Friday, February 3, 2017

Oordenking 5 Februarie 2017

Tema: Tevrede in en met Mekaar
Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here lief het ...” (Jesaja 62: 4c)

Kom ons dink mooi oor die verhoudings waarin ons leef. Ons is in verhouding met onsself, met ander en met God – ons is geskape as verhoudingswesens. In alle verhoudings is daar behoefte aan liefde en respek. Tog ervaar ons so min van goeie en gesonde verhoudings in ons elke dag se bestaan. Hoekom?

Ons gewone daaglikse lewe gaan oor mense en oor dinge. Hieroor stres ons, baklei ons en lê ons wakker in die nag. Gewone daaglikse dinge, het die neiging om oor te neem in ons. Dit is wel belangrik dat ons sal fokus op ons lewensomstandighede. Maar as my lewensomstandighede al is waarop ek fokus, ontstaan daar  ‘n leemte wat min mense ooit ontdek.

In die hele proses kry ons seer. Ons begin onsself sien deur die vals bril van die mense en dinge om ons. Die ongelukkige waarheid is dat hoe ek na myself kyk, is ook hoe ek ander sien. Hierdie siening van onsself en ander, het die effek op ons verhoudings dat ons mekaar teleurstel en mekaar seermaak.

Daar is egter ‘n dieper Geheim vir elke Jesus-mens om raak te leef: Wie Hy werklik in elkeen reeds is! Moenie te gou dink dat jy dit reeds volledig verstaan en dit ten volle ervaar nie. Vir elke Jesus-mens, is dit ‘n lewenslange geloofsreis om meer van Hom in jou raak te leef. Dit gebeur vir niemand van ons, dat ons oornag volledig vry kom van mense-dinge en aardse-dinge nie.

Min of meer werk dit so:
1.      Om dieper in te groei in die liefde wat God vir jou het;
2.      Om deur God se innige liefde, jouself lief te kry;
3.      Om deur hierdie egte God-liefde in jou, ander lief te hê.

 Vir hierdie salige tevredenheid, is daar tyd om saam te spandeer. Elkeen van ons kan die tyd saam met die Teenswoordige Een geniet om ons verhouding met Hom te sien groei. Elkeen van ons kan tyd met onsself spandeer om vrede te hê met wie ek is. Elkeen van ons kan hierdie vrede in die Teenswoordige Een geniet in gesonde verhoudinge met ander.

So ontwikkel my verhoudinge dat ek tevrede is in my verhouding met God, ja, ons is tevrede met Mekaar. So is ek ook tevrede met myself. En so is ek tevrede met ander in my lewe, ja, ons is tevrede met mekaar.