Wednesday, November 6, 2013

Oordenking 10 November 2013

“Ek vergewe jou!”

“... toe Hy julle al julle sondes vergewe het. ... deur dit aan die kruis vas te spyker.” (Kolossense 2: 13c en 14c) (uit die Nuwe Lewende Vertaling)

Goeie nuus is baie lekker om te hoor. Die allerbeste nuus kan mense se lewens permanent op die enigste ware Weg plaas. En hierdie allerbeste nuus het alles te doen met ons Superhero, Jesus Christus, wat vir alle sondes van alle mense volledig die kwytskeldingsprys aan die kruis betaal het. Wie of Wat is Jesus jou Superhero vandag vir jou? Wat spel die woord “HERO”?

Help met my grootste probleem: sonde.
Eerste prys vir elkeen van ons: gratis verlossing.
Redding op slegs EEN manier: Jesus.
Oorwinning behels die volgende: lewe.

My Superhero kom HELP my met my grootste probleem. Elkeen van ons was dood as gevolg van ons sonde, maar die sondelose Lam van God, Jesus self, die enigste Seun van God, betaal die volledige prys vir alle sonde aan die kruis.

My Superhero kom gee heeltemal gratis vir ons elkeen wat kies ‘n Jesus-mens te wees, die EERSTE prys, naamlik om verlos te wees van sonde, die oordeel en die ewige hel. Jesus-mense is reeds verlos, en dit alles alleen op grond van Jesus se verlossingswerk wat Hy deur sy Gees in elkeen van ons voortsit.

My Superhero is die enigste Redder wat daar ooit was in die verlede, en vandag is, en sal wees in die toekoms. Hy is nie net God se plan A nie, Hy is God se enigste plan vir REDDING. En hierdie redding het reeds vir elke Jesus-mens begin en sal voltooi word in die hemel waar ons vir altyd in God se volmaakte teenwoordigheid sal wees.

My Superhero bewerk en gee en is die OORWINNING. En hierdie oorwinning is vir hierdie lewe en vir die lewe hierna. In hierdie lewe beteken die oorwinning die sonde en die Satan beheer nie meer ons lewe nie – die Heilige Gees beheer my lewe. In die lewe hierna beteken die oorwinning dat ons in die fees van die ewige heerlikheid by God sal wees.

Al hierdie “hero”-woorde het een oorsprong: die kruis. Aan die kruis is ons sondeskuld vasgespyker en vir altyd vergewe, sodat ons eie Superhero vir elkeen persoonlik elke dag wil sê: “Ek vergewe jou!”

Doom Charl
(hierdie oordenking word opgedra aan die belydenisgroep 2013 van die NG Gemeente Premiermyn)

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.