Thursday, June 25, 2015

Oordenking 28 Junie 2015


Leef om weg te gee

“Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.” (Matteus 10: 8b)

Ons het almal iets om weg te gee, iets wat ons verniet ontvang het. Ons het almal iets om weg te gee, iets wat iemand anders nodig het. Een van die bevredigendste groei-ontdekkings wat ‘n Gees-gedrewe diens-gerigte Jesus-mens kan maak, is dat dit baie lekkerder is om te gee as om te ontvang.

Jesus is in Matteus 10 besig om sy naby-volgelinge opdragte te gee vir ‘n lewe van gee. Kom ons fokus net op vier van hierdie riglyne vir ‘n “gee-lewe”:

 1.      Gee eers aandag aan jou eie mense: “Gaan liewer na die verlore skape van Israel toe.” (vers 6):

Vir ons sal dit beteken om eers te kyk wie is die mense naby aan ons. Dit kan jou eie gesin- of familielede, eie kerkmense, jou bure, jou werksmense of skoolmaats wees. Begin gee aan die mense naaste aan jou – hulle is die “WIE” om aan te gee.

2.      Gee aandag waar daar nood is: “Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit.” (vers 8):

“WAT” jy kan gee, gaan oor die nood van iemand naaste aan jou. Dit kan ‘n wye verskeidenheid van behoeftes wees: siekte, hartseer, gemoedsversteurings, verhoudingsprobleme, geldnood, werksomstandighede ... ja, noem maar op. Die geheim is om naby genoeg aan die iemand naby aan jou te kom, dat hy of sy jou kan vertrou en jy so presies weet wat daardie persoon se nood is. Gee dan iets van jouself vir die ander een – jou tyd, hulp, raad, teenwoordigheid, wysheid, liefde – dit hoef jou nie geld te kos nie.
 
3.      Gee om ook te kan ontvang: “Moenie vir goud ... in julle beursies sorg nie ...” (vers 9):

Daar is ‘n groot geheim in ‘n gee-lewe. Hoe meer jy net vir jouself opgaar en vir jouself leef, hoe minder lewensvreugde sal jy hê. Sonder dat enige een van ons dit kan verwag wanneer ons onvoorwaardelik gee waar daar nood is, ontvang ons meer terug as wat ons weggegee het. Baie keer kry ons op heeltemal ander maniere terug as wat ons weggegee het. Hierdie is die geheim van die “HOE” van gee.

4.      Gee met die regte gesindheid: “As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf die vredeswens vir die huis.” (vers 13):

Vir my as Jesus-mens, gee die Gees van God in my ‘n nuwe gesindheid wat vanuit my binneste kom. Ek gee nie om raakgesien te word of om erkenning daarvoor te kry nie. Ek gee selfloos suiwer in belang van die behoefte van iemand anders, dis “HOEKOM” ek gee.

Geniet jou lewe van gee – jy ontvang so baie verniet!

Thursday, June 18, 2015

Oordenking 21 Junie 2015


Leef gereed, anders ...

“Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.” (Matteus 25:10b)

Hoe gemotiveerd is jy om Gees-gedrewe diensbaar te wees? Hoe ernstig is jy om die Gees van God geleentheid te gee om sy liefde deur jóú ten toon stel? Hoeveel moeite doen jy om regtig iets baie spesifiek vir die Here te doen?

Onthou tog net die hele tyd, Hy bied sy ALLES vir jou en my: liefde, genade en vergifnis! Die vraag is: met hoeveel erns, toewyding en dringendheid reageer ons op sy ALLES?

Soms voel dit vir my so gebrekkig binne die kerk: die onderlinge liefdesgesindheid skiet ver tekort; daar is nie altyd enige haas om aan sekere belangrike sake aandag te gee nie; almal is nie ewe getrou in hulle verantwoordelikheid van bywoning en gee nie; sommige verdwyn net en ons hoor nooit weer van hulle nie; debatte en energie word op onbenullighede gemors.

In Jesus se gelykenis oor die tien meisies, wat hulle lampe vol olie moes maak vir die bruidegom se koms, gaan dit spesifiek oor ons elkeen se diensbaarheid binne die kerk. Ja, die verstandiges en onverstandiges is vandag binne in die kerk. Elke Sondag sit daar mense binne in die kerk wat verstandig of onverstandig is, gereed of nie gereed vir die bruidegom se koms.

Die GROOT waarskuwing: daar sal ‘n spesifieke moment wees, wat dit vir altyd te laat sal wees om gereed te maak, en niemand van ons weet wanneer dit gaan wees nie! Hier is die enigste antwoord, hoe om gereed te lewe vir daardie finale laaste moment: Ken God self persoonlik en maak baie seker dat Hy jou ken! Maak sy onvoorwaardelike liefde deur oorgawe aan sy Gees, verseker deel van jou hele lewe. Leef gereed soos ‘n verstandige deur jou talente, tyd en energie heelhartig in diens te stel van sy koninkrykswerk hier op aarde.

Waaruit bestaan ‘n lewe wat gereed en verstandig is?

·         Vertel vir ander van Jesus;

·         Wys deur jou lewe wat sy liefde is;

·         Gee jou tyd, geld en energie;

·         Gee vir die armes;

·         Versorg die siekes;

·         Vertroos diegene wat hartseer is;

·         Hef die sukkelaars op;

·         Vermaan die onverskilliges;

·         Praat moed in vir die moedeloses; en

·         Wees Jesus se hande en voete.

Leef vandag gereed deur ... (soos die Gees jou lei), môre kan vir altyd te laat wees!

Thursday, June 4, 2015

Oordenking 7 Junie 2015


Jou uitverkore plek in God se werk

“Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” (Efesiërs 4:16c)

 Ontdek jou gawes, lidmaatbemagtiging, betrokkenheid, inskakeling, meelewing, groei in getalle en geestelike diepte, geloofsgemeenskap, liefdesgemeenskap - almal uitdrukkings en woorde wat iets beskrywe van die kerk van Jesus Christus hier op aarde.

Ons het reeds die punt bereik dat niemand skuldig hoef te voel wat nie betrokke is nie; niemand hoef uit dwang of plig sy of haar deel te doen nie; oor geld wil ons glad nie met mekaar praat nie; niemand het ‘n belangriker verantwoordelikheid as ‘n ander nie; die speelveld in God se koninkryk is gelyk. Ek en jy het elkeen ons plekkie in God se span, en elkeen is ewe nodig en belangrik.

 Ons verskil van mekaar ten opsigte van persoonlikhede, talente, gawes van die Gees, spiritualiteit, omstandighede, en nog baie meer. Ons hoef ook nie van mekaar te hou nie, bedoelende ons kom van nature nie ewe goed met almal oor die weg nie. Daar is as gevolg verskillende redes, uiteenlopende standpunte oor dieselfde sake. Ons voel nie altyd ewe tuis in almal se geselskap nie. Daar is ‘n verstaanbare én onverklaarbare diversiteit tussen Jesus-mense.

 Om by Paulus se beeldspraak aan te sluit, daar is verskillende liggaamdele in die menslike liggaam wat radikaal van mekaar verskil, maar tog het elke liggaamsdeel die ander liggaamsdeel krities nodig. Een liggaamsdeel kan nie en hoef nie alle liggaamsfunksies te hanteer nie. Maar een liggaamsdeel wat nie sy of haar funksie verrig nie, het ‘n direkte en drastiese effek op ‘n spesifieke gedeelte of op die hele liggaam. Sekere liggaamsdele is onvervangbaar, maar nie onafhanklik van die minder belangrike liggaamsdele nie.

 Binne die liefdesband van Jesus-mense in elke geloofsgemeenskap of gemeente of kerk, geld hierdie onderskeiding en tegelyk spesialisering van funksies en take. Elke Jesus-mens se plek in God se werk is onvervangbaar en in baie opsigte interafhanklik. Eenvoudig gesê: God het ons verskillende gawes en persoonlikhede nodig om ‘n gesonde geheel te vorm. Tog is niemand vir Hom onmisbaar nie, Hy kan sonder my en jou regkom deur net ‘n ander plan te maak.

 Kom ons maak dit persoonlik: wat is jou spesifieke funksie in die opbou en uitbou van die kerk? Sit jy en wag om bedien te word, of is jy Gees-gedrewe diensbaar? Kan jy met eerlikheid sê dat jy vrywilliglik ‘n vertoonvenster van Jesus-liefde in elke moontlike situasie elke dag is? Die Gees van God wil só graag sy liefde deur jóú ten toon stel!