Thursday, October 27, 2016

Oordenking 30 Oktober 2016

Tema: Die uitsonderlike waarde van gebedsvertroue
“Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!” (Psalm 84:13)

In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou! Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou.

In Psalm 84 word die onbeskryflike positiewe waarde van ‘n besoek aan die tempel soos in die tyd van die Ou Testament beskrywe. In die denke van die gelowige voor die uitstorting van die Heilige Gees, is God op ‘n besonderse wyse teenwoordig in die tempel in Jerusalem. Daar in die tempel woon God. Om ‘n pelgrimtog aan te pak Jerusalem toe om die voorgeskrewe offers te bring, bring groot seën en voorspoed vir die getroue Jood. Daar waar God is, is rus en vrede. Waar Hy is, ontvang die gelowige nuwe krag. Simboliek beskrywe iets van die uitsonderlike ervaring in God se teenwoordigheid. Die mossie en die swaeltjie maak nes daar. Dit is soos fonteine water na droogte, soos vroeë reën wat seën bring.

Maar dan met die afsluiting van die Ou Testament, kom ‘n totaal nuwe en beter bedeling vir elke Jesus-mens. Jesus Christus word gebore as mens op aarde en kom Self vertel wat sy koms beteken. Hy kom gee die belofte van die Heilige Gees wat sou kom en kort na sy volledige verlossingswerk op aarde afgehandel is, word die Heilige Gees uitgestort. En watter verskil het dit nie gemaak nie! Nou is God nie meer beperk om net in die tempel in Jerusalem teenwoordig te wees nie, maar Hy kom woon deur sy Gees in elke Jesus-mens!

Vandag en elke ander dag, kan elke Jesus-mens die besondere ervaring en wete hê dat God teenwoordig is. En waar Hy is, word die onbeskryflike waarde van ‘n besoek aan die tempel waar. By Hom is rus en vrede, by Hom is nuwe krag, by Hom is nuwe lewe. By Hom is alles wat elke Jesus-mens nodig het, vir ‘n intieme en persoonlike liefdesverhouding met Hom.

Ons elkeen se binnekamer, waar ons alleen by Hom is om te bid, is die plek en die geleentheid om iets baie besonders en baie spesiaal te ervaar van God se teenwoordigheid. Hierdie ervaring kom nie noodwendig dadelik en op ‘n bonatuurlike wyse nie. Elke Jesus-mens word aangemoedig om sy of haar eie ontdekking en gewaarwordings in sy of haar binnekamer te maak. Daar is nie bindende voorskrifte of swaar pligte vir hierdie wonderlike geleentheid nie.

Raak bewus van die waarde om die lewende teenswoordige God te vertrou in gebed!

Thursday, October 20, 2016

Oordenking 23 Oktober 2016

Tema: My binnekamer om Stilte te vind
“... as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.” (Matteus 6:6a)

Elke Jesus-mens het gebed nodig in ons persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in ons. Deur gebed leer ons meer verstaan en ontdek wie Hy in ons is. Ons grootste motivering om meer te bid, is om Hom beter te ken en meer te groei in ons verhouding met Hom. Ons is besig om by Jesus self te leer oor gebed.

Ons groot Leermeester moedig ons aan om na jou kamer toe te gaan en die deur toe te maak as jy bid. So het die term “binnekamer” ontstaan as daardie unieke en spesiale plek waar elke Jesus-mens hom- of haarself afsonder om te bid. Vir eers wil ons net fokus op die belangrikheid en waarde van ‘n binnekamer vir elkeen van ons. Soos die reeks vorder sal ons meer kom by die inhoud en daardie dinge waarmee ons besig kan wees in ons binnekamer.

Prakties kan jou binnekamer enige plek of ruimte wees waar jy regtig alleen en sonder enige steurings van buite is. Moontlike voorbeelde kan jou slaapkamer, studeerkamer, ‘n hoekie in die sitkamer, ja, enige vertrek in jou blyplek wees. Dit kan ook ‘n plekkie in die tuin of natuur wees. By die werk kan dit ‘n stoortjie of ander afgesonderde plek wees. Dit is sterk aan te beveel dat dit ‘n vaste en gerieflike plek sal wees. Dit is ook belangrik dat ander in die huis of by die werk sal weet dat wanneer jy in jou binnekamer is, wil jy nie gesteur word nie. Verkieslik moet jy ook so goed as moontlik van harde geluide of geraas afgesluit wees.

Saam met die plek waar jou binnekamer is om te bid, is die keuse van die tyd van die dag of nag wanneer jy tyd daar spandeer belangrik. Hier is dit ook verkieslik min of meer dieselfde tyd in jou eie 24 uur dag, sodat dit in ‘n gesonde roetine kan ontwikkel. Tog is dit bedoel dat dit so ‘n aangename ervaring vir jou is, dat jy uitsien om dit getrou te doen, sonder om skuldig te voel as dit toevallig nie uitwerk nie.

Hoekom is die plek soos ‘n binnekamer en die tyd in die binnekamer belangrik? Dit is bedoel om die uiterlike ervaring vir jou te gee van die innerlike rus en krag van wie God reeds in jou is. In jou binnekamer spandeer jy en die onsienlike God tyd in mekaar se teenwoordigheid. Soos die reeks oor gebed vorder, sal ons meer leer oor die bewuste teenwoordigheid van God wat op ‘n baie unieke manier moontlik is in jou binnekamer. In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou!

Thursday, October 13, 2016

Oordenking 16 Oktober 2016

Tema: Hoekom sal ek meer en “beter” wil bid?
“So moet julle bid ...” (Matteus 6:9a)

Een van die heel belangrikste geloofsdissiplines vir Jesus-mense, is gebed. Gebed vorm ‘n integrale deel van ons elkeen se lewende verhouding met ons Here Jesus self. Gebed is ons 24 uur 7 dae van die week permanente kontak met Hom wat kragtig in ons teenwoordig is. Maar juis omdat hierdie verhouding gedurig bedoel is om te groei en te verdiep, is daar vir elkeen van ons meer om te ontdek van Hom, spesifiek deur middel van gebed. Nie een van ons behoort tevrede te wees as ons agterkom ons gebede het, of is besig, om te stagneer nie. Mag God se Gees ons inspireer om meer en “beter” te bid!

Kom ons vra vir Jesus self om ons te leer bid. Hy leer sy volgelinge oor die belangrikheid van gebed. Hy praat oor die moets en die moenies van gebed. Hy gee riglyne oor die inhoud van gebede. Hy het self gebid terwyl Hy hier op aarde was. Die Evangelieskrywers doen moeite om soveel as moontlik te skrywe oor Jesus se eie gebedslewe, en daar is verseker praktiese lesse wat ons daaruit kan leer. Ons wil graag in die volgende paar weke spesifiek prakties raak oor gebed.

Maar voordat ons by die praktiese lering oor gebed kom, is dit eers belangrik dat elkeen van ons gemotiveer word om meer en “beter” te bid. Eers wanneer elkeen ‘n dieper honger en dors na ‘n dieper en intiemer verhouding van ons Here in ons ontwikkel, sal ons graag meer intieme kontak met Hom wil hê deur gebed. Iets van hierdie misterieuse liefdesverhouding met God, is baie eenvoudig: hoe meer kontak deur gebed, hoe intiemer is die verhouding. Anders gesê: hoe meer ek bid, hoe beter ken ek Hom!

Hoekom plaas ek die hele tyd “beter” in aanhalingstekens? Weer dink ek dis eintlik eenvoudig: sodra ons as Jesus-mense beter verstaan van gebed, behoort daar nie trappe van vergelyking te wees as ons bid nie. Omdat gebed primêr met ons verhouding met die Here te doen het, en omdat die Heilige Gees in ons volledig in beheer is van ons verhouding met Hom, beoordeel Hy nie ons gebede as “goed, beter, beste” nie!

Met hierdie motivering kan elkeen meer bid vir geestelike herlewing persoonlik en globaal, meer bid vir persoonlike probleme, meer bid vir reën, meer bid vir ons leiers, ja, meer bid vir enige saak wat die Gees in jou wakker maak ...