Thursday, June 4, 2015

Oordenking 7 Junie 2015


Jou uitverkore plek in God se werk

“Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” (Efesiërs 4:16c)

 Ontdek jou gawes, lidmaatbemagtiging, betrokkenheid, inskakeling, meelewing, groei in getalle en geestelike diepte, geloofsgemeenskap, liefdesgemeenskap - almal uitdrukkings en woorde wat iets beskrywe van die kerk van Jesus Christus hier op aarde.

Ons het reeds die punt bereik dat niemand skuldig hoef te voel wat nie betrokke is nie; niemand hoef uit dwang of plig sy of haar deel te doen nie; oor geld wil ons glad nie met mekaar praat nie; niemand het ‘n belangriker verantwoordelikheid as ‘n ander nie; die speelveld in God se koninkryk is gelyk. Ek en jy het elkeen ons plekkie in God se span, en elkeen is ewe nodig en belangrik.

 Ons verskil van mekaar ten opsigte van persoonlikhede, talente, gawes van die Gees, spiritualiteit, omstandighede, en nog baie meer. Ons hoef ook nie van mekaar te hou nie, bedoelende ons kom van nature nie ewe goed met almal oor die weg nie. Daar is as gevolg verskillende redes, uiteenlopende standpunte oor dieselfde sake. Ons voel nie altyd ewe tuis in almal se geselskap nie. Daar is ‘n verstaanbare én onverklaarbare diversiteit tussen Jesus-mense.

 Om by Paulus se beeldspraak aan te sluit, daar is verskillende liggaamdele in die menslike liggaam wat radikaal van mekaar verskil, maar tog het elke liggaamsdeel die ander liggaamsdeel krities nodig. Een liggaamsdeel kan nie en hoef nie alle liggaamsfunksies te hanteer nie. Maar een liggaamsdeel wat nie sy of haar funksie verrig nie, het ‘n direkte en drastiese effek op ‘n spesifieke gedeelte of op die hele liggaam. Sekere liggaamsdele is onvervangbaar, maar nie onafhanklik van die minder belangrike liggaamsdele nie.

 Binne die liefdesband van Jesus-mense in elke geloofsgemeenskap of gemeente of kerk, geld hierdie onderskeiding en tegelyk spesialisering van funksies en take. Elke Jesus-mens se plek in God se werk is onvervangbaar en in baie opsigte interafhanklik. Eenvoudig gesê: God het ons verskillende gawes en persoonlikhede nodig om ‘n gesonde geheel te vorm. Tog is niemand vir Hom onmisbaar nie, Hy kan sonder my en jou regkom deur net ‘n ander plan te maak.

 Kom ons maak dit persoonlik: wat is jou spesifieke funksie in die opbou en uitbou van die kerk? Sit jy en wag om bedien te word, of is jy Gees-gedrewe diensbaar? Kan jy met eerlikheid sê dat jy vrywilliglik ‘n vertoonvenster van Jesus-liefde in elke moontlike situasie elke dag is? Die Gees van God wil só graag sy liefde deur jóú ten toon stel!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.