Wednesday, November 27, 2013

Oordenking 1 Desember 2013

Johannes 1 Advent: Die Woord “IS”!

“In die begin was die Woord ...” (Johannes 1:1a)

Ek wil tot en met Kersfees dieper delf in die permanente teenwoordigheid van ons Here elke dag, spesifiek in die lig van sy menswording, wat ons vier met Advent, die vier weke voor Kersfees.

Die eerste invalshoek, is die woorde “In die begin was die Woord ...”:

• Die geboorte van Jesus beteken dat Hy nog altyd daar was, steeds is en altyd sal wees, want Hy is volledig God wat ook mens geword het ter wille van ons redding: slegs God wat mens is, kan red! Maar eintlik was Hy sonder begin, dis meer ons manier van praat. God bestaan ewig, en dit sluit Jesus volledig in, Hy het nie “iewers” begin ontstaan nie: Hy IS!

• God, ons Vader in die hemel (soos Jesus vir ons op aarde kom leer het), én Jesus, sy unieke Seun, wat gebore is uit die maagd Maria; én die Heilige Gees wat hierdie geboorte sonder seksuele omgang bemiddel het, is EEN God! “Hulle” (maar dit is nie meer as een nie) is van ewigheid af steeds EEN. Slegs met hierdie verstaan van die volledige “beginlose” God, IS God steeds vandag!

• Alles wat bestaan, alles wat geskep is, alles wat herskep word, is en kan net God wees; en die mens-geworde Jesus is só volledig deel van alles wat bestaan, alles wat geskep word, alles wat herskep word. Dít is die enigste manier waarop óns Jesus alle Jesus-mense wat bestaan en deur sy Gees herskep word, God IS!

• Nou die hoofletter “Woord”: in Johannes 1 (en in die res van Johannes Evangelie) verwys dit na God self wat Hom deur Jesus aan die wêreld kom bekend maak het. Hier is “Woord” gelyk aan Jesus, en Jesus IS God, en deur Jesus weet ons wie IS ons God!
Meer as twee duisend jaar gelede is ‘n Kindjie gebore wat die enigste Verlosser van alle mense IS; en vandag IS Jesus se koms in die lewe van elke Jesus-mens die enigste manier om waarlik te lewe. En die werklikheid van hierdie Woord kan eers volle inhoud in mense se lewens kry indien hulle God as teenwoordige werklikheid glo, sien en ervaar.

Die Woord IS, Jesus IS, Hy IS God, Hy IS nog altyd, Jesus IS mens ... Jesus IS teenwoordig in elke Jesus-mens, daaroor gaan Kersfees!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.