Wednesday, October 30, 2013

Oordenking 3 November 2013

Leer ken ons vry God

“Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” (Romeine 11:35)

Jesus-mense is eintlik voltyds besig om God beter te leer ken, al dink ons nie aldag heeldag daaraan nie. Deur goete wat in ons elkeen se lewe gebeur, mense wat ons paaie kruis, alles wat ons hoor en lees, en sommer die hele kaboedel (ja, daar is so ‘n woord wat sommer na alles verwys), kan ons klein bietjie beter met God self te doen kry. Vandag wil ek fokus op ‘n baie diep, maar belangrike kant van ons God: sy vrymag! Kom ek verduidelik so eenvoudig moontlik:

Ek is weer terug by ‘n baie ou redenasie van my oor ons elkeen se prentjie in ons koppe van wie God werklik is. Ons het elkeen 100% ons eie unieke ervaringe in die lewe wat ons elkeen uniek maak. En so word daar in ons elkeen ‘n 100% unieke prentjie gevorm van wie God is. Nie twee mense op aarde dink presies dieselfde oor God nie. Tog kan elke individuele Jesus-mens met oortuiging sê dat ons dink aan presies dieselfde God, net die een ware en lewende God, wat Homself in Jesus Christus aan ons kom openbaar het. Maar ons dink verskillend oor Hom en loop ‘n unieke pad deur die lewe saam met Hom en so verwag ons elkeen verskillende goete van Hom. Ons het elkeen ons eie unieke behoefte aan wie God vir ons moet wees.

En hier is my punt oor God se vrymag: niemand van ons kan aan Hom voorskryf wie Hy vir ons moet wees nie. Ongelukkig is ons daartoe geneig. Ons “ontwerp” ons eie godjie (met respek) volgens ons eie unieke behoeftes en raak baie veeleisend teenoor Hom (praat ek dalk nou net vir myself, dan is ek jammer). Elkeen beleef sy krisis of probleem of situasie as so groot en ernstig, dat ons graag al God se aandag en hulp net vir onsself volgens ons eie-uitgedinkte-goed-deurdagte planne wil hê.

God werk nie so nie, Hy is nie so nie. Omdat Hy is Wie Hy is, is Hy onvoorspelbaar en nie-voorskriftelik in hoe Hy dinge doen. Sy planne en besluite kan nie altyd verstaan of verklaar word nie. Hy is ook glad nie verplig om iets vir enige een van ons te doen nie. Met respek, Hy volg sy eie kop. Maar dit is dan juis so fantasties van Hom:

God ken jou unieke “jy” 100% met jou 100% unieke behoeftes. Op sy tyd (waarvan Hy baie het, voel dit soms) en sy manier (wat nie altyd verstaan word nie), is Hy 100% vry om vir jou as Jesus-mens te wees wat vir jou 100% die beste is. Laat Hom juis vry om vir jou te wees!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.