Thursday, September 25, 2014

Oordenking 28 September 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 7:  Ek verwag Hom binnekort

“... Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie.” (2 Petrus 3:9b)

Ons kan so maklik ongeduldig raak as dinge nie vinnig genoeg gebeur na ons sin nie. Of dalk voel ons soms net lui en traak-my-nie-agtig. Of ons stel maklik uit om iets klaar te kry, want môre is nog ‘n dag. Of ons kan sommer net nie omgee wat gebeur nie, net geen bekommernis oor die uitkoms van ‘n saak nie. Al hierdie moontlikhede, en dalk sommer nog ander minder positiewe uitkomste, kan vir ons persoonlike lewe geld, maar ongelukkig is dit ook baie keer waar binne die kerk ...

... en ons Here is glad nie so nie!!!

Ons Here het sy eie tydsberekening: duisend jaar is soos een dag en een dag soos duisend jaar – niemand kan die tyd van sy weer kom na die aarde bereken volgens tyd nie. Hy slaap nooit nie en neem nooit verlof nie. Hy maak altyd die goeie werk, wat Hy reeds met Jesus in ons deur sy Gees begin het, klaar – volgens sy volmaakte tydsberekening. Hy is 100% betrokke by die volmaakte uitkoms van elke saak wat sy koninkryk raak. Wat sal die voorwaarde wees dat jy ook volledig deel is van die volmaakte uitkoms vir sy koninkryk?

Wees ‘n Jesus-mens met hoop, dit wil sê, kry ‘n positiewe uitkyk op die lewe vandag by die Bron van hoop, en daar sal vir jou ‘n beter môre wees!

Hoe onrustig voel jy oor die lewe in die algemeen? Hoeveel dringendheid ervaar jy as Jesus-mens dat dinge moet regkom? Hoe ernstig neem jy jou roeping om ander van Jesus te vertel? Hoe baie lê jy wakker in die nag oor die moontlikheid dat iemand naby aan jou verlore sal gaan sonder Jesus? Hoe direk raak die stukkende wêreld waarin ons elke dag moet oorleef, vir jou?

Ons Jesus is onrustig oor die verlore wêreld waarin ons is. Hy is dringend, Hy is ernstig, Hy gee regtig om, die stukkende wêreld raak Hom direk. Hy is in jou deur sy Gees en wil in jou dieselfde erns laat groei om hoop te gee vir elke situasie waarin ons lewe.

Hoe gouer jy met sekerheid ware hoop deur jou laat bring, hoe gouer kom Hy weer!!! Elke Jesus-mens is só reeds deel van die volmaakte voltooiing van God se koninkryk!!!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.