Thursday, July 31, 2014

Oordenking 3 Augustus 2014


Leef jou tweede kans!

“As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle in my liefde bly...” (Johannes 15:10 Direkte Vertaling)

Volgens vaste ooreenkoms op grond van Woordbeloftes en die oortuigende influistering van die Gees van God, is ons as Jesus-mense vrygestel van enige pligte of wette om vir altyd volledig gered te kan wees. Beteken dit dat ons nou maar handjies gevou kan sit en wag vir die hemel om aan te breek? Allermins, ek kan nie, ek wil nie niks doen nie. Ek het dan juis die allerbeste rede om my alles op die altaar te sit – ja, my ALLES in reaksie op die grootste en die beste en die blywende geskenk van die lewe in Jesus!

Soos die Bybel dit op verskillende plekke uitspel: elke mens is dood tot en met die wonderlike ontmoeting en verhouding met Jesus begin – dan kry ons elkeen ‘n tweede kans op die ware lewe in Jesus. Die groot vraag is: wat maak jy met jou tweede kans?

Daar is twee staande opdragte, let wel, nie wette of pligte nie, wat steeds geld vir elke Jesus-mens:

·         Opdrag nommer 1:          leef Jesus-liefde.

·         Opdrag nommer 2:          gaan vertel van Jesus.

Beide hierdie opdragte is bedoel om vir elke Jesus-mens ‘n spontane daaglikse lewenswyse te wees, die een nooit los van die ander nie. Soos wat ek Jesus raak leef in elkeen se unieke lewensomstandighede met my eie geliefde geaardheid, kry ek die geleentheid dat Jesus vir ander kan wys wie Hy in my is. Maar hiervoor het ek ‘n vrywillige keuse om met sy Gees in my saam te werk. En hierdie keuse vra dissipline, spesifieke besluite en veral opofferinge, dikwels ten koste van myself.

Om die tweede kans op ware lewe in Jesus werklik te benut, beteken ek is veronderstel om my tyd, gerief, geld of wat ook al tot my eie beskikking is, spesifiek beskikbaar te stel om Jesus-liefde te leef. Soos Jesus self so mooi verduidelik in Johannes 15: ons is nie sy slawe wat ‘n las moet dra nie, ons is sy vriende – daarom het Hy sy lewe vir ons as sy vriende aan die kruis laat offer. Vriende maak vrywillige en spontane opofferinge vir mekaar, opofferinge wat sonder voorwaardes is, sommer omdat dit soms lekker is of net sin maak.

Kom ek vra weer: wat maak jy as Jesus-mens met die tweede kans in jou lewe?