Thursday, September 25, 2014

Oordenking 28 September 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 7:  Ek verwag Hom binnekort

“... Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie.” (2 Petrus 3:9b)

Ons kan so maklik ongeduldig raak as dinge nie vinnig genoeg gebeur na ons sin nie. Of dalk voel ons soms net lui en traak-my-nie-agtig. Of ons stel maklik uit om iets klaar te kry, want môre is nog ‘n dag. Of ons kan sommer net nie omgee wat gebeur nie, net geen bekommernis oor die uitkoms van ‘n saak nie. Al hierdie moontlikhede, en dalk sommer nog ander minder positiewe uitkomste, kan vir ons persoonlike lewe geld, maar ongelukkig is dit ook baie keer waar binne die kerk ...

... en ons Here is glad nie so nie!!!

Ons Here het sy eie tydsberekening: duisend jaar is soos een dag en een dag soos duisend jaar – niemand kan die tyd van sy weer kom na die aarde bereken volgens tyd nie. Hy slaap nooit nie en neem nooit verlof nie. Hy maak altyd die goeie werk, wat Hy reeds met Jesus in ons deur sy Gees begin het, klaar – volgens sy volmaakte tydsberekening. Hy is 100% betrokke by die volmaakte uitkoms van elke saak wat sy koninkryk raak. Wat sal die voorwaarde wees dat jy ook volledig deel is van die volmaakte uitkoms vir sy koninkryk?

Wees ‘n Jesus-mens met hoop, dit wil sê, kry ‘n positiewe uitkyk op die lewe vandag by die Bron van hoop, en daar sal vir jou ‘n beter môre wees!

Hoe onrustig voel jy oor die lewe in die algemeen? Hoeveel dringendheid ervaar jy as Jesus-mens dat dinge moet regkom? Hoe ernstig neem jy jou roeping om ander van Jesus te vertel? Hoe baie lê jy wakker in die nag oor die moontlikheid dat iemand naby aan jou verlore sal gaan sonder Jesus? Hoe direk raak die stukkende wêreld waarin ons elke dag moet oorleef, vir jou?

Ons Jesus is onrustig oor die verlore wêreld waarin ons is. Hy is dringend, Hy is ernstig, Hy gee regtig om, die stukkende wêreld raak Hom direk. Hy is in jou deur sy Gees en wil in jou dieselfde erns laat groei om hoop te gee vir elke situasie waarin ons lewe.

Hoe gouer jy met sekerheid ware hoop deur jou laat bring, hoe gouer kom Hy weer!!! Elke Jesus-mens is só reeds deel van die volmaakte voltooiing van God se koninkryk!!!

Thursday, September 18, 2014

Oordenking 21 September 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 6:  Ek sien ewigheidshoop

“Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (Filippense 3:14)

Vir my as Jesus-mens, het hoop daarmee te doen dat ek vandag by God moed sal skep om gereed te wees vir die beter môre wat op ons wag. Moontlik stem dit ooreen met ander beskrywings van hoop wat ek raak gelees het tydens hierdie reeks van hoop waarmee ons besig is. Hoop het verseker te doen met ‘n positiewe uitkyk op die toekoms.

In die teologie word baie gemaak van die “reeds” en die “nog nie”, bedoelende dat daar reeds baie beloftes van die Bybel waar geword het, maar dat daar ook beloftes in die Bybel is wat nog nie waar geword het nie. So kan ons met geloofsekerheid bely dat Jesus as enigste Seun van God reeds volledig ons verlossing bewerk het, maar dat ons nog nie die volle betekenis daarvan duskant die graf ervaar nie. Of dat ons reeds 100% vergewe is vir alle sonde, maar nog nie 100% oorwinning in ons eie lewe oor sonde het nie. Of dat ons reeds ‘n vaste plek in die hemel het, maar nog nie in die hemel is nie. So is daar nog baie ander “reeds” en “nog nie” waarhede vir ons as Jesus-mense.

Nou gebruik Paulus die beeldspraak van ‘n wedloop waarmee ons reeds besig is. Jesus-mense het reeds weggespring in die ewigheidswedloop die oomblik toe ons Jesus in ons ingenooi het, in reaksie op sy roepstem. Tydens hierdie wedloop is daar hindernisse wat baie moeilik is om oor te kom en wat ons moedeloos maak. Maar ons  moedig mekaar, en ander wat saam hardloop aan, om moed te hou en veral gefokus te bly op die eindstreep. Tydens die wedloop is ons nog nie sonder swaarkry nie en is daar nog nie volkome rus nie, maar die vooruitsig van geen swaarkry en ware ewigheidsrus, help dat ons reeds aanhou en vasbyt.

Die wenstreep wat reeds wag beteken die hemelse prys vir elkeen wat daar uitkom. En die enigste manier om by die wenstreep en die hemelse prys (dit is die nog nie) te kom, is deur die krag en die uithouvermoë wat die Heilige Gees reeds in ons geloofspiere gee. Hierdie inspanning het alles te doen met ‘n volkome afhanklikheid van die Gees in ons – en so is ons as Jesus-mense reeds op pad hemel toe! Dit is reeds ons ewigheidshoop!

Wednesday, September 10, 2014

Oordenking 14 September 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 5:  Ek dra hoop uit

“Mag God ... julle vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Romeine 15:13)

Wat kan ek as Jesus-mens doen om hoop uit te dra?

1.       Laat die Gees op jou hart skrywe wie die Bron van hoop vir jou, in jou eie lewe is!
 

2.       Laat die Gees jou oë oopmaak vir diegene wat nie sterk is in die geloof nie, en begin self iets daaraan doen om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
 

3.       Laat die Gees jou selfloos iets goed laat doen aan jou naaste, juis omdat die Bron van hoop dit reeds vir jou doen.


4.       Laat die Gees toe om die voorbeeld van Christus jou hoogste motivering te maak, om ‘n draer van hoop na ‘n stukkende wêreld te wees.


5.       Laat die Gees-geïnspireerde-Skrif vir jou en ander standvastigheid en bemoediging bied.
 

6.       Laat die Gees vir jou ‘n gesindheid van eengesindheid onder mede-Jesus-mense bewerk.


7.       Laat die Gees jou vul met lof aan ons enigste Bron van hoop, op so ‘n wyse dat ander Hom in jou kan sien.


8.       Laat die Gees toe om alle vooroordele teenoor alle ander mense te verwyder, want Christus aanvaar jou onvoorwaardelik.


9.       Laat die Gees van jou ‘n dienaar maak in belang van sy koninkryk, en nie jou eie koninkryk nie.


10.   Laat die Gees jou ‘n draer maak van die beloftes van hoop wat oor geslagte heen oorgedra is met ‘n vaste sekerheid in die Bron van hoop.
 

11.   Laat die Gees vir jou egte vreugde gee in die uitdra van hoop.
 

12.   Mag die Gees jou vul met ware Goddelike vrede, omdat jy ‘n draer van hoop is.
 

Werk saam met die Gees om waarlik ‘n draer van hoop te wees!