Wednesday, October 31, 2012

Oordenking 4 November 2012

Oordenking 4 November 2012

Sabbat en Sondag – wat mag ek?

“Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.” (Markus 2:28)

Daar is gereeld onder kerkgangers opmerkings oor wat toelaatbaar is op Sondae en wat nie. Van ons ouer mense sal die dae onthou toe ons ouers ons verbied het om Sondae kaal voete rond te loop. Self is ons as kinders verbied om op Sondae te swem toe ons by my ouma by die see gaan vakansie hou het. Agter die onderhouding van die sabbat, is die vraag eintlik oor die verstaan van die Joodse wette en die nuwe betekenis wat Jesus daaraan kom gee het.

So lees ons in Markus 2 van Jesus en sy dissipels wat op die sabbatdag by die Joodse kerkleiers in die moeilikheid beland omdat die dissipels are van die gesaaides afpluk om te eet. Direk daarna lees ons in Markus 3 dat Jesus deur die Joodse leiers veroordeel word omdat Hy ‘n man met ‘n gebreklike hand op die sabbat genees het. So is daar ook ander uitsprake van Jesus oor die regte verstaan van die wet. In die bergrede in Matteus 5 herinterpreteer Jesus ‘n hele paar van die wette.

Om te verstaan hoe ernstig die Jode oor die wet was, hoor wat onder andere in die Misjna, ‘n Joodse geskrif wat die wette verder in detail uitspel, geskrywe is. Dit was verbode om by ‘n lamp te lees op die Sabbat, of brood in ‘n oond te plaas, of om twee briewe te skrywe, of om asyn vir tandpyn te suig, of werkers te huur. Vir die Jode het die sabbat Vrydagaand tot en met Saterdagaand met sononder gestrek.

Daar is nie ‘n teks in die Bybel wat die oorgang van die sabbat na die Sondag beskrywe nie. Van die eerste huisgemeentes het begin om voor sonop en na sononder op Sondae bymekaar te kom (Handelinge 20:7; 1 Korintiërs 16:2). Jesus se opstanding uit die dood het vir die Christene ‘n feesdag geword en dit was eers in die vierde eeu dat die Sondag ‘n amptelike rusdag geword het.

Uit Jesus se uitsprake oor die wet en die sabbat kan ons dan die volgende oor die Sondag sê: dit is nie die wetgevulde sabbat soos vir die Jode nie; een spesiale dag in die week is goed vir die mens se liggaamlike en geestelike gesondheid; vir ons as gelowige kinders van die Here het ons sewe dae van die week geleentheid om in liefde tot eer van die Here te lewe; Sondae is ‘n ideale feesdag om met toewyding te fokus op ons verhouding met die Here, ons verhoudinge met mekaar, en om goed te doen aan ander.

Doom Charl

Wednesday, October 24, 2012

Oordenking 28 Oktober 2012

Oordenking 28 Oktober 2012

Besit jy of word jy besit

“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matteus 6:21)

Met die armoede wat nou tot op ons voorstoep kom, is dit nodig dat ons reguit met mekaar praat oor geld en besittings. Alle aanduidings is dat die gaping tussen ryk en arm net groter gaan word in die toekoms. En dan is die miljoen-rand-vraag: hoe hanteer ons as gelowiges ons geldsake?

Jesus praat in die bergrede in Matteus 5 tot 7 oor verskillende praktiese sake vir ons as Christene, ook oor geld en besittings. Hiermee help Hy ons met sekere beginsels wat steeds van toepassing is: die geestelike is belangriker as die materiële; wat ons sien, is bepalend hoe besitlik ons lewe; ek kan nie vir God en geld tegelyk dien nie; en ons Vader in die hemel ís besig om baie mooi vir ons te sorg, hou op bekommer!

Hieruit kan ons tot die gevolgtrekking kom dat dit nie verkeerd is om genoeg besittings te hê om gemaklik en sonder bekommernis te lewe nie. Hierdie aarde met al sy skeppingsprag, is vir ons om te geniet en te waardeer as ‘n gawe van God. Indien ek as gelowige in staat is om mooi goed te maak of mooi goed te koop, is dit deel van ons skeppingsopdrag om te werk en te heers.

Tog is daar groot gevare in geld en besittings: sodra dit my lewe oorheers, sodra dit God se plek in my lewe bedreig, sodra dit my selfsugtig maak, sodra dit ten koste van ander mense is, sodra dit die balans in my lewe versteur, sodra dit my tot oneerlikheid dryf, sodra dit my gierig maak, sodra dit my onbetrokke by armoede maak ...

Die antwoord is geleë in balans en eenvoud, met die uitdruklike en sigbare houding dat alles wat ek besit, kom van my Here af. Hy gee vir my gawes, vermoëns en geleenthede waarmee ek hard werk om vir myself én vir ander te kan sorg. Ek ontdek die vreugde en voorreg van uitdeel en sorg vir ander. Met Gods Gees in my, is dit vir my lekkerder om te gee as om te ontvang. Om die waarheid te sê, ek is daarop ingestel om alles waarsonder ek kan klaarkom, te deel met diegene wat nie het nie. Daar ís mense wat nie kan help dat hulle arm is nie!

Doom Charl

Wednesday, October 10, 2012

Oordenking 14 Oktober 2012

Oordenking 14 Oktober 2012

God is nie die oorsaak van enige verkeerde nie

“Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” (Job 34:12a)

Daar is so baie dinge in ons land wat ‘n groot gemors is: die natuur wat opgefoeter word deur mynbou, die geldmorsery deur die regering, die onveiligheid in ons eie huise, die patetiese swak onderwys, die lewensgevaarlike toestande op ons paaie, die onsekerheid wat die politieke leiers veroorsaak oor die toekoms – dit lyk net nie asof ons vorder nie!

Is dit alles deel van God se plan met ons in hierdie land? Ons as kerkmense en gelowiges probeer dan ons beste om ‘n goeie lewe te lei - dit voel net asof ons nie hierdie gemors verdien nie. Ons het hierdie land help opbou en nou lyk dit asof dinge weer tot op die grond afgebreek word. Dit voel vir ons asof God onregverdig is om al hierdie gemors toe te laat.

Job is ook tot die uiterste beproef: die vroom en opregte Job verloor al sy besittings, en al sy kinders sterf in ‘n storm; sy drie vriende wil hom oortuig dat sy swaarkry die straf op sy sonde is; Job hou vol dat hy nie hierdie teenspoed verdien nie; in sy worsteling ontdek Job weer God se skepping, sy almag en sy wysheid; uiteindelik word Job weer voorspoedig.

Maar Elihu verskyn ook op die toneel met ‘n ander argument oor swaarkry: dit is nie om ons te straf nie, maar swaarkry is om ons reg te help en op die regte pad te hou. Daar is verseker ‘n groot waarheid in Elihu se argument, maar hy het ook gedwaal deur te sê dat swaarkry altyd tot herstel en voorspoed lei (33:23-30), en dat daar altyd ‘n verband tussen swaarkry en sonde is (34:11).

Tog praat Elihu verseker die waarheid oor God: “Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” Hy is nie die oorsaak van al die gemors in ons land nie. Ons en ander sondaarmense net soos elkeen van ons, is die oorsaak. Die swaarkry wat ons ervaar, is ons eie skuld en ook die skuld van die algemene boosheid in hierdie tydelike wêreld.

Swaarkry kan soms straf op sonde wees, maar nie noodwendig altyd nie. So is voorspoed ook nie altyd die beloning vir ‘n goeie lewe nie. Ons wat vir God se liefde gekies het, is nie gevrywaar van moeilikheid nie. Al kan ons nie altyd al die verkeerde dinge verstaan nie, kan dit ons help om God beter te ken.

Doom Charl

Tuesday, October 2, 2012

Oordenking 7 Oktober 2012

Oordenking 7 Oktober 2012

Dit is teen sy sin dat ons swaarkry

“... want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.” (Klaagliedere 3:32c-33)

Daar is baie hartseer en swaarkry onder ons. Huwelike wat onder spanning is, spanning binne huisgesinne, gesondheidsprobleme in families, kinders en kleinkinders wat probleme het, hartseer rondom die verlies van geliefdes, werksomstandighede wat onseker is, onsekerheid by ons jongmense oor hul toekomsplanne ... en so kan die lysie aangaan met die swaarkry van ons tyd.

Wat is ons Here se rol in tye van swaarkry? Wat kan ons van Hom verwag? Hoekom voel dit soms in swaarkrytye asof Hy afwesig is?

Jeremia het dieselfde vrae gevra. In Klaagliedere 3 lees ons: “Ek is die man wat ellende belewe het.” (vers 1) “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.” (vers 8) “Ek word uitgelag deur my hele volk, hulle sing heeldag spotliedjies oor my.” (vers 14) “Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.” (vers 19-20)
Die volk Israel was onder ellendige omstandighede toe Jerusalem en die tempel deur die Babiloniërs verwoes is. Die honger was so groot dat vrouens selfs hulle eie kinders geëet het (Klaagliedere 2:20). Baie mense is doodgemaak, die vroue is in die strate verkrag en die soldate het alles moontlik gedoen om die volk te verneder. Die tempel van God is vernietig en al die heilige toerusting is gebuit. Selfs die koning, die gesalfde van die Here, is doodgemaak.

Maar Jeremia gee nie vir ons hol antwoorde en leë beloftes dat alles skielik net weer sal goed gaan nie. “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here...” (vers 25-26) “Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop ...” (vers 28-29) “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer ...” (vers 31-32)

Bly dus aan God vashou, hou aan om met Hom te praat in en oor jou swaarkry, wag geduldig dat Hy help op sy manier, want Hy ís getrou, Hy kán help, Hy wíl help, Hy sál uiteindelik help! Hoekom? Want Hy ís God! Dit teen sy sin dat ons swaarkry.

Doom Charl