Thursday, March 17, 2016

Oordenking 20 Maart 2016

Jesus-mense hoor Sy hart aan die kruis
“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46)

Ons is nou in die laaste paar dae voordat ons die kruisiging van Jesus herdenk. Wat hoor ons vandag in Jesus se hart terwyl Hy aan die kruis was?

Daar is ‘n paar intense gedagtes wat ons kan raak hoor in die kruiswoorde van Jesus. Hy was verseker volledig mens, wat in sy pyn en lyding egte Godverlatenheid ervaar het, al is Hy steeds waarlik God. In Matteus en Markus kom net hierdie een kruiswoord van Jesus voor: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46; Markus 15:34) Hy het ook gewone fisiese dors ervaar toe Hy sê: “Ek is dors.” (Johannes 19: 28) In sy sterwensoomblikke toon Hy genade en liefde teenoor iemand soos ‘n misdadiger wat langs Hom aan ‘n kruis hang: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43) Hy is besorgd oor sy dierbares wat daar by die kruis teenwoordig is, wanneer Hy volgens Johannes vir sy ma sê: “Daar is u seun.”, en vir Johannes: “Daar is jou moeder.” (Johannes 19: 26 en 27). Sy volledige Een-wees met sy Vader, kom duidelik na vore in: “Vader in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23: 46) Die volmaakte voltooiing van sy verlossingswerk aan die kruis, hoor ons in: “Dit is volbring!” (Johannes 19: 30)

Ons Jesus aan die kruis beteken dus vandag:
o   Ons Jesus is God én mens, en DAAROM is Hy die énigste Verlosser ooit! Daar sal nooit weer ‘n ander Verlosser nodig wees nie. Hy is finaal vir altyd volledig vir almal wat in Hom glo, die ewige Redder en Bewerker van lewe tot in die oneindigheid! 

o   Ons Jesus verstaan elke mens se pyn en lyding. Enige vorm van menslike nood en krisis ken Hy, Hy was en is híér! Dit maak nie saak wat jou swaarkry is nie, Hy het ware omgee-meelewing-begrip-empatie-simpatie. Hy wil in jou seer met jou wees, al gaan dit nie noodwendig weg nie.

o   Ons Jesus se genade en liefde is tydloos vir elke mens op aarde bedoel. Juis omdat genade en liefde deel is van die wese van God, is dit in elke nuwe tydvak van die geskiedenis, onveranderlik vir elke mens op aarde beskikbaar. Tog leef so baie mense sonder die liefde en genade van God.

o   Ons Jesus is besig om sy verlossingswerk op aarde deur ons te voltooi. Elke Jesus-mens is deel van God se plan met hierdie wêreld. Hy ís besig, nou, vandag, in en deur jou en my met sý koninkrykswerk!

Thursday, March 10, 2016

Oordenking 13 Maart 2016

Jesus-mense staan bymekaar in tye van nood
“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26: 39)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer oor die lewe vandag. In ons Christelike kerkjaar, is ons nou midde die lydenstyd en wil ‘n paar tree saam met Jesus loop toe Hy baie swaar gely het ter wille van ons.

Jesus bid een van die mees intense gebede van alle tye daar in die tuin van Getsemane. Drie keer bid Hy dieselfde woorde (soos in Matteus 26:39). ‘n Seun praat baie ernstig met sy Pa. Omdat Hy self waarlik God is, het Hy geweet wat op Hom wag. Maar juis omdat Hy ook waarlik mens is, het Hy nie werklik kans gesien vir die pyn en lyding nie. Ons is baie bevoorreg, ons ken die uiteinde van wat gebeur het. Hy het enduit die lydensweg geloop, ja, totdat Hy sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het.

Dit is juis in sy egte menslikheid dat Hy sy vriende nodig gehad het in sy uur van nood. Dit was nie vir Hom enigsins makliker omdat Hy tegelyk ook God is nie. Maar dit is in die nag, die dag was lank en uitputtend. Sy nabyvriende raak aan die slaap, toe Hy eintlik wou hê dat hulle saam met Hom wakker moes wees. Soos Hy self sê: “Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” (Matteus 26:41)

Kom ons maak die sprong vanaf Jesus se tyd op aarde na vandag. Die intensiteit van Jesus se lyding sal ons nooit kan begryp nie. Tog kan ons by Hom leer: Hy bid baie ernstig toe Hy as mens nie kans sien vir die pyn wat sou kom nie. En ons leer iets van hoe ons mekaar nodig het in tye van nood.

Ons wat iets begryp van Jesus se intense lyding destyds, kyk met ander oë na mekaar en na ander. Mense se pyn, word ons pyn, dit kruip onder ons velle in. Ons kan ons nie blind hou as ander seer het nie. En dan praat ons van enige vorm van seer: siekte, hartseer, gebroke verhoudings, fisiese omstandighede, en vele meer. Nie een van ons kan sê dat ons self nooit ander gaan nodig hê wanneer seerkry op ons pad kom nie. Eenvoudig beteken dit: ons hét mekaar nodig, én ander het óns nodig in tye van nood!

Thursday, March 3, 2016

Oordenking 6 Maart 2016

Jesus-mense hou vas aan die Waarheid alleen
“Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22: 29)

Ons is besig om by Jesus self te leer oor die lewe vandag. Ons fokus op nog van sy wyshede.

In Matteus 22 probeer ‘n groep van die destydse godsdienstige leiers, die Sadduseërs, Hom vastrek met ‘n strikvraag. Hierdie groep het nie geglo in die lewe na die dood nie, omdat hulle nie bewyse daarvoor kon kry in die eerste vyf boeke van die Ou Testament nie. In daardie tyd was dit uiters belangrik dat ‘n man se naam voortgesit word deur ‘n seun-erfgenaam. Die voorskrif was dat, as ‘n man sterf sonder enige seun, moet die weduwee trou met die volgende broer van die oorledene. En so moes dit aangaan totdat die oudste broer uiteindelik ‘n nageslag het. Nou probeer hierdie Sadduseërs Jesus vasvra oor wie gaan met wie getroud wees in die hemel indien een vrou met meer mans getroud was.

Dan kom Jesus se verrassende antwoord. Hy gee ‘n antwoord oor die lewe vandag en NIE oor die detail van huwelike in die hemel nie. Dit sou gevaarlik wees om te veel te lees in sy woorde: “Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos engele in die hemel.” (Matteus 22:30) Sy antwoord gaan oor kennis van die Bybel en oor kennis van God. Kom ek pas hierdie antwoord van Jesus toe op vandag.

Daar is vandag, soos destyds, baie strikvrae wat in die kerk gevra word. Dan gebeur daar nog slegte dinge in Jesus-mense se lewens, wat net nie sin maak nie. Binne die kerk is daar ook verwarrende ervaringe deurdat alles nie altyd seepglad verloop nie. In ons land en wêreldwyd is daar groot vraagstukke wat onopgelos bly. Hierdie uiteenlopende ervaringe en onbeantwoorde vrae, maak Jesus se antwoord belangrik.

Wanneer jy nie antwoorde op vandag se vrae het nie, neem jou toevlug na die waarhede in die Bybel en fokus op wie God self is. Elke onbeantwoorde vraag en elke onopgeloste krisis, bied geleentheid om by Hom uit te kom. Ons God is vandag lewend teenwoordig, soos nog altyd. Nog nooit het Hy en nooit sal Hy, sy eie verloste kinders in die steek laat nie – Hy kan nie! Leef Hom raak binne die verwarring wat daar vandag is.