Wednesday, November 20, 2013

Oordenking 24 November 2013

Hoekom lewe ek?

“Die Gees is die waarborg van ons erfdeel vir die bevryding van God se eiendomsvolk, tot lof van sy heerlikheid.” (Efesiërs 1:14) (nuwe Direkte Vertaling)

In ‘n mindere of meerdere mate vra elkeen van ons op een of ander stadium die vraag na die ware sin van die lewe. Hoekom is ek hier? Wat is my doel op aarde? Wat kan my lewe meer sin gee? Hoe kan ek tot eer van God lewe?

Kom ons kyk mooi hoe lyk die eintlike en enigste manier van lewe:

• “Die Gees is die waarborg van ons erfdeel... “ Die antwoord van die ware lewe lê volledig buite onsself. Die lewe is slegs in God te vind, geensins in onsself sonder God nie. Ja, met God se Gees wat net in my inkom, begin ek eers waarlik lewe, dan is Hy die volledige lewe in my. En met Hom in my, is Hy vir altyd verseker in my. Die vastigheid en die sekuriteit dat Hy in my is, is in Hom alleen en van Hom alleen afhanklik. Hy besluit hoe Hy in my is, hoe Hy die lewe in my is, Hy is die ware sin van die lewe in my.

• “... vir die bevryding van God se eiendomsvolk ...” God is besig met sý doel met elkeen van ons op aarde. En dit doen Hy op sy manier, op sy tyd ... en teen hemelse spoed en op onverklaarbare Goddelike werkswyses, maak Hy sy kinders bymekaar. En slegs sy kinders ontdek ware vryheid en is die enigstes wat betekenis in die lewe vind. Want om ‘n Jesus-mens te wees wat waarlik sinvol lewe, is jy vrygemaak van al die inspanning om heilig te lewe. Die ware vryheid is slegs te vind in die Heilige Een in jou as Jesus-mens.

• “... tot lof van sy heerlikheid.” Ons het ‘n uiters jaloerse God, Hy soek geen kompetisie nie. Hy soek al sy eer vir Homself. En daarom kom lewe Hy slegs in Jesus-mense, in wie Hy al die lof vir die lewe vir Homself vat. Hy sorg self vir die resultaat van sy kragtige Gees-werking in sy ewige erfgename. En die enigste resultaat van ‘n sinvolle en betekenisvolle lewe, is die heerlikheid van die enigste ware lewende God self!

Hoekom lewe ek? Dat God self alleen volledig in en deur my alle eer ontvang!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.