Thursday, May 21, 2015

Oordenking 24 Mei 2015


PINKSTERFEES

Leef deur die Gees:    Eintlike Eindresultaat.           

“... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

 Pinkster is vir ons dié tyd van jaar om spesiaal te fokus op die Gees van God in elke Jesus-mens. Tog kan ons elke liewe sekonde van elke liewe dag weet Wie Hy reeds in ons is.

In die brief aan die gemeentes in Galasië, is daar ‘n rykdom van waarhede oor die Heilige Gees: God stuur sy eie Gees tot in ons, sodat Hy altyd in ons is (4:6a); niemand kan glo in Jesus, sonder die Heilige Gees nie (5:5); God se Gees is die enigste Hulp teen ons sondige natuur (5:16); slegs die Gees maak ons werklik vry van die swaar las van reg en verkeerd (5:18); Hy in ons, is volledig verantwoordelik vir die uitnemende kwaliteite wat reeds in ons is (5:22); slegs deur die leiding van die Gees, kan ons radikaal liefdevol teenoor ander wees (6:1).

Hierdie samevatting uit Galasiërs van die Heilige Gees se werk in ons, is allesbehalwe volledig – Hy is nog tot baie meer en groter dinge in staat in elkeen van ons!

Maar dit bly belangrik om reg te dink en korrek te glo, oor presies waarheen God deur sy Gees met elkeen van ons op pad is: Wat wil Hý uiteindelik in en deur elkeen van ons bereik? Wat is die einddoel van die Heilige Gees se werk in ons? En hier is dit dan natuurlik ongelooflik belangrik dat Sý einddoel en mý einddoel uiteindelik presies dieselfde sal wees!

Ons fokusteks gee die antwoord:

 “... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

Die Gees van die Drie-enige God is die eintlike Eindresultaat in elke Jesus-mens se bestaan! Net in ander woorde: God self is die einddoel van elke Jesus-mens se lewe. En die enigste manier waarop ons elkeen se einddoel 100% kan sinkroniseer met God se einddoel vir ons, is deur die voortgaande werk van God se Gees in ons.

Prakties sal dit onder andere kan beteken: Maak meer tyd om op ‘n manier wat vir jou werk, in God se teenwoordigheid te wees. Soek en vind jou innerlike rus by Hom alleen, veral in moeilike tye. Kom vry van enige laste en selfopgelegde pligte in jou verhouding met Hom. Wees oplettend in jou daaglikse lewe om Hom in die klein en groot dinge raak te leef.

Leef dus deur die Gees !!!

Friday, May 15, 2015

Oordenking 17 Mei 2015


Leef deur die Gees

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5: 25)

 Wie van ons begeer nie om ‘n goeie mens in alle opsigte te wees nie!

 Wel, dit is werklik moontlik om ‘n goeie mens te wees, as ons net reg verstaan hoe dit moontlik gemaak word. Daar is verseker slegs EEN manier om van ‘n slegte mens te groei na ‘n goeie mens: SLEGS deur die werk van die Heilige Gees van God in elke Jesus-mens!

 Hoe die Gees in ons werk, is die groot antwoord:

 ·         God stuur sy eie Gees tot in ons harte sodat Hy altyd en vir ewig in ons is. “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur ...” (Galasiërs 4:6a)

·         Die Gees is die eksklusiewe Geloofsgewer vir ALMAL. Anders gesê, niemand kan glo in Jesus sonder die Heilige Gees nie. “... deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.” (Galasiërs 5:5)

·         God se Gees in elke Jesus-mens, is die enigste Hulp in ons grootste stryd, naamlik ons stryd teen ons sondige natuur. En die maklikste verstaan van ons sondige natuur, is ons elkeen se selfsugtige obsessie met onsself. “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Galasiërs 5:16)

·         Volkome Vryheid is Wie die Gees in ons is. Slegs Hy neem die swaar las van reg en verkeerd heeltemal van ons skouers af. “Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.” (Galasiërs 5:18)

·         Hy in ons, is die volledige Antwoord vir die uitnemende kwaliteite wat vir ‘n goeie mens bedoel is. Die volledige pakkie kom nét van Hom af! “Die vrug van Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22)

·         Alleen deur sy werk in ons, kyk ons radikaal Vrysprekend na ander. Geen afguns, geen afbrekende kritiek, geen status – slegs liefde, slegs omgee, slegs opbouend. “... as iemand in een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.” (Galasiërs 6:1)

·         Die Gees van die Drie-enige God is die eintlike Eindresultaat in elke Jesus-mens se bestaan! “... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

Só leef ons deur die Gees !!!

Friday, May 8, 2015

Oordenking 10 Mei 2015

Elkeen is uniek in diens van God

“Ons is medewerkers in diens van God ...” (1 Korintiërs 3: 9a)

 Een van die wonderlikste ontdekkings vir elkeen van ons, is ons elkeen se uniekheid in so baie opsigte. Een van die baie maniere om dit te ontdek, is die verskillende persoonlikheidstoetse wat in die werksomgewing gebruik word. So word daar in die Myers Briggs-persoonlikheidsanalise sestien verskillende persoonlikhede, hoofsaaklik vir die werksomgewing onderskei. Die baie ouer ontleding van verskille tussen ons, word in die Enneagram beskryf as ‘n dinamiese psigo-spirituele hulpmiddel vir bewuswording en groei. My gewilde skrywer M. Scott Peck onderskei vier spiritualiteite, wat hy beskryf as: (1) “chaotic/antisocial”, (2) “formal/institutional”, (3) “skeptic/individual” en (4) “mystical/communal”. Daar is nog baie ander onderskeidings van die verskille tussen ons, wat elkeen se uniekheid bevestig.

 In die Bybel lees ons ook van die verskille wat daar tussen ons as Jesus-mense is. Vir God om ons te kan gebruik om sy werk hier op aarde te doen, het Hy ons elkeen eiesoortig en uniek gemaak, met baie spesiale gawes en nie-dupliserende geleenthede. Dan verander tye en behoeftes ook oor die jare in die kerk en in elkeen van ons se lewens. Ons elkeen en die kerk gaan deur fases van swaarkry en groei, en dit stel ook unieke eise aan alle betrokkenes. In hierdie proses vind daar groei en ontwikkeling plaas, maar almal voel nie altyd veilig as dinge te drasties verander nie.

Vir Paulus was dit ook waar in die Korinte-gemeente. Hy vra die vrae: “Wat is Apollos dan? Wat is Paulus?” Dan antwoord hy homself: “Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.” (uit 1 Korintiërs 3). Dan gebruik hy die beeldspraak van ‘n plant wat versorg moet word om te kan groei en wys hy daarop dat elkeen se werk ewe belangrik is vir die groei. Die enigste uitsondering is God! Hy is die enigste Een wat kan laat groei.

 Verder in sy briewe aan die Korinte, noem Paulus verskillende gawes wat mense binne die gemeente het. Hierdie was spesifieke gawes wat vir daardie tyd en daardie spesifieke gemeente nodig was. Weereens is een persoon se gawes nie beter of belangriker as ‘n ander persoon se gawes nie. Soos hy sê, “... daar is mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het.” (1 Korintiërs 12:28).

 Vandag is daar ander gawes nodig vir God se werk. Vandag het Hy jou nodig met jou unieke persoonlikheid. Vandag is niemand beter of belangriker as ‘n ander om ‘n “medewerker in diens van God” te wees nie! God het jou nodig in sy diens net soos jy is!