Thursday, August 27, 2015

Oordenking 30 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 6:       Gelukkig met ‘n rein hart

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
(Matteus 5:8)

Ek wonder hoeveel mense wil God regtig graag sien? Moontlik is baie mense nog bang om God regtig te sien? Of Hy is net so ver en vreemd en onbekend, dat hulle glad nie belangstel om Hom te sien nie? Of moet die vraag anders wees: hoekom is dit belangrik om God te wil sien?

Die Woord van God leer ons dat alles en almal is op pad na die hemel waar God alles vir alles sal wees (1 Korintiërs 15:28). Dit kom moontlik daarop neer dat ons eers in die lewe hierna, werklik sal sien wie God en hoe God is. Alles is onder weg na ‘n toestand of bestaanswyse of dimensie waar God se heerlikheid en teenwoordigheid alles sal oorheers. Nie almal is ewe opgewonde oor hierdie gedagte nie, waarom nie?

Die ervaring van ons eie onrein hart, maak dat ons bang is vir God. Ons eie tekortkominge laat ons gedurig skuldig voel in die teenwoordigheid van die volmaakte God. Ons valse tevredenheid met ons eie pogings om ‘n beter mens te wees, maak dat ons traag is om God beter te leer ken. Ons eie beheptheid met betekenislose wêreldse geluk, briek ons soeke na ware geluk wat by God alleen te vind is.

Dit bring ons terug by die enigste regte oorsprong van ware geluk: God self. En onverstaanbaar en onverklaarbaar, soek alle mense Hom nie, wil hulle Hom nie sien nie. Hulle is doodtevrede met net die “self”, die “eie ek”, in hulle. Hulle harte het geen plek vir God nie, en so mis hulle uit op ware geluk.

‘n Rein hart, is elke Jesus-mens wat gestroop word van die “self” en “eie ek”, om werklik plek te maak vir God in jou. Ja, natuurlik, sy Gees in jou. ‘n Rein hart beteken nie ‘n sondelose hart, of ‘n volmaakte hart, of reeds volledig heilige hart nie. In die Bybel is die hart elke mens se innerlike, vanwaar jy self besluit wie jy is en hoe jy lewe. ‘n Rein hart is elke Jesus-mens wat aan God oorgegee lewe en deeglik besef dat ek nie sonder Hom kan of wil lewe nie.

Hoekom is dit belangrik om God te wil sien? Geen mens kan sonder Hom gelukkig lewe nie! Maak dus baie seker dat jy werklik plek maak vir Hom in jou hart! Dit is ware geluk!

Thursday, August 20, 2015

Oordenking 23 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 5:       Gelukkig in ‘n barmhartige lewenswyse

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
(Matteus 5:7)

Hoe lekker sal dit nie wees as ek iets nuuts kan sê oor ‘n barmhartige lewenswyse waaraan niemand van ons nog ooit gedink het nie! Of nog beter, as ek iets kan sê, wat regtig die direkte oorsaak is vir ‘n totaal veranderde lewenswyse vir elkeen van ons! Wel, dit moet ons aanvaar: slegs die Gees van God in elke Jesus-mens kan ou bekende waarhede gebruik om ons lewens te verander – laat ons Hom dan presies daarvoor vertrou!

‘n Veranderde lewenswyse begin by ‘n veranderde hart. ‘n Nuwe lewenswyse kan slegs blywend en tot werklike voordeel van ander wees, waar die Heilige Gees in ons aktief werksaam is. Binnekant, innerlik, wie jy werklik is as mens soos jy is, word gevorm en verander om millimeter vir millimeter meer te groei om met God se hart te lewe. Spontaan en vrywillig, maar ook soekend en met inspanning, kry elkeen van ons geleentheid om met ‘n sagte hart soos God se hart te lewe.

Die gevolg van ‘n meer en meer Gees-beheerde hart: hardheid word met sagtheid vervang; haat word met liefde vervang; selfgerigtheid word met selfloosheid vervang; jou ego maak plek vir God self in jou; jou eie belange skuif uit die pad om ruimte te gee vir ander; jou beheptheid met besittings word eerder ‘n gesindheid van weggee wat jy kan; jou blindheid vir ander se seer word genees en jy kry oë en hande wat ander se pyn sien en verlig; jou traagheid om te loop na ander se nood word met energie gevul om te hardloop om verligting te bring. Ja, ‘n totaal nuwe lewenswyse vol barmhartigheid!

Anders gesê: ‘n barmhartige lewenswyse is ‘n Goddelike werking met doelbewuste samewerking van elke Jesus-mens!

Wie van ons wil nie baie graag met sagte liefdevolle woorde en dade behandel word nie?
Wie van ons wil nie graag in volkome vrede met ander lewe nie?
Wie van ons wil nie ontspan in al my verhoudinge sonder eise wat gestel word nie?

Soek dringend daarna om meer volledig van God afhanklik te wees.
Soek met groter toewyding na opregte innerlike geluk by Hom.
Soek maniere om werklik te hoor en te doen wat vir Hom reg is.

Die gevolg van hierdie soeke:  ware geluk!

Thursday, August 13, 2015

Oordenking 16 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

Vreemde geluk: jy kan gelukkig wees deur afhanklikheid, tevrede wees as daar hartseer is, sag wees wanneer jy eintlik hard wil wees ... en nou nog ook: jy kan seën ervaar wanneer jy honger en dors is!

Waarna dors jy?  Watter diep begeertes sit daar in jou hart?

Dié nommer EEN dors: om reg met God te wees.  Elke Jesus-mens se diepste behoefte is om te weet dat my verhouding met die Here in orde is. Moontlik voel jy nog dat jou goeie en toegewyde lewe vir God aanvaarbaar is. Die Bybel roep dit uit: “Jy kan nie self nie!”  Dis onmoontlik vir ‘n besoedelde sondaar om toegewyd genoeg te kan wees om in die teenwoordigheid van die heilige God te kan verskyn.  Jou kleed is vuil, jou gedrag stink...

Daarom het God self die mooiste plan gemaak om hierdie verhouding tussen jou en Hom te herstel.  Hy het sy eie Seun gestuur om al die vieslike sondigheid wat aan jou kleef op Hom te neem.  Toe het Hy daardie skuld aan die kruis van Golgota gestraf met Jesus se marteldood. Wil jy in die regte verhouding met God staan?  Gee jou oor aan Hom.  Hy kom woon in jou lewe, Hy was jou helder skoon met sy bloed, Hy vernuwe jou deur sy Heilige Gees.  Al jou sonde is reeds vergewe!

Die nommer TWEE dors: dat die onreg in hierdie wêreld sal stop!  Al die uitbuiting van mense, die mishandeling van kinders en diere, bejaardes en armes, rassisme, die vernietiging en besoedeling van die natuur, korrupsie en verdraaiing van die reg. Hierdie tweede honger en dors vloei voort uit die eerste.  Omdat jy ‘n kind van God is, wil jy graag soos God wees.  Dié dinge wat Hom pla, wat sy hart seermaak, wat Hom laat huil, hinder jou.  En jy kry ‘n passie om daardie dinge reg te stel.

Het jy diep in jou hart ‘n ernstige hunkering daarna dat jou verhouding met die Here heel sal wees?  Kom beleef die vervulling van daardie honger, daardie dors by Hom alleen.

Pla onreg jou?  Doen iets!  God is aan jou kant.  Jy sal versadig word.