Wednesday, March 6, 2013

Oordenking 10 Maart 2013

Oordenking 10 Maart 2013

Jesus-mense bou verstandig

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” (Matteus 7:24)

Persoonlik voel ek baie tuis in die boubedryf. Dit is vir my so lekker om die beplanning, uitvoering en voltooiing te beleef van iets wat gemaak of gebou word. Die resultate is sigbaar en kan waardeer word, veral as dit deeglik en netjies gedoen is. So gebruik Jesus dan ook die bou van ‘n huis as simboliek vir geestelike bouwerk. Maar met Jesus se verduideliking is dit baie belangrik hoe die bouwerk begin is, hoe goed is die fondament van die huis. Die fondament bepaal of die huis die toets van storms sal deurstaan. Wat is dié fondament?

Jesus gebruik hierdie simboliek volgens Matteus aan die einde van die bergrede wat handel oor praktiese Jesus-mens-wees. Met my praktiese lewe as Jesus-mens word die fondament van my geestelike huis gelê. Wie lê hierdie fondament (1) en waaruit bestaan hierdie fondament (2) van my geestelike huis?

(1) My geestelike huis se fondament word deur die Heilige Gees se deeglike werk in my gelê. Maar my meewerking en samewerking, is mý keuse. Hy werk/bou en ek werk/bou saam; ek laat toe dat Hy werk/bou; Hy kan nie werk/bou sonder dat ek Hom nooi, of vra, of soek, of smeek, of aanmoedig nie.

(2) Die rotsfondasie bestaan uit boumateriaal soos die bloed van Jesus aan die kruis; én die onverdiende guns van God om my te kies as Jesus-mens; én die bevrydende en vernuwende werk van die Heilige Gees in elke Jesus-mens; én alles wat die hemelse Boumeester wil gebruik. EN OOK is die duursame boumateriaal van die fondament elke Jesus-mens se positiewe aanvaarding van God se vergifnis; én die waarderende erkenning van God se genade; én die gehoorsame meewerking met die Gees in elke Jesus-mens; én alles wat God skenk vir ons om aan Hom terug te gee.

God bou dus, maar ek werk saam met sy bouwerk. God voorsien die boumateriaal, maar ek word die sigbare resultaat van sy bouwerk. Hy ontwerp die huis, Hy voorsien die boumateriaal, Hy is die Bouer; maar ék is die huis, in mý lewe word die boumateriaal gebruik en ék is die sigbare bewys van Wie die Bouer is. Daarom:

• Maak seker jy kén die Bouer (want Hy ken jóú)!
• Verstaan wat die boumateriaal is (en maak daarvan gebruik)!
• Word die sigbare bewys van God se bouwerk (sodat Hý verheerlik kan word)!

Doom Charl