Wednesday, September 26, 2012

Oordenking 30 September 2012

Oordenking 30 September 2012

Ons elkeen is die kerk

“Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is ... geskrywe ... met die Gees van die lewende God...” (2 Korintiërs 3:3)

Ons kan onsself voorberei vir opwindende nuwe tye met groot uitdagings in die toekoms. En as ek van “ons” praat, dan bedoel ek elke gelowige kind van die Here. Op hierdie pad van totaal nuwe dinge wat daar in ons huidige wêreld op ons wag, gaan ons mekaar as gelowiges baie nodig hê. En die kerk as versameling van kinders van die Here, wil vir ons ‘n geleentheid bied om saam hierdie nuwe uitdagings te hanteer. Maar dan moet ons mooi verstaan wie of wat die kerk is.

Die kerk is nie die gebou nie. Om die waarheid te sê, dit lyk asof die kerkgeboue soos ons dit vandag het, heeltemal anders gaan lyk in die toekoms – dit sal eerder plekke wees wat al sewe dae van die week ‘n funksie het vir die gemeenskap waarin dit is. Die kerk is ook nie die sinode of kerklike vergaderings nie. Nee, outokratiese leierskap in die kerk is klaar besig om plek te maak vir ‘n dienende leierskap – soos wat Jesus vir ons die voorbeeld kom stel het. Die kerk is ook nie al die mense wie se name op die lidmaatregisters aangeteken is nie – die nuwe geslag jongmense steur hulle reeds nie hieraan nie. Die kerk is ook nie al die mense wat hulleself as Christene laat aanteken as daar ‘n sensus gedoen word nie – die meerderheid van hierdie “sensus-Christene” kom nie meer naby aan ‘n kerk nie, selfs nie eers vir hulle begrafnis nie.

Ons elkeen is die kerk. Ons elkeen wat God leer ken, wat glo dat Jesus ons enigste Verlosser is, en wat op Hom vertrou vir die lewe nou én hierna. Soos Paulus in ons teks sê, ons is briewe wat deur die Gees geskrywe is. Briewe wat ander kan lees en deur ons kan ontdek wie God is. Ons Here neem verantwoordelikheid om só deur sy Gees in en deur ons te werk, dat ander wat Hom nie ken nie, Hom in en deur ons kan ken én dan in Hom glo. Hiervoor het Hy sy Gees in ons gegee wat lewend maak, sodat die dooie wet nuwe betekenis vir ons kry. Hy kom skryf sy wet op ons harte sodat ons al hoe meer leef soos Jesus geleef het.

Ons is God se woonplek op aarde – Hy woon deur sy Gees in ons. Ons is besig om sy hande en voete te wees in ‘n stukkende en verlore wêreld. Ons word Jesus se liefde in elke situasie waarin Hy ons nodig het.

Doom Charl

Wednesday, September 19, 2012

Oordenking 23 September 2012

Oordenking 23 September 2012

God sal altyd wees wie Hy is!

“Ook hierná is Ek nog God.” (Jesaja 43:13a)

Onseker tye en moeilike omstandighede gee vir ons die geleentheid om God beter te ken. Die onsekerheid in die politiek, die slegte ekonomiese klimaat en/of jou eie persoonlike stryd, laat elkeen van ons weerloos en broos en uitgelewer aan ons omstandighede ...OF!!!

Ja, OF ons ontdek weer, OF vir ‘n eerste keer, wie God is.

In Jesaja 43 beleef die volk Israel onseker tye tydens die ballingskap – die sterkstes onder die volk is weggevoer uit hulle eie land na ‘n vreemde land, Babel. Hulle is verswak omdat hulle verdeel en versprei het, hulle het hulle kosbare “beloofde land” verloor. Nuwe reëls geld en daar is ander vreemde leiers, ook hulle godsdiens word bedreig. En juis nou praat die profeet Jesaja met die weggevoerdes oor wie God is ... en Hy is nog dieselfde God!

Hy is steeds ...
• die Een wat jou geskep het;
• wat jou verlos;
• jy is Syne;
• Hy is by jou tydens enige moeilikheid;
• jy is so kosbaar vir Hom, dat Hy enige iets sal doen of gee ter wille van jou behoud;
• Hy sorg steeds vir jou kinders en elke volgende geslag;
• selfs die goddeloses sal sien wie Hy is en wat Hy doen;
• Hy het geen gelyke onder die gode nie;
• net Hy is God;
• niemand of niks het meer mag as Hy nie;
• niks of niemand kan sy werk ongedaan maak nie;
• Hy het jou uitverkies, sodat ...

... ons Hom kan ken, in Hom kan glo en kan besef dat Hy die Here is!

Kry Hom aan jou kant, wees aan sy kant en bly aan sy kant ... want Hy is steeds Wie Hy is!

Doom Charl
NS Hy is die heel beste Afrigter van heel beste span!

Thursday, September 13, 2012

Oordenking 16 September 2012

Oordenking 16 September 2012

Stop 6: Oorwin die bose

“Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.” (Romeine 12:17)

‘n “Nuwe jy” beteken ‘n nuwe lewenswyse. ‘n Lewenswyse wat volg op die ontdekking van die groot ontferming van God. Ja, God wat jou só lief het dat Hy vir jou laat glo in Jesus se redding. Nou vul die Heilige Gees jou voorheen nuttelose bestaan (onthou ‘n handskoen sonder ‘n hand in, is nutteloos), jy leer daagliks hoe om meer en meer jou lewe oor te gee as ‘n aanneemlike offer vir God, jy dink al hoe meer op ‘n nuwe manier oor jou lewe, maar ook oor ander se lewens. Jy word God se liefde ...

Maar ons word daagliks gekonfronteer met veral twee probleme, naamlik een: die wêreld waarin ons is, is vol boosheid; en twee: ons as gelowiges voer ‘n stryd met die sonde in ons.

Ten opsigte van die probleem met die boosheid: ons vyand, die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Petrus 5:8) en hy is die oorsprong van alle boosheid. Tog leer ons in die Bybel dat “die bose magte ontwapen” is (Kolossense 2:15) en veral in Openbaring leer ons van die beperkte invloed van die bose. Hoekom? Want vir elkeen van ons wat in Jesus glo, vul die Heilige Gees ons en is daar GEEN plek vir die duiwel of sy werk in ons lewe nie. Jesus het die Satan vir altyd verslaan met sy sterwe aan die kruis, en ons as gelowiges het volledig deel aan daardie oorwinning oor Satan. Hiermee is die Satan, die duiwel en alle boosheid vir ons verledetyd!

Ten opsigte van probleem twee met die sonde in ons: elkeen van ons wat glo, is nog nie volmaak en sonder sonde nie. Maar met die oopmaak van ons hele lewe vir die genadige werk van Gods Gees, word ons vergewe en kom skryf Hy sy wil op ons harte (Romeine 8:26-27). Sonde word minder lekker en dit word lekkerder om liewer goeie dinge in die plek daarvan te doen – die Gees help ons swak gees presies daarmee. Hierdie is ‘n wesentlike deel van die pad van vernuwing wat ons saam met ons Here en saam met mekaar loop.

Die resultaat van God se vernuwende werk in ons as sy gelowige kinders is ‘n nuwe lewenswyse: vol seën vir ander; liefde vir ander; respek vir mekaar; vol blydskap; sonder klagtes oor swaarkry; met gedurige bid; sonder baklei; sonder wraak; praktiese hulp aan alle vorme van nood; ens.

Geniet jou reis op Roete 12, die reis na geestelike vernuwing, tot ons as mede-pelgrims in God se volmaakte heerlikheid is!

Doom Charl

Wednesday, September 5, 2012

Oordenking 9 September 2012

Oordenking 9 September 2012

Roete 12: STOP 5 Gemeenskap: `n Nuwe lewe voor die Here

“Die liefde moet opreg wees ...” (Romeine 12:9a)

Is ons nie maar almal bang dat ons nie aan God se standaarde voldoen nie? Ons het so gewoond geraak daaraan om te bid, kerk toe te gaan en miskien Bybel te lees, om daardeur te probeer om God tevrede te stel. Die probleem is dat hierdie verdienstelike pogings van ons kant af, dikwels vir ons verward en twyfelagtig laat.

Die groot deurbraak kom vir ons, wanneer ons ontdek wie ons eintlik in God se oë is, hoe sien Hy vir ons en wat verwag Hy regtig van ons. Ons is besig om in Romeine 12 te ontdek hoe die “nuwe jy” se daaglikse lewe kan lyk, en Paulus beskryf vir ons hoe God na ons kyk, hoe ons vir Hom lyk omdat Hy ons verander:
• Alle maskers en beste voetjie voorsit, is verby: dis die ware jy wat Hy sien;
• Hy wil sy koninkryk bou met liefde: Hy is liefde in jou;
• Hy gee sy hoogste prys, sodat jy sy allerbeste kan wees vir die Allerhoogste;
• Hy is 100% tevrede met elkeen wat in Christus vernuwe word: Hy leef in elke nuwe jy;
• Jou verhouding met Hom kan nie aan- en afgeskakel word nie: jy ís in Hom en Hy in jou, ALTYD!
• Jy het nie `n plaasvervanger nie: leef jou plek vol in God se plan met jou;
• Wees saam met elke ander een, saam met Hom, in sy span, ja, ons is een familie.

Binne die dimensie waarin God onkeerbaar besig is sy hemelse plan uit te voer, het Hy vir my en jou gekies om elkeen ons plek in sy plan vol te staan. Hy gebruik die beste instrumente en die beste metodes en die beste tydsberekenig – ja, Hy gebruik vir ons 100% effektief presies volgens sy ontwerp en tydraamwerk.

Wat kan ons van Hom in ons verwag?
• Selflose en spontane doen en gee in die lewens van diegene wat in nood is;
• ‘n vriendelike leefruimte waarin almal welkom is;
• moeiteloos en deeglik word ander gehelp;
• bewustelike en onbewustelike ervaring van ‘n Jesus-leefwyse;
• elke sekonde, elke dag, elke jaar leef ons saam as een gelukkige hemelse huisgesin; en
• met ‘n positiewe en realistiese uitsien na vandag en more.

Welkom in ons Here se nuwe wêreld!

Doom Charl