“Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22: 29)
Ons is besig om by Jesus self te leer oor die lewe
vandag. Ons fokus op nog van sy wyshede.
In Matteus 22 probeer ‘n groep van die destydse
godsdienstige leiers, die Sadduseërs, Hom vastrek met ‘n strikvraag. Hierdie
groep het nie geglo in die lewe na die dood nie, omdat hulle nie bewyse
daarvoor kon kry in die eerste vyf boeke van die Ou Testament nie. In daardie
tyd was dit uiters belangrik dat ‘n man se naam voortgesit word deur ‘n
seun-erfgenaam. Die voorskrif was dat, as ‘n man sterf sonder enige seun, moet
die weduwee trou met die volgende broer van die oorledene. En so moes dit
aangaan totdat die oudste broer uiteindelik ‘n nageslag het. Nou probeer
hierdie Sadduseërs Jesus vasvra oor wie gaan met wie getroud wees in die hemel
indien een vrou met meer mans getroud was.
Dan kom Jesus se verrassende antwoord. Hy gee ‘n
antwoord oor die lewe vandag en NIE oor die detail van huwelike in die hemel
nie. Dit sou gevaarlik wees om te veel te lees in sy woorde: “Met die
opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos engele in die hemel.”
(Matteus 22:30) Sy antwoord gaan oor kennis van die Bybel en oor kennis van
God. Kom ek pas hierdie antwoord van Jesus toe op vandag.
Daar is vandag, soos destyds, baie strikvrae
wat in die kerk gevra word. Dan gebeur daar nog slegte dinge in Jesus-mense se
lewens, wat net nie sin maak nie. Binne die kerk is daar ook verwarrende
ervaringe deurdat alles nie altyd seepglad verloop nie. In ons land en
wêreldwyd is daar groot vraagstukke wat onopgelos bly. Hierdie uiteenlopende
ervaringe en onbeantwoorde vrae, maak Jesus se antwoord belangrik.
Wanneer jy nie antwoorde op vandag se vrae het
nie, neem jou toevlug na die waarhede in die Bybel en fokus op wie God self is.
Elke onbeantwoorde vraag en elke onopgeloste krisis, bied geleentheid om by Hom
uit te kom. Ons God is vandag lewend teenwoordig, soos nog altyd. Nog nooit het
Hy en nooit sal Hy, sy eie verloste kinders in die steek laat nie – Hy kan nie!
Leef Hom raak binne die verwarring wat daar vandag is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.