Wednesday, December 2, 2015

Oordenking 6 Desember 2015

Tyd om te fokus op die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit

“Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword.” (Psalm 2: 7b)

Psalm 2 is een van die dele uit die Ou Testament wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. Hierdie Psalm wys dat die beloftes van die Ou Testament waar geword het. Daarom wys dit dan ook spesifiek vir ons op die Jode se messiaanse verwagting. Wie is die Messias wat die Jode verwag het? En terwyl ons dan vas glo, dat ons Jesus wel die Messias is, wat deur die Jode verwag word, is Hy vandag steeds die Een van wie ons leer in Psalm 2.

Hierdie Psalm het een groot doel en dit is om te wys dat God die Here is en dat Hy so raakgesien moet word. God is die belangrikste. Die groot woord wat dit mooi beskrywe, is teosentries. Hier gaan dit dus nie vandag oor die huidige regerings en owerhede met hulle vyande nie, dit gaan veel eerder oor God en sy vyande.

Om teen God in opstand te kom, is die grootste dwaasheid en domste ding om te doen. Vandag kan hierdie opstand verskillende vorme aanneem. Dit kan die openlike vyande van die kerk van Jesus wees. In ons persoonlik lewe kan dit ons geneigdheid wees om onsself, die eie-ek, bo God te stel en in die proses te weier om sy gesag in ons lewe te aanvaar.

Die Here is die Oppermagtige God. Hy heers oor alle lewensterreine. Die wêreld is deurmekaar en onstabiel en verward, maar Hy is steeds die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit. Sy heerskappy oor al die eeue, sal nooit kan wankel of omvergewerp word nie.

Vandag nog is die hele bekende wêreld met al die mense daarin, die ruimte waar sy koninkryk is. Hier gebruik Hy steeds mense as sy gevolmagtigdes om in sy krag en namens Hom op te tree. Elkeen van ons as Jesus-mense, wat vrygekoop is deur die bloed van Jesus Christus, tree daagliks met gesag op. Elkeen van ons is geroep om met selfvertroue sy koninkryk hier op aarde te bevorder – ons kan dit doen omdat Hy is Wie Hy is!

In die lig van Psalm 2 word ons opgeroep om die onverskillige wêreld waarin ons is, tot verantwoording teenoor Hom op te roep. Die mens-sonder-Hom moet hoor die opstand teenoor Hom beteken vernietiging. Deur Hom te aanbid, beteken veiligheid. Tog het hierdie waarhede steeds nie volledig waar geword nie. Weereens moet ons daaraan vashou, eendag op die nuwe aarde, sal daar werklike sterkte, sekuriteit en stabiliteit wees.