Thursday, September 18, 2014

Oordenking 21 September 2014

Hoop wat groei en groei

Tema 6:  Ek sien ewigheidshoop

“Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (Filippense 3:14)

Vir my as Jesus-mens, het hoop daarmee te doen dat ek vandag by God moed sal skep om gereed te wees vir die beter môre wat op ons wag. Moontlik stem dit ooreen met ander beskrywings van hoop wat ek raak gelees het tydens hierdie reeks van hoop waarmee ons besig is. Hoop het verseker te doen met ‘n positiewe uitkyk op die toekoms.

In die teologie word baie gemaak van die “reeds” en die “nog nie”, bedoelende dat daar reeds baie beloftes van die Bybel waar geword het, maar dat daar ook beloftes in die Bybel is wat nog nie waar geword het nie. So kan ons met geloofsekerheid bely dat Jesus as enigste Seun van God reeds volledig ons verlossing bewerk het, maar dat ons nog nie die volle betekenis daarvan duskant die graf ervaar nie. Of dat ons reeds 100% vergewe is vir alle sonde, maar nog nie 100% oorwinning in ons eie lewe oor sonde het nie. Of dat ons reeds ‘n vaste plek in die hemel het, maar nog nie in die hemel is nie. So is daar nog baie ander “reeds” en “nog nie” waarhede vir ons as Jesus-mense.

Nou gebruik Paulus die beeldspraak van ‘n wedloop waarmee ons reeds besig is. Jesus-mense het reeds weggespring in die ewigheidswedloop die oomblik toe ons Jesus in ons ingenooi het, in reaksie op sy roepstem. Tydens hierdie wedloop is daar hindernisse wat baie moeilik is om oor te kom en wat ons moedeloos maak. Maar ons  moedig mekaar, en ander wat saam hardloop aan, om moed te hou en veral gefokus te bly op die eindstreep. Tydens die wedloop is ons nog nie sonder swaarkry nie en is daar nog nie volkome rus nie, maar die vooruitsig van geen swaarkry en ware ewigheidsrus, help dat ons reeds aanhou en vasbyt.

Die wenstreep wat reeds wag beteken die hemelse prys vir elkeen wat daar uitkom. En die enigste manier om by die wenstreep en die hemelse prys (dit is die nog nie) te kom, is deur die krag en die uithouvermoë wat die Heilige Gees reeds in ons geloofspiere gee. Hierdie inspanning het alles te doen met ‘n volkome afhanklikheid van die Gees in ons – en so is ons as Jesus-mense reeds op pad hemel toe! Dit is reeds ons ewigheidshoop!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.