Thursday, June 27, 2013

Oordenking 30 Junie 2013

Oordenking 30 Junie 2013

Glo jy dat Jesus die lewe is?

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al sterwe hy ook ...” (Johannes 11:25)

Mandela lê op sterwe, ek doen twee begrafnisse in een week ... ek dink diep aan ons elkeen se gedagtes oor die dood: my eie, ander naby aan my en selfs hulle wie ek nie ken nie. Is ek gereed? Is diegene naby aan my gereed? Hoe kan ons weet? Wat gebeur na die dood? Baie vrae en nie noodwendig duidelike antwoorde nie, maar ook groot gevare van verkeerd verstaan.

Byvoorbeeld die Rooms Katolieke Kerk het sewe sakramente, onder andere die laaste oliesel, wat deur die priester by ‘n sterfbed bedien moet word. In die Katolieke Ensiklopedie word hierdie “extreme unction” beskryf as die geestelike hulp en gemak en volmaakte gesondheid, insluitend kwytskelding van sonde en voorwaardelike herstel van liggaamlike gesondheid, aan Christene wat ernstig siek is (vry vertaal). Die priester plaas olie (wat deur die biskop geseën is) op sewe liggaamsdele, met die woorde: "Through this holy unction and His own most tender mercy, may the Lord pardon thee whatever sins or faults thou hast committed by sight, by hearing, smell, taste, touch, walking, carnal delectation". Soms kry ek die aanvoeling dat sommige van ons kerkmense iets soortgelyk verwag as die dominee dringend ontbied word na ‘n siekbed.

Die wyse waarop mense optree by ‘n begrafnis, maak my ook erg bekommerd. Ook die manier waarop mense oor die dood praat, maak my erg bekommerd. Dit voel vir my asof dit algemene kennis behoort te wees dat as ‘n bejaarde persoon, wat ‘n goeie lewe gehad het, te sterwe kom, dit beter is. Net so as ‘n baie siek persoon se lyding beëindig word deur die dood, dit beter is. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die hartseer oor ‘n leë plek in die familie, is verstaanbaar. Self Jesus het gehuil by Lasarus se sterfbed voordat Hy hom uit die dood opgewek het. MAAR ...

• Is ek gereed? JA! Jesus ís mý volledige gereed wees.
• Is diegene naby aan my gereed? Vra hulle, maak seker, praat met mekaar oor Jesus, dit ís die belangrikste vraag om oor seker te maak.
• Hoe kan ek weet dat ek gereed is vir die dood? Die werking van die Heilige Gees maak my gereed.
• Wat gebeur na die dood? Elke Jesus-mens wat te sterwe kom, ís bý God! (UITROEPTEKEN, niks meer of niks minder nie).

Glo jý dit?

Doom Charl

Wednesday, June 12, 2013

Oordenking 16 Junie 2013

Oordenking 16 Junie 2013

Maak mooi, die Bruidegom kom!

“Die stad was gereed soos ‘n bruid wat haar man versier is.” (Openbaring 21:2b)

1. Let op, ons Here is altyd oral by en in jou!
2. Haal asem, die lewendmakende Gees vul jou om Lewe te wees in jou, én vir ander!
3. Maak mooi jouself, jy ís in ‘n nuut-wordende liefdeshouding met jou Koning!

Drie doen-dinge vir Jesus-mense om te verinnig in jou geloofsverhouding met God in jou.

Hoekom myself mooi maak? Want:
• Die Lam van God het sy lewe vir jóú gegee aan die kruis (Openbaring 5 en verskeie ander plekke);
• Jý wat glo in Hom, word én sal níe geoordeel word nie (die simboliese wraakbakke van Openbaring 16 word nie op jóú uitgegiet níe);
• Jý het die onbeskryflike groot voorreg om in ‘n volledig nuutgemaakte liefdesverhouding met God nou en vir altyd te lewe (“Kyk, Ek maak alles nuut.” Openbaring 21:5);
• God is alles en nog meer vir jóú (Openbaring 21:3-4);
• Jý ontvang God se oorvloed en rykdom sonder enige inspanning en slegs deur sy onverdiende guns (Openbaring 21:6-7);
• God ís reeds besig om met die goddeloosheid en goddeloses af te reken op die mees verdoemende wyse (Openbaring 21:8); én
• Die volheid van die Gees van God is in jóú (simbolies in Openbaring die “sewe Geeste van God”).

Hoe maak ek myself mooi?
• Gee 100% geleentheid vir die Gees van God ín jou om sý mooi-maak-werk te doen;
• Gee 100% jóú medewerking in sy mooi-maak-werk in jou; én
• Waardeer, geniet, bewonder ... God se heerlikheid in júl nuut-wordende liefdesverhouding.

Die Bruidegom kan enige sekonde kom, Jesus ís gereed om weer te kom ... is jý gereed?

Doom Charl

Wednesday, June 5, 2013

Oordenking 9 Junie 2013

Oordenking 9 Junie 2013

Haal asem, dis Lewe!

“... deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” (Handelinge 17:28a)

Let op! Elke Jesus-mens let op! Let op, die Ek-is-ware-lewende-God is 24 uur 7 dae in en by jou! Een van die doen-dinge vir ons as gelowiges, is om op te let dat dié “Ek is”, is in jou en by jou en voor jou en agter jou en onder jou en bo jou en weerskante van jou en rondom jou – ja, altyd oral is waar “jy is”!

Vir elke gesonde mens, is dit bedoel om sonder inspanning asem te haal. Om die waarheid te sê, ons haal die grootste deel van elke dag en nag asem sonder om daaraan te dink. Alle mense, Jesus-mense en nie-Jesus-mense, ontvang lewe en asem en alles van God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het. Asemhaal is nie bedoel om enige inspanning, plig of prestasie te wees nie. Asemhaal vind spontaan, outomaties en stilweg plaas, maar altyd met God se direkte en permanente vermoë. So word alle mense aan die lewe gehou deur die vermoë om asem te haal. Met uitblaas van die laaste lewensasem, tree die finale fisiese dood in.

Dit bring ons by die volgende doen-ding vir Jesus-mense, naamlik om asem te haal, nie net fisies nie, maar ook geestelik. Vir ons wat Jesus-mense is, is daar ‘n onontbeerlike gawe van Lewensasem: die asem van die Gees van God wat die ewigdurende lewe deur die opgestane Jesus is! Híérdie Lewe kom slegs in asemhalende mense deur bekering. Om die hoofletter Gees in te asem, is ‘n goddelike werking wat geen inspanning, plig of prestasie vra nie. Dis spontaan, outomaties en stilweg, want só en net só, werk God in Jesus-mense. En eers wanneer jy só asemhaal deur die hoofletter Lewe in jou, lewe jy werklik!

“asemhaal” is verseker ‘n werkwoord, in die Verklarende Woordeboek beskrywe as “die intrek en uitstoot van lug deur die longe”. So is dit ‘n doen-ding vir Jesus-mense. Kom ons oortree die reëls van Bybelverklaring en pas dit allegories toe: die “intrek van lug” is die soeke na God, om gedurig op te let na Hom in jou; en die “uitstoot van die lug” is die sigbaarmaking na buite van Hom in jou, dat ander mense Hom in jou kan sien.

Alles wat deur God van ‘n Jesus-mens verwag word om te doen, is alleen moontlik deur God se innerlike en innige werking van sy Gees in jou. En asemhaal is ‘n akkurate beskrywing van God se werk in jou en jou medewerking: trek die lewe-gewende Gees-asem diep in en blaas die lewens-veranderende Gees-asem uit.

Doom Charl