Thursday, April 23, 2015

Oordenking 26 April 2015

Geroep om te ...

“Jy is ..., op hierdie rots sal Ek my kerk bou ...” (Matteus 16:18)

 In minder as twee dae, was ek deel van twee uiteenlopende gesprekke waarin die betekenis van ons tweede bekering ter sprake kom. In die een gesprek gaan dit oor die gevolg wat bekering in elke Jesus-mens se lewe het, naamlik dat elkeen van ons geroep word om spesifiek deel te neem aan God se koninkrykswerk. In die ander gesprek gaan dit oor die betekenis wat ons almal na smag in die sogenaamde tweede helfte van ons lewe. Op een of ander manier soek elkeen van ons bevestiging dat my lewe die moeite werd is en in albei van hierdie gesprekke kom dit ter sprake.

Dit bring my by die groot vraag vir elke Jesus-mens: Wat is mý roeping?

Petrus word as doodgewone visserman geroep om vir Jesus te volg. Hy word saam met Johannes en Jakobus deel van Jesus se intieme en nabygroepie binne die dissipelgroep. Regdeur Jesus se aardse bediening speel Petrus ‘n sentrale rol, soveel so dat Jesus hom die “rots” noem waarop die kerk gebou sal word. Voor Paulus se bekering, speel Petrus die leidende rol in die vroeë kerk. Tog bly hy eg mens, deurdat dit hy was wat Jesus verraai en misken tydens Jesus se verhoor die laaste nag, voordat Hy gekruisig is. Gewone visserman, eksklusiewe dissipel, verraaier, kerkleier ... maar geroep om in God se koninkryk ‘n baie groot verskil te maak!

 Waarvoor roep Jesus jóú vandag?

 Jy hoef nie geleerd, gewild, mooi, geestelik sterk, dinamies, of wat ook al te wees nie. Net soos wat jy is: Jesus het jou baie nodig binne sy kerk en in sy koninkryk. Hy is lief vir jou net soos jy is, want onthou, jy kan nooit weer in die moeilikheid by Hom wees nie (daarvoor was Hy vir jou aan die kruis). Jy sal ook nie in die moeilikheid kom as jy nie jou roeping begin leef nie, dit is jou eie vrywillige keuse. Jesus gee egter sy heel beste Hulp in jou, naamlik sy eie Gees. So rus Hy jou toe, maak jou bekwaam (Paulus se woorde) en bring die geleenthede op jou pad – leef net jou roeping.

 Maar wees gewaarsku: dit gaan nie noodwendig lekker wees nie; jy kan dalk teenstand en teenspoed in God se werk kry; almal gaan nie van jou hou en met jou saamstem nie; jy kan moontlik dinge doen wat nie jy is nie of waarvan jy nie hou nie. Want onthou: dit gaan NIE oor jóú NIE, maar oor Hóm in jou!

Thursday, April 16, 2015

Oordenking 19 April 2015

Wees daar vir mekaar!

“Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die Woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie.” (Handelinge 6:2b)

Reeds in 1959 skryf Murray Janson ‘n boekie “Sodat ons weer waarlik kerk kan wees” waarin hy waarsku teen die Roomse gevaar dat ons ‘n “domineeskerk” is. Hy skryf 56 jaar gelede: “Vandag neig dit darem al te gevaarlik daarheen dat feitlik alles van die dominee afhang en op die dominee neerkom. ‘n Gemeente se aktiwiteite en entoesiasme staan of val met die aktiwiteit en entoesiasme van hulle dominee!”

Nog baie langer gelede, in die eerste gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, was daar uitdagings en geleenthede dat die werk in gemeentes tussen almal verdeel word. Die eerste dissipels kom agter dat hulle roeping om vir soveel as moontlik mense van Jesus te vertel skade ly, omdat daar ook van hulle verwag word om mense wat swaarkry, te help. So word die eerste diakens in die kerk gekies om te help met spesifieke take in die gemeente. Nêrens is daar sprake daarvan dat die een se werk in die gemeente belangriker as ‘n ander se werk is nie. Saam neem almal gelyke verantwoordelikheid vir die gemeente.

 Vandag is dit steeds ons uitdaging dat almal gelyke verantwoordelikheid neem in die gemeente. Niemand is belangriker as ‘n ander nie. Selfs die aanspreekvorm en titel “dominee” skep ‘n probleem omdat dit eintlik “domineer, baasspeel, oorheers” beteken. Soos Janson skrywe: “... die predikant al man is wat van die dinge genoeg weet en word hy as vanselfsprekend op die verhoog bokant die ander geplaas. Die begaafdheid van die predikant gee in die gemeente deurslag: is hy inskiklik en welsprekend en gaaf en geliefd genoeg, en het hy oral organisatoriese vermoë, dan slaag hy daarin om die mense te paai en bymekaar te hou.”

 Ware kerk-wees en deel wees van enige geloofsgemeenskap, sal dus beteken dat almal op gelyke voet met mekaar is. Waar hierdie Bybelse beginsel geld, neem Jesus-mense verantwoordelikheid vir elke geleentheid vir Koninkrykswerk volgens elkeen se spesifieke gawes. Kritiek oor mekaar se werk, word baie versigtig en liefdevol hanteer. Elkeen wat opreg en selfloos betrokke is, word raakgesien en erken – tog word niemand bo ander verhef nie. Die fokus en doel is goeie en gesonde verhoudings waarin die liefde van Jesus in ons, sigbaar en eerlik geleef word.

 Die vraag vir jou vandag: wat is jou spesiale plekkie in God se werk?