulle nie, of het hulle nog by die Joodse sabbat vasgeval? Sondag is allermins bedoel om ons skuldig te laat voel, eerder bevry en vol lewe en verryk te laat voel, vol nuwe lewe vir die werksweek wat begin! Daarom is dit goeie gebruik om ons geestelike batterye te laai deur eredienste by te woon en liggaamlik te herstel vir die week wat begin.
Terug by Psalm 19: hoe sê en dink ek wat aanneemlik is vir die Here? Twee maniere:
Eerstens: “Die hemel getuig ... sonder woorde ...”
So eg uit ons eie belydenis vertel God se skepping vir ons wie God is en wat vir Hom belangrik is. “Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien ...” (NGB art 2). Niemand het ‘n verskoning dat hulle nie weet wie God is nie, die skepping bewys God (Rom. 1:12). Vir ons as gelowiges laat die skepping ons net meer en meer in verwondering staan voor God. En dit begin sommer by die onmoontlike herhaalbare wonder van ons eie skepsel wees!
Tweedens: “Die woord van die Here ... gee insig ...”
En dan het ek ‘n leerbare gees nodig, ‘n behoefte om die Here te ken en beter te leer ken. En daarvoor het ek sy Woord. ‘n Bevrydende Woord, lewe-gewende Woord, nie-veroordelende Woord, verlossende Woord, altyd nuwe Woord, volmaakte Woord, volledige Woord, moeite werd Woord, ... dit is God se Woord oor God self. Sy Gees kom skryf sy Woord op ons harte, en daardie Woord is aanneemlik, want dit kom van Hom. “... maak Hy Hom deur sy ... Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend ...” (NGB art 2).
Sy Skepping en sy Woord – in soverre dit Syne is en solank dit van Hom kom, is dit vir Hom aanneemlik!
• Hou op skuldig voel: Jesus het jou skuld 100% gedra! Jy IS aanneemlik vir Hom!
• Jy IS goed genoeg vir Hom! Hy skryf sy volmaakte Woord op jou hart.
• Ons Rots en ons Verlosser weerhou ons van onwetende en opsetlike sondes! DANKIE!
Doom Charl