Wednesday, April 25, 2012

Oordenking 29 April 2012

Oordenking 29 April 2012

Gebed: waarvoor bid ek?

“Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Lukas 11: 13c)

Ons kan enige tyd van die dag of nag deur gebed kontak maak met ons lewende Here en God wat presies weet wie elkeen van ons is en wat elkeen van ons elke dag nodig het. As Hy dan weet wat ek nodig het, nog voordat ek daarvoor gebid het, waarom moet ek bid?

Hier gaan dit oor hoe ons gebed verstaan. Met respek gesê, vir baie mense is gebed ‘n versoekprogram met ‘n lang lys van gebedsversoeke vir eie persoonlike behoeftes. Amper soos ‘n kruidenierswarelys wat ons vir die Here opstel en afmerk die items wat Hy “verhoor”. En dan is daar baie groot teleurstelling indien sekere items nooit, of nie gou genoeg “verhoor” word nie. Sommiges se lys bly ook dae of selfs jare dieselfde. Dit kan beteken daar is geen verandering of groei in hulle gebedslewe nie, en dit kan terselfdertyd beteken daar is geen groei in hulle ervaring van wie die Here in hulle lewe is nie. Onthou, my uitgangspunt is, gebed het direk daarmee te doen met wie die Here in jou persoonlike lewe is.

Daarom kom ek tot die gevolgtrekking dat die inhoud van jou gebedslewe word bepaal deur die intimiteit en egtheid van jou verhouding met die Here. Die kern, die fondament, die spilpunt, die basis, die oorheersende element van jou gebedslewe, het te doen met wie God vir jóú is. Die belangrikste inhoud van jou gebedskontak, is dit wat jy oor en van God kan sê vanuit jou eie geloofservaring met Hom. Hierdie diepste element van gebed kan verskillende benaminge kry soos aanbidding, lofprysing, verwondering, eerbetoning, ens. Om dit anders te sê: die belangrikste deel van gebed is om met God oor Homself in jou eie woorde vanuit jou eie ervaring te praat en so met Hom kontak te maak.

En dan eers, en vanuit hierdie kontak met jou Here en God, kan daar ook gebid word vir alle moontlike sake wat God se koninkryk raak. En hier het ek geen probleem dat daar ‘n lys gemaak word van sake, persone en instansies wat voorbidding nodig het nie. Daar is verseker waarde en krag in die gebede van individue vir ander. Net so is daar baie waarde en krag in gesamentlike gebede van gelowiges vir mekaar en vir ander.

Doom Charl

Tuesday, April 17, 2012

Oordenking 22 April 2012

Oordenking 22 April 2012

Gebed: wanneer?

“Bid gedurig.” (1 Tessalonisense 5:17)

Kom ons spandeer nog ‘n bietjie tyd in die skool van gebed. Die vorige keer het ons bewus geword dat ons elkeen se eie unieke persoonlike belewenis van wie God in ons lewe is, bepaal hoe ons met Hom kontak maak in ons gebede. Nou wil ons verstaan wanneer behoort ons te bid.

Dit word algemeen aanvaar dat daar gebid word voor ete, in die binnekamer tydens stiltetyd, aan die begin en einde van vergaderings of sommige byeenkomste, by die siekbed en in ander tye van nood. In die kerk was daar vir baie jare weekliks bidure gehou wat baie getrou deur ‘n groepie lidmate bygewoon is. Daar word nog weke van gebed aan die begin van die jaar en later in die jaar pinksterdienste in gemeentes gehou, maar dan word dit nie regtig meer van persone verwag om hardop in die kerk voor ander te bid nie.

Uiteindelik kan ons bewus word dat gebed nie beperk is tot spesifieke tye of geleenthede wat daar hoorbaar gebid word nie. Aangesien elke gelowige se lewende verhouding met die Here die belangrikste is, is gebed die kanaal of die medium of die kontak deur middel waarvan die Here en die gelowige aan mekaar verbind is. Hierdie verbintenis kan nooit iets wees wat kom en gaan nie, dit is vas en permanent. Indien ek as sondaarmens tot bekering gekom het, word ek vir ewig aan God verbind deur die krag van God se Gees in my. Soos Johannes sê: “Hy in my en ek in Hom”.

Die Geesvervulde gelowige leef ‘n gebedslewe in die teenwoordigheid van die Here sewe dae van die week 24 uur van die dag. Tydens hierdie 24 uur van ‘n dag, kan daar baie dinge met enige kind van die Here gebeur. Daar kan goeie en slegte goed gebeur waarvoor daar stil of hardop gebid word. Ander tye van die dag gaan verby sonder enige spesifieke bewuswording dat die Here daarin betrokke is nie (maar Hy ís). Soms (en net soms) gebeur daar uitsonderlike dinge in ‘n dag wat nie toevallig is nie, en wat net aan die Here se betrokkenheid en liefdevolle ingryping toegeskryf kan word.

So het elke kind van die Here elke dag die geleentheid om bewustelik en onbewustelik in kontak met sy Here te lewe. En dan tydens die dag of die nag, enige tyd, met die Here te praat. Waaroor? Dit sal moet wag tot volgende keer.

Doom Charl

Wednesday, April 11, 2012

Oordenking 15 April 2012

Oordenking 15 April 2012

Gebed: ek en Wie?

En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: Vader ...” (Lukas 11:2a)

Kom ons gaan sit in die volgende paar weke saam met Jesus se dissipels, by sy voete dat Hy vir ons meer leer oor gebed. Gebed is so ‘n deel van ons asemhaling in ons verhouding met die Here, dat daar sekerlik nog nuwe ontdekkings is wat ons daaroor kan maak.

‘n Vraag wat ek al gekry het, wat ek eerste wil hanteer, is: Wie spreek ek aan in gebed? Praat ek met die Vader soos in die Ons Vader-gebed, of praat ek met Jesus met Wie ek ‘n verhouding het, of praat ek met die Heilige Gees wat in my werk?

Voordat ons hierdie vraag kan antwoord, moet ons eers uitklaar Wie God vir ons is. Ek gaan uit van die standpunt dat elkeen van ons, ons eie unieke “prentjie” van God het. Juis omdat God elkeen van ons baie uniek gemaak het, vestig Hy deur sy Heilige Gees met elkeen van ons ‘n baie eiesoortige unieke verhouding, waarin elkeen van ons God op ons eie unieke manier belewe. In hierdie unieke belewenis wat elkeen van ons dan van God het, is dit vir ons baie moeilik om te onderskei wanneer het ons te doen met die Vader, of wanneer het ons te doen met Jesus, of met die Heilige Gees.

Dit bring my tot die gevolgtrekking dat ons nie werklik kan onderskei wanneer ons met watter Een van die Drie-eenheid te doen het nie. God is Een en werk as ‘n Eenheid, ook in elkeen van ons. Al verstaan ons dit nie 100% nie, ons bely dit en kan dit glo: God Drie-enig werk uniek in elkeen wat in Hom (nie “Hulle” nie) glo.
Hiermee het ek die vraag, wie spreek ek aan in gebed, beantwoord: God Drie-enig, of enige Een of Naam wat deel is van die Eenheid. Deur net die Vader, of net vir Jesus, of die Here, of watter Naam van God, in my gebed te gebruik, maak nie werklik saak nie.

Wat wel saak maak, is dat ek met diep ontsag met God sal praat in my gebede. Dit is selfs beter om nie sy Naam uit te spreek nie, as om sy Naam te veel te herhaal. Vanuit my innige ervaring van Wie God in my hart en lewe is, maak ek deur gebed intiem kontak met God.

Doom Charl

Tuesday, April 3, 2012

Oordenking 8 April 2012

Oordenking 8 April 2012

Die opgestane Jesus se woorde volgens Lukas

“Vrede vir julle!” (Lukas 24:36c)

Die belangrikste GEBEURTENIS in die geskiedenis het reeds plaasgevind! Die belangrikste gebeurtenis het met die belangrikste PERSOON plaasgevind! En die belangrikste Persoon het die belangrikste BELOFTE uitgespreek!

Die OPSTANDING van Jesus Christus ons Here, dit is die enigste Seun van God wat deur sy Vader uit die dood opgewek is, is die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom! Dat dit die ware Seun van God is wat uit die dood opgestaan het, maak van Hom die belangrikste mens wat ooit op aarde was of is. En wanneer die belangrikste Persoon van alle tye ná sy opstanding uit die dood, ‘n belofte maak, dan is dit die belangrikste belofte van alle tye!

Net Lukas beskryf hoe die twee Emmausgangers saam met die opgestane Jesus geloop het en Hom eers herken het toe Hy brood saam met hulle gebreek het. Daarna verdwyn Jesus skielik, maar verskyn net so skielik toe die elf dissipels en ander mense bymekaar was om te praat oor Jesus se verskyning na sy opstanding. En dan maak Hy hierdie ongelooflike belangrike belofte: “Vrede vir julle!” Die arme dissipels skrik so erg dat hulle dink, hulle sien ‘n spook. Dit is moeilik om presies te verklaar waarom hulle Hom nie dadelik herken nie, maar dit is moontlik dieselfde rede waarom die Emmausgangers Hom nie herken het nie. Net so vreemd is die ete saam met hulle, wat ook in Johannes beskryf word.

Vir ons is dit belangriker om die betekenis van die opgestane Jesus se vrede-belofte te verstaan:
Soos wat Jesus die 72 in Lukas 10 twee-twee uitgestuur het om die groot oes te gaan insamel en hulle “vrede vir hierdie huis” elke keer moes gaan toewens, doen Hy dit nou weer. Die verskrikte en bang groepie dissipels kry opnuut opdrag om “bekering en vergewing van sondes aan al die nasies te gaan verkondig” (Lukas 24:47). Vir Lukas se oorgang van sy Evangelie na die boek Handelinge, wat hy ook geskrywe het, is die voortgaande verkondiging van die evangelie baie belangrik.

Die evangelie hou die belofte van vrede in, vrede tussen God en die sondaar mens, vrede wat alle verstand te bowe gaan, vrede wat twyfel laat verdwyn, vrede wat vrees verdryf, vrede wat tydloos is, vrede wat die chaotiese wêreld nie ken nie, vrede wat die lewende Een belowe!

Die belangrikste Een het opgestaan sodat ons VREDE kan lewe!

Doom Charl