Wednesday, October 30, 2013

Oordenking 3 November 2013

Leer ken ons vry God

“Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” (Romeine 11:35)

Jesus-mense is eintlik voltyds besig om God beter te leer ken, al dink ons nie aldag heeldag daaraan nie. Deur goete wat in ons elkeen se lewe gebeur, mense wat ons paaie kruis, alles wat ons hoor en lees, en sommer die hele kaboedel (ja, daar is so ‘n woord wat sommer na alles verwys), kan ons klein bietjie beter met God self te doen kry. Vandag wil ek fokus op ‘n baie diep, maar belangrike kant van ons God: sy vrymag! Kom ek verduidelik so eenvoudig moontlik:

Ek is weer terug by ‘n baie ou redenasie van my oor ons elkeen se prentjie in ons koppe van wie God werklik is. Ons het elkeen 100% ons eie unieke ervaringe in die lewe wat ons elkeen uniek maak. En so word daar in ons elkeen ‘n 100% unieke prentjie gevorm van wie God is. Nie twee mense op aarde dink presies dieselfde oor God nie. Tog kan elke individuele Jesus-mens met oortuiging sê dat ons dink aan presies dieselfde God, net die een ware en lewende God, wat Homself in Jesus Christus aan ons kom openbaar het. Maar ons dink verskillend oor Hom en loop ‘n unieke pad deur die lewe saam met Hom en so verwag ons elkeen verskillende goete van Hom. Ons het elkeen ons eie unieke behoefte aan wie God vir ons moet wees.

En hier is my punt oor God se vrymag: niemand van ons kan aan Hom voorskryf wie Hy vir ons moet wees nie. Ongelukkig is ons daartoe geneig. Ons “ontwerp” ons eie godjie (met respek) volgens ons eie unieke behoeftes en raak baie veeleisend teenoor Hom (praat ek dalk nou net vir myself, dan is ek jammer). Elkeen beleef sy krisis of probleem of situasie as so groot en ernstig, dat ons graag al God se aandag en hulp net vir onsself volgens ons eie-uitgedinkte-goed-deurdagte planne wil hê.

God werk nie so nie, Hy is nie so nie. Omdat Hy is Wie Hy is, is Hy onvoorspelbaar en nie-voorskriftelik in hoe Hy dinge doen. Sy planne en besluite kan nie altyd verstaan of verklaar word nie. Hy is ook glad nie verplig om iets vir enige een van ons te doen nie. Met respek, Hy volg sy eie kop. Maar dit is dan juis so fantasties van Hom:

God ken jou unieke “jy” 100% met jou 100% unieke behoeftes. Op sy tyd (waarvan Hy baie het, voel dit soms) en sy manier (wat nie altyd verstaan word nie), is Hy 100% vry om vir jou as Jesus-mens te wees wat vir jou 100% die beste is. Laat Hom juis vry om vir jou te wees!

Doom Charl

Wednesday, October 16, 2013

Oordenking 20 Oktober 2013


Hooftema: Hoe lees ek my Bybel?
Tema 3: Praktiese Bybellees

“En hierdie woord is die boodskap van die geloof...” (Romeine 10: 8b)

Die Bybel gee vir elke Jesus-mens die geleentheid om God “raak te lees” en so vir Hom beter te leer ken in jou eie lewe. Kom ek gee ‘n bietjie praktiese raad oor Bybellees:

• Die heel belangrikste is om die Bybel te lees met die verwagting dat die Heilige Gees wat in jou as Jesus-mens is, jou sal help om reg te verstaan wat jy lees. Dieselfde Gees wat die Bybelskrywers geïnspireer het, wil jou baie graag help om God se stem in jou lewe te hoor. En dit kan net gebeur as jy vir Hom kans gee om met jou innerlik te praat (slegs in hoë uitsondering hoorbaar) deur die Bybel te lees.

• Daar is verskillende literatuursoorte in die Bybel wat verskillend gelees moet word. Daar is geskiedenis (soos onder andere die konings van Israel in 1 en 2 Konings), daar is wysheidsliteratuur (soos Job, Spreuke en Prediker), daar is poësie (in sommige Psalms), die evangelies (Matteus tot Johannes), en vele ander soorte. Hierdie literatuursoorte help ons verstaan dat sommige dele in die Bybel is tydloos en geld nog net so vandag (soos ons vind in die wysheidsliteratuur). Dan is daar weer geskiedkundige dele wat net in die Bybelse tyd gegeld het wat ons nie net so op vandag kan toepas nie.

• ‘n Baie belangrike hulpmiddel wat ons graag gebruik om die Bybel beter te verstaan, is dat jy een deel van die Bybel kan gebruik om ‘n ander deel beter te verstaan. Moeiliker dele in die Bybel kan deur makliker dele in die Bybel verklaar word.

• Dan gee ek baie graag met goeie oortuiging die raad dat ons met groot vrymoedigheid veral die evangeliese en makliker dele van die Bybel meer gereeld en meer intensief lees. Vir al die verskillende gemoedstemmings is daar ‘n Psalm om te lees, ontdek dit net. Leer self die goeie nuus wat Jesus is ken deur die Evangelie volgens Johannes deeglik en stadig deur te werk/lees. Die hele verlossingsboodskap vind ons in Romeine – lees dit op so ‘n manier dat jy dit vir jouself toe-eien. Ek het selfs onlangs sover gegaan om vir iemand aan te moedig om net Romeine 8 oor en oor en oor te lees totdat hy deeglik die inhoud verstaan, maar veel belangriker die inhoud van Romeine 8 in die geloof sy eie maak.

• Die Bybel is nie gelykstaande aan God self nie en bestaan nie uit God se letterlike woorde nie. Dit is ‘n versameling van kosbare getuienis oor God deur Gees-geïnspireerde gelowiges.

Doom Charl

Thursday, October 10, 2013

Oordenking 13 Oktober 2013

Hooftema: Hoe lees ek my Bybel?
Tema 2: Waaroor gaan die Bybel?
“So sal God alles wees vir alles.” (1 Korintiërs 15:28c)

Op ‘n dag vra die professor vir ons in die klas wat is die heel laaste versie in die Bybel, bedoelende watter versie beskrywe die beste waarheen alles in hierdie wêreld oppad is. Onnodig om te sê dat ons almal verkeerd geraai het. Volgens hom is alles oppad na dit wat Paulus hierbo in Korintiërs sê: “God sal alles vir almal wees.”

Nou kan julle vra, maar wat het dit nou met die inhoud van die Bybel te doen. Dan antwoord ek eenvoudig: ALLES! Alles in die Bybel, nou ja, amper alles (die menslike sondige deel uitgesluit) in die Bybel het met God te doen. Hy is die Hoofouteur, die Hooftema, die Hoofkarakter, die Hoofboodskap, die Hoofinhoud ... God, die Hoofalles!!!

Kom ek verduidelik eenvoudig: Hy is die Begin van alles (skepping); Hy is die Redding van almal (Noag, uittog, konings, Messias, Jesus); Hy is die Vergewer van almal (kruis); Hy is die Lewe vir almal wat glo in Hom (opstanding); Hy is die Heiligmaker (Heilige Gees); Hy is die verlede, hede en toekoms ... Hoe weet ons dit alles? Ons lees dit in die Bybel.

Maar net so belangrik, is dit wat NIE in die Bybel geskrywe is NIE: die wetenskaplike verklaring van hoe alles begin het; waarom die mens kies om sonde te doen; hoekom almal nie gered word nie; ‘n presiese omskrywing van God; ‘n fisiese beskrywing van die lewe na die dood; ... en nog baie ander moeilike vrae word nie in die Bybel geantwoord nie.

Wat behoort ek dan “raak te lees” in die Bybel? Wie God in die lewe van die mense in die Bybel is. Hoe Hy genadiglik optree teenoor die ongehoorsames oor al die eeue. Hoe Hy in die lewe van Jesus op aarde kom sigbaar wys het, hoe Hy die graagste teenoor mense optree. Hoe Hy eerder ons wil vry maak as wat Hy ons wil belas met onuitvoerbare wette. Hoe Hy ons lewe wil vul met vrede, vreugde en oorvloed deur sy Gees in ons. En nog baie meer.

As hierdie “inhoude van die Bybel” nie vir jou rede gee om meer gereeld en meer intensief Bybel te lees nie, is jy besig om “geestelik arm” te lewe. Bybellees behoort nie vir jou moeite te wees nie, dit is nie bedoel om soos opoffering te voel nie. Bybellees verryk jou Jesus-mens-wees op ‘n ontspanne en spontane manier.

Lekker lees oor ... (toemaar, met die regte ingesteldheid, sal jy weet).

Doom Charl

Thursday, October 3, 2013

Oordenking 6 Oktober 2013

Kortreeks: Hoe lees ek my Bybel?

Tema 1: Hoekom so baie vertalings?

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer ...” (2 Timotues 3:16a)

Kom ons kyk baie kortliks waar kom die Bybel vandaan: Die Bybel is deur gewone mense soos ek en jy geskrywe. Eintlik aanvanklik vir baie jare slegs mondelings deur gewone mense van een geslag aan ‘n volgende geslag oorvertel. Na ‘n baie ingewikkelde proses van opskrifstelling, eers die Ou Testament in Hebreeus en Aramees en Nuwe Testament in Grieks, is net so ‘n moeilike proses van sifting gevolg. Met die sogenaamde kanonisering is oor baie jare bepaal watter geskrifte is in en watter is uit. Daarmee was daar ook nie volledige eenstemmigheid nie, soveel so dat daar steeds ‘n byvoegsel van Apokriewe boeke by die Bybel is. Maar hier is die sleutel: hierdie uitgerekte en ingewikkelde proses wat oor baie jare deur ‘n groot getal gewone mense gevolg is, was onder leiding van dieselfde Heilige Gees wat ons nog vandag help om die Bybel te kan verstaan.

Nou vir die vraag oor die baie vertalings: Vir baie mense is dit ‘n groot ontnugtering om te hoor dat ons vir baie baie lank nie meer die oorspronklike brief het wat Paulus vir die gemeente in Rome geskrywe (gedikteer) het nie. Ons het verskeie handgeskrewe afskrifte wat van mekaar verskil en deur die wetenskape tegniek van skrifkritiek, word die beste weergawe van die oorspronklike bepaal (hierdie beginsel geld vir die hele Bybel). ‘n Eenvoudige voorbeeld is dat een afskrif lees “Jesus Christus”, ‘n ander afskrif “Christus Jesus” en ‘n derde afskrif lees “Here Jesus Christus”. Watter een was die oorspronklike? Ons weet in baie gevalle nie, in hierdie geval maak dit nie ‘n groot verskil aan die betekenis nie. Vir meer ingewikkelde gevalle, raak dit ongelukkig die betekenis.

Dan is daar die baie moeilike wetenskap van vertaling vanaf een taal na ‘n ander taal. Hier is die semantiek (die leer van die betekenis van taaluitinge) ‘n voortgaande proses waarin nuwe ontdekkings gemaak word ten opsigte van die “oorspronklike” betekenis van ‘n woord of kombinasie van woorde. So kan die woord “μονογενής” in Johannes 3:16 vertaal word met “enigste”, “unieke”, of “enig in sy soort”. En juis hierin word baie navorsing deur taalkundiges gedoen om die heel beste vertaling vir ons te gee.

Saamgevat: die Gees van God het oorspronklik die vertellers en skrywers gelei, en gedurende die proses van samestelling het dieselfde Gees voortgegaan om te bly werk, en tot vandag toe word die Skrif deur God geïnspireer, ook in ons elkeen se lees van die Bybel.

Doom Charl