Friday, July 31, 2015

Oordenking 2 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 2: Gelukkig as jy treur

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5: 4)

Hoe vreemd klink dit nie om gelukkig te wees wanneer jy eintlik hartseer is nie?

Ja, en daar is so baie redes vir baie trane stort: die dood van iemand naby aan jou; ‘n liefdesverhouding wat verbreek word; fisiese pyn tydens ongelukke, swak gesondheid of operasies; iets van sentimentele waarde wat ons verloor. Enige iemand naby aan ons of enige iets baie kosbaar vir ons, kan baie trane veroorsaak. Tog gaan hierdie tweede saligspreking nie werklik oor ons gewone hartseer in ons daaglikse lewe nie, dit gaan oor ‘n baie dieper saak: God se hartseer!

Waaroor treur Hy en watter troos is hier van sprake dat dit iets met geluk te doen het?

Eerstens treur Hy oor elke Jesus-mens se traagheid om Hom toe te laat om sy/haar ALLES te wees. En omdat geheim een vir geluk gegaan het oor ons totale oorgawe aan Hom alleen as enigste fondament vir ware geluk, beleef ons iets van sy hartseer oor ons eie geestelike traagheid. Dit is nie langer ons sonde waaroor ons treur nie, daarvoor is ons reeds volledig deur Jesus se kruisdood vergewe. Ons het elkeen nodig om saam met Hom te treur oor ons eie selfsugtige gebrek aan geloofsdissiplines. Treur oor jou besige of nuttelose lewe wat nie genoeg tyd maak om stil te raak by Hom nie. Treur oor jou oppervlakkige soeke na meer van Hom in en deur jou ... MAAR laat dan die Gees toe dat jy vrywillig en spontaan ALLEEN by Hom troos vind vir hiérdie hartseer, daarin ALLEEN is ware geluk te vind.

Tweedens treur ons dan saam met Hom oor die verlorenheid van en gebrokenheid in ons daaglikse leefwêreld. Al die pyn, seer, haat, plesiersug, selfsug, magsug en ander stukkendheid van hierdie lewe, kan nie anders as om onder ‘n Jesus-mens se vel in te kruip nie. Hoe nader en dieper ons groei in Hom in ons, hoe meer word sy hartklop oor hierdie stukkende wêreld ook ons hartseer. MAAR dan kom sy Gees so aktief werksaam in ons, dat ons sy ware troos uitdra en uitleef daar waar Hy dit die nodigste vind. Ware geluk vir Jesus-kinders is ALLEEN te vind in die troos en Troos wat ons aan ons stukkende wêreld gee.

Jesus-mense is aktief besig om vertroosting te bring vir ander en God se skepping deur byvoorbeeld te luister na ander se seer, lyding te verlig waar jy kan, brood te gee waar nodig, siekes by te staan, bewaring van ons aarde se hulpbronne – die lysie van vertroosting wat ware geluk vir ander bring, is oneindig – besluit om aan te meld vir geluk in jóú lewe!

Thursday, July 23, 2015

Oordenking 26 Julie 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 1: Gelukkig in nederige afhanklikheid

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Matteus 5: 3)

Elkeen van ons soek op een of ander manier na geluk ... maar voel daar kort iets.

Jesus klim op die berg en kom leer ook vir ons vandag ‘n paar Goddelike geheime vir ware geluk. Kom ons gaan sit by Hom in die volgende klompie weke en leer om Jesus-waarhede oor geluk raak te leef.

Ongelukkig kan ek nie anders as om net kortliks te noem van die verkeerde maniere om na geluk te soek nie: moet nie geluk in die genot van die goddelose wêreld se pret en plesier soek nie; geld gee nie blywende geluk nie; moenie daarna streef om geseën te word net ter wille van jouself en jou eie behoeftes nie; wees gewaarsku teen die teleurstelling wat mense en tydelike goed hier op aarde aan jou belowe; daar is geen waarborg vir ewige seëninge tydens jou aardse lewe nie.

Die kern van ware seën en opregte geluk, is slegs in God self te vind. En wat met God te doen het tydens ons aardse lewe, het alles te doen met sy koninkryk. En sy koninkryk is reeds hierdie kant van die graf ‘n leefbare werklikheid vir elkeen wat in ‘n lewende verhouding met Hom lewe. En ‘n lewende verhouding met Hom beteken, my hele aardse (en hemelse) bestaan het ALLES met Hom te make. En sy ALLES in my, beteken my enigste geluk is in Hom te vind, in belang van wat Hy deur my in ander wil bereik.

Geluk opgesom: God leef binne-in my, in belang van wat Hy in ánder wil bereik!

Hoe word hierdie Jesus-geheim vir geluk deel van my lewe? Hy gee vir my maniere om te ontdek hoe ek dit met doelbewuste vrywillige keuses voortdurend kan maak. Opregte geluk en innerlike blydskap, val nie in my skoot nie, dit word ‘n lewenswyse waarin ek leer om te groei. Met ‘n Gees-beheerde lewe in werklike neerbuigende toewyding, ontdek ek maniere om meer weg van myself, bewus van Hom in my, gedring deur sy liefde, my daaglikse lewe meer en meer vol te maak met aktiwiteite wat sy koninkryk en sy eer dien.