Wednesday, July 31, 2013

Oordenking 4 Augustus 2013

Oordenking 4 Augustus 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 3: Die sleutel tot ‘n rein lewe

“As jou regterhand jou laat struikel, kap hom af ...” (Matteus 5:30a)

100% van God afhanklik sodat jy 100% toegewy aan Hom kan lewe – die eerste twee sleutels vir ‘n radikale lewe as Jesus-mens. Maar wat dan nou van die sonde waarmee ek so erg sukkel?

Daar is so baie sondes, hoor net wat haat die Here alles: “... oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.” (Spreuke 6:17 tot 19). En dan nog al die wette wat in die Bybel vir ons die sonde deeglik uitspel. En Paulus wat sê hoe alle mense van nature is: “Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig.” (Romeine 1:29 tot 31)

Dis mos maklik: bly net weg van die sonde, breek met die sonde, draai jou rug op die sonde, moenie toegee aan versoekings nie, doen net wat reg is, leef ‘n rein lewe ...

NEE! NEE! NEE! 1000 maal NEE!

As ek en jy sélf van die sonde kon wegbly, sélf met die sonde kon breek, sélf ons rug op die sonde kon draai, sélf nie toegegee het aan versoekings nie, sélf doen wat reg is, sélf rein kon lewe ... dan het Jesus onnodig vir my en vir jou aan die kruis gesterwe! “As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.” (Galasiërs 2:21b)

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Hierdie is die antwoord tot ‘n radikale Jesus-mens-lewe. My gees en God se Gees werk saam aan my reinheid en gehoorsaamheid. Soos wat die Gees God se wet op my hart skrywe, gee ek spesifiek my spontane samewerking. So min mense hoor dit of verstaan dit. Solank my Jesus-lewe van my eie inspanning en eie pogings afhanklik is, sal ek ‘n mislukking voel en wees.

Só werk dit: ek is sondig, ek hoor die goeie nuus van Jesus, sy Gees praat met my hart, Hy werk herskeppend in my sondige hart, Hy vernuwe en reinig my van binne, Hy maak my aan Hom gehoorsaam met my gewillige samewerking, ek word al hoe meer Wie Hy in my is – dit is alles net God se onverdiende guns aan my!

Die sleutel tot ‘n rein lewe is 100% in God se Gees se hand en ek gee 100% my samewerking – Hy alleen laat jou rein lewe soos Hy wil en alleen kán, maar jy wíl rein lewe! Allegories toegepas op ons fokusteks: as jou eie pogings jou laat struikel, laat kap dit af!

Doom Charl

Thursday, July 25, 2013

Oordenking 28 Julie 2013

Oordenking 28 Julie 2013

Hooftema: Jesus sê wat?

Sleutel 2: Die sleutel tot verbintenis

“Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” (Lukas 9:62)

‘n Gelukkige lewe is alleen moontlik deur in totale afhanklikheid van God te lewe, dit was ons eerste sleutel tot ‘n Jesus-mens-lewe. Die tweede sleutel vra jóú 100%. Bedoelende as jy God 100% nodig het om gelukkig te wees, vra Hy 100% van jóú!

‘n Jesus-lewe vra alles, maar gee ook alles. Jy kan nie vir Jesus halfhartig volg en dien nie. Jy kan nie ‘n agterdeur oop hou om nog in die wêreld soos die wêreld te lewe nie. God laat nie met Hom onderhandel dat jy die beste van twee wêrelde kan probeer geniet nie. Jy kan nie met een voet in die koninkryk van God staan en met die ander voet vastrap in die vernietigende genot van die goddelose wêreld nie. Jy kan ook nie voorgee dat jy finaal en volledig gekies het vir ‘n Jesus-lewe, maar eintlik is jou hart nie daarin nie. Jy kan nie “probeer om reg te lewe” nie, jy gaan dit nie regkry nie. Self “probeer” sonder God, is dieselfde as om terug te verlang na ‘n lewe sonder Jesus.

In ons teksvers in Lukas 9 is Jesus aan die woord oor die verskonings wat daar kan wees om Hom nie onmiddellik en volledig te volg nie. Jakkalse en voëls het blyplekke, maar Jesus self het nie op aarde ‘n vaste blyplek nie – want so kan Hy 100% gee. Die tweede verskoning klink so geldig, die persoon wil eers sy pa gaan begrawe – om Jesus te verkondig is selfs belangriker as hierdie familie-verantwoordelikheid. Die eise wat Jesus stel is meer bindend en strenger as enige familiebande, Hy duld geen halfhartige navolging nie. Iemand terugkyk terwyl hy ploeg, doen dit skeef en oneffektief – elke kerkmens wat terugverlang na die lewe sonder Jesus, is nog nie ‘n Jesus-mens nie!

Jesus vra ‘n 100% oorgawe aan Hom, Hy vra jou heel beste, Hy vra dit onmiddellik ...

... dit beteken: HY GEE ALLES VIR JOU sodat:
• Jy Hom 100% sal volg;
• Jy jou beste vir Hom sal doen;
• Jy jou beste vir Hom sal gee;
• Jy jou hele lewe aan Hom sal wy;
• Jy Hom bo alles sal lief hê;
• Jy Hom 24 uur per dag en 7 dae van die week sal dien; en
• Jy die heel meeste uitsien om Hóm in die hemel te sien!

Doom Charl

Wednesday, July 17, 2013

Oordenking 21 Julie 2013

Oordenking 21 Julie 2013

Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 1: Die sleutel tot arm-van-gees wees

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is ...” (Matteus 5:3a)

Vir die volgende nege weke gaan ons nege sleutels ontvang om ‘n lewe oop te sluit waartoe slegs die Gees van God Jesus-mense in staat stel. In nege uitsprake van Jesus gaan ons die geheim van ‘n betekenisvolle lewe en liefde-gevulde verhoudinge ontsluit. Wees egter voorbereid dat ons nie altyd gaan hoor wat ons die graagste wil hoor nie, dit is nie maklik om Jesus te volg nie!

Letterlik sê Jesus in die sogenaamde saligsprekinge “gelukkig is die armes in die gees want hulle is die koninkryk van die hemele” (Matteus 5:3). Die direkte vertaling hiervan is: “gelukkig is dié wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is hulle s’n”. Om Jesus te volg, om ‘n Jesus-mens te wees, om Gees-vervuld te lewe, is om deeglik te weet dat net God kan jou daarmee help. Jesus-mense is letterlik 100% uitgelewer aan God én natuurlik het dit direkte invloed op jou daaglikse lewenswyse. Jou gelukkig-wees in die lewe word dus alleen deur God bepaal.

Ongelukkig hoor ons die teenoorgestelde by die goddelose wêreld wat sonder God probeer lewe. Daar hoor ons iemand met ‘n goeie selfbeeld tree met selfvertroue op. Jý moet jouself laat geld. Baklei vir jou plekkie in die son waarop jý geregtig is. Trap op ander, anders gaan daar op jou getrap word. Diegene wat bo uitkom, is dié wat sterker, slimmer, mooier, ryker, skelmer is. Ons lewe in ‘n prestasie gedrewe samelewing. Jy en jou werk word gemeet aan kritiese prestasie-areas.

Die sleutel tot afhanklikheid van God sluit egter ‘n nuwe wêreld en ‘n nuwe lewenswyse oop. Waar jy die Heilige Gees die volledige geleentheid gee om ‘n nuwe gesindheid in jou te bewerk, begin jy eers werklik lewe. Juis omdat jy jouself al hoe meer oorgee aan Hom, beweeg jy dan in die kragveld van Gees. En daar kan geen beter plek in die lewe wees as juis dáár nie. Waar Hy oorneem in jou lewe, maak Hy van jou wat Hy wil hê jy moet wees. Soos wat Hy die ekkigheid in jou laat sterwe, staan die “nuwe jy” op, dan lewe jy eers werklik.

Een manier om hierdie wordende “nuwe jy” te beskrywe, is dat hoogmoed word vervang met nederigheid. En die nederigheid behels dat jy met Jesus se gesag in jou, jou plek in sy koninkryk volwaardig inneem. Jý word bemagtig, jý word toegerus, jý word geliefd, jý word bewonder, jý word opgeneem in God se plan en in sy span, jý ervaar vrede en blydskap ... jy lewe betekenisvol, want jy lewe God-vervuld!

God sluit die ware lewe vir jóú met sleutel EEN oop ...

Doom Charl

Wednesday, July 10, 2013

Oordenking 14 Julie 2013

Oordenking 14 Julie 2013

Om te loop op die goue strate ...

“Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos ‘n spieël.” (Openbaring 21:21c)

Wat is ons elkeen se eindpunt in die lewe, waarheen is ons as Jesus-mense oppad, hoe gaan dit in die hemel wees? Wie was al daar en kon aarde toe kom om vir ons te vertel hoe die hemel is? SLEGS Jesus, die enigste Seun van God, kan sê hoe dit by God in die hemel is, NIEMAND anders nie!

Maar beskryf die beeld van die nuwe Jerusalem in Openbaring nie vir ons hoe dit in die hemel lyk nie? Het Johannes nie op die eiland Patmos ‘n visioen ontvang hoe die hemel lyk nie? NEE, in simboliese taal word die beeld van die nuwe Jerusalem gebruik om die volmaakte verhouding tussen Jesus en elke Jesus-mens te beskrywe. Elke stukkie detail van die beeld van die nuwe Jerusalem, verwys na die uitsonderlike kwaliteite en kenmerke van die nuut-wordende verhouding tussen Jesus en elke Jesus-mens. Dit beskrywing van die nuwe Jerusalem is geensins bedoel om letterlik verstaan te word as ‘n fisiese beskrywing van hoe dit in die hemel lyk nie.

Die grootste kenner in ons land op Johannes se geskrifte, wat Openbaring insluit, is Jan du Rand. Hy skrywe onder andere oor die nuwe Jerusalem (in Die A-Z van Openbaring, 2007): “God is reeds deur sy Gees volledig by en in ons. Dit is voldoende om te weet dat ons volmaak by God sal wees; daarom raak vrae oor hoe ons liggaam sal lyk, vir wie ons sal ken of hoe ons sal optree geheel en al relatief en onbelangrik. Die hoofstraat is van suiwer goud en blink soos ‘n spieël om God se heerlikheid te weerkaats. ... om die onuitspreeklike heerlikheid van God in mensewoorde te giet.”

“Die nuwe Jerusalem verteenwoordig die vokome verhouding tussen God en mens. Die mens betree hierdie nuwe verhouding alleen deur die geloof in Christus se verdienste aan die kruis. Dit is juis binne hierdie progressief-ontwikkelende verhouding dat die gelowiges in uiters moeilike omstandighede kan oorleef. Die motivering waarom dit moontlik is, is slegs in God geleë. Hy begin hierdie nuwe verhouding in Christus met die mens, Hy ontplooi dit in die tyd en voltooi dit aan die einde van die tyd.” (aangehaal uit my BD-skripsie, 1988).

Elke Jesus-mens woon reeds in die nuwe Jerusalem, ja, duskant die graf! In die simboliese taal van Openbaring se nuwe Jerusalem met goue strate, werk God deur sy volmaakte en volledige Gees so in ons, dat ons nou reeds begin om God se heerlikheid uit te straal.

Laat die Gees van God saam met jou kom loop op die goue strate ... NOU AL!

Doom Charl