Wednesday, November 13, 2013

Oordenking 17 November 2013

Wie skuld wie?

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Johannes 3: 16)

Hoe kan dit liefde wees as ‘n pa sy seun uit die beste plek na die slegste toe stuur? Amper kan ons vandag sê: “My seun, ons bly in hierdie “mansion” van ‘n huis in Silverlakes met al die denkbare geriewe, maar omdat ek lief is vir jou, stuur ek jou na die verste plattelandse primitiewe plek waar daar geen geriewe en net groot moeilikheid is.” Watse pa sal so iets uit liefde doen? Hoekom gaan die pa nie sommer self om al die probleme uit te sorteer nie?

Toegepas op ons hemelse Vader, het Hy ons niks geskuld om sy eie Seun vir ons sondige gemors aarde toe te stuur nie. Adam en Eva het sy basiese lewensbeginsel verlore laat gaan deur te eet van die boom van die lewe. Dáár het dit tussen God en mens verkeerd geloop, en sedertdien het die méns die probleem. God was nooit, is nie nou nie, en sal nooit die probleem wees nie.

Die gevalle mens is, was en sal altyd die probleem met die lewe wees – ons het dit bederf en doen dit steeds. En daarvoor skuld God ons NIKS! Alles wat in Johannes 3:16 met “verlore” te doen het, het slegs met die mens te doen. Die mens is alleen oorsaak van sy eie “verloor van die lewe”. Laat staan enige redenasies dat God die sonde toegelaat het om sy liefde te kan wys, dis nie waar nie. En so ook enige ander redenasies wat God op een of ander manier in verband bring met die “verlore wees van die mens”.

Nie EEN mens het vir God gevra om te kom help met ons verlorenheid nie. So besluit die mens van nature, laat ek dan my eie plan maak: ek is in die moeilikheid by God met my sonde, ek skuld God ‘n oplossing. Kom laat ek my beste probeer om reg te maak: laat ek goed doen aan ander, ek skuld God – en ons maak die mooiste lyste van opofferings. Iewers langs die pad is dit by ons elkeen ingeprent: dis “pay back time”! Dis die grootste leuen waarmee die mensdom steeds teenoor God lewe!

In en deur en uit LIEFDE alleen gee God die lewe terug aan elke mens wat glo dat Jesus die lewe is! Einde van die storie: God skuld niemand niks!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.