Thursday, June 18, 2015

Oordenking 21 Junie 2015


Leef gereed, anders ...

“Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.” (Matteus 25:10b)

Hoe gemotiveerd is jy om Gees-gedrewe diensbaar te wees? Hoe ernstig is jy om die Gees van God geleentheid te gee om sy liefde deur jóú ten toon stel? Hoeveel moeite doen jy om regtig iets baie spesifiek vir die Here te doen?

Onthou tog net die hele tyd, Hy bied sy ALLES vir jou en my: liefde, genade en vergifnis! Die vraag is: met hoeveel erns, toewyding en dringendheid reageer ons op sy ALLES?

Soms voel dit vir my so gebrekkig binne die kerk: die onderlinge liefdesgesindheid skiet ver tekort; daar is nie altyd enige haas om aan sekere belangrike sake aandag te gee nie; almal is nie ewe getrou in hulle verantwoordelikheid van bywoning en gee nie; sommige verdwyn net en ons hoor nooit weer van hulle nie; debatte en energie word op onbenullighede gemors.

In Jesus se gelykenis oor die tien meisies, wat hulle lampe vol olie moes maak vir die bruidegom se koms, gaan dit spesifiek oor ons elkeen se diensbaarheid binne die kerk. Ja, die verstandiges en onverstandiges is vandag binne in die kerk. Elke Sondag sit daar mense binne in die kerk wat verstandig of onverstandig is, gereed of nie gereed vir die bruidegom se koms.

Die GROOT waarskuwing: daar sal ‘n spesifieke moment wees, wat dit vir altyd te laat sal wees om gereed te maak, en niemand van ons weet wanneer dit gaan wees nie! Hier is die enigste antwoord, hoe om gereed te lewe vir daardie finale laaste moment: Ken God self persoonlik en maak baie seker dat Hy jou ken! Maak sy onvoorwaardelike liefde deur oorgawe aan sy Gees, verseker deel van jou hele lewe. Leef gereed soos ‘n verstandige deur jou talente, tyd en energie heelhartig in diens te stel van sy koninkrykswerk hier op aarde.

Waaruit bestaan ‘n lewe wat gereed en verstandig is?

·         Vertel vir ander van Jesus;

·         Wys deur jou lewe wat sy liefde is;

·         Gee jou tyd, geld en energie;

·         Gee vir die armes;

·         Versorg die siekes;

·         Vertroos diegene wat hartseer is;

·         Hef die sukkelaars op;

·         Vermaan die onverskilliges;

·         Praat moed in vir die moedeloses; en

·         Wees Jesus se hande en voete.

Leef vandag gereed deur ... (soos die Gees jou lei), môre kan vir altyd te laat wees!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.