Thursday, April 23, 2015

Oordenking 26 April 2015

Geroep om te ...

“Jy is ..., op hierdie rots sal Ek my kerk bou ...” (Matteus 16:18)

 In minder as twee dae, was ek deel van twee uiteenlopende gesprekke waarin die betekenis van ons tweede bekering ter sprake kom. In die een gesprek gaan dit oor die gevolg wat bekering in elke Jesus-mens se lewe het, naamlik dat elkeen van ons geroep word om spesifiek deel te neem aan God se koninkrykswerk. In die ander gesprek gaan dit oor die betekenis wat ons almal na smag in die sogenaamde tweede helfte van ons lewe. Op een of ander manier soek elkeen van ons bevestiging dat my lewe die moeite werd is en in albei van hierdie gesprekke kom dit ter sprake.

Dit bring my by die groot vraag vir elke Jesus-mens: Wat is mý roeping?

Petrus word as doodgewone visserman geroep om vir Jesus te volg. Hy word saam met Johannes en Jakobus deel van Jesus se intieme en nabygroepie binne die dissipelgroep. Regdeur Jesus se aardse bediening speel Petrus ‘n sentrale rol, soveel so dat Jesus hom die “rots” noem waarop die kerk gebou sal word. Voor Paulus se bekering, speel Petrus die leidende rol in die vroeë kerk. Tog bly hy eg mens, deurdat dit hy was wat Jesus verraai en misken tydens Jesus se verhoor die laaste nag, voordat Hy gekruisig is. Gewone visserman, eksklusiewe dissipel, verraaier, kerkleier ... maar geroep om in God se koninkryk ‘n baie groot verskil te maak!

 Waarvoor roep Jesus jóú vandag?

 Jy hoef nie geleerd, gewild, mooi, geestelik sterk, dinamies, of wat ook al te wees nie. Net soos wat jy is: Jesus het jou baie nodig binne sy kerk en in sy koninkryk. Hy is lief vir jou net soos jy is, want onthou, jy kan nooit weer in die moeilikheid by Hom wees nie (daarvoor was Hy vir jou aan die kruis). Jy sal ook nie in die moeilikheid kom as jy nie jou roeping begin leef nie, dit is jou eie vrywillige keuse. Jesus gee egter sy heel beste Hulp in jou, naamlik sy eie Gees. So rus Hy jou toe, maak jou bekwaam (Paulus se woorde) en bring die geleenthede op jou pad – leef net jou roeping.

 Maar wees gewaarsku: dit gaan nie noodwendig lekker wees nie; jy kan dalk teenstand en teenspoed in God se werk kry; almal gaan nie van jou hou en met jou saamstem nie; jy kan moontlik dinge doen wat nie jy is nie of waarvan jy nie hou nie. Want onthou: dit gaan NIE oor jóú NIE, maar oor Hóm in jou!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.