Thursday, December 11, 2014

Oordenking 14 Desember 2014

Om Hom sonder vrees te dien

"... dat ons ... Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe.” (Lukas 1:73 tot 75)

 God het sy Allerbeste vir ons gegee met die volmaakte verlossing wat Jesus vir ons op aarde kom voltooi het. Hoe kan ons dit die beste Kersfees ooit vir Jesus maak? Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Die beste Kersfees ooit, sal gaan oor wie Jesus is. In die raak leef van jou eie geringheid voor God, word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.

 Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die Jesus-geboorte. Vir Lukas is die geboorte van Johannes die Doper, as wegbereider vir Jesus se geboorte, ‘n baie belangrike deel van die vertelling. Op ‘n gevorderde leeftyd word Elisabet swanger. Haar priesterman, Sagaria, besing die wonder van Jesus wat sou kom en die geboorte van hulle eie seun, Johannes, in ‘n loflied.

God se grootheid word besing omdat Hy die Jode se verwagting van ‘n Verlosser beantwoord. Oor baie geslagte is hierdie verlange na die Messias lewendig gehou. Maar Sagaria se eie seun sal ‘n uiters belangrike rol speel in die voorbereiding van Jesus se koms. Johannes die Doper sal reeds spesifieke waarhede bekend maak, voordat Jesus daarop sal voortbou.

 Die beste Kersfees ooit, sal onder andere beteken dat elkeen van ons, soos asof vir ‘n eerste keer, die grootheid van God se genade, wat in Jesus self vir ons ‘n werklikheid is, sal uitleef. Nooit kan enige een van ons sê dat ons reeds die hoogtepunt van erkenning aan God bereik het nie. Daar sal jaar na jaar, Kersfees na Kersfees, vir ons die ruimte wees om te verbeter, te groei, te vorder, te klim. Die ruimte vir hierdie vordering jaar na jaar, kan slegs wees in wie God besig is om in ons te word.

 Op pad na die beste Kersfees ooit, verdwyn alle vrees vir God, en word ons meer en meer met die hoogste ontsag en bewondering vir Hom gevul. In hierdie groeiproses word die behoefte om Hom te dien met opregtheid net al hoe groter en dringender. So sal niemand van ons kan sê dat ek as Jesus-mens dit regkry dat Hy my hele lewe totaal en al oorgeneem het nie – ons hou elkeen ‘n deeltjie vir onsself terug en vergeet selfs groot dele van die dag van Hom.

Johannes die Doper se boodskap voor Jesus se geboorte was, dat Jesus die weg en die waarheid en die lewe is. Maak hierdie Kersfees die beste deur Jesus met groter dringendheid uit te leef as die ENIGSTE WEG TOT DIE LEWE !!!

Thursday, December 4, 2014

Oordenking 7 Desember 2014


Om gering voor God te lewe

"... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.” (Lukas 1:48a)

 Ons maak gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Uiters bepalend is die gesindheid waarmee elkeen van ons gereed maak vir dié Jesus wat vir ons mens geword het.

 Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die Jesus-geboorte. Ons het reeds gehoor hoe die moeder van Jesus, haarself aan die Here beskikbaar stel vir die Heilige Gees se ingrype om swanger te word. Haar familielid Elisabeth is ook swanger met die wegbereider vir Jesus se koms, Johannes die Doper. En so ondersteun die twee swangervrouens mekaar sodat Elisabeth selfs van vreugde uitroep oor die moeder van die Here se Kindjie wat op pad is. Maar dan die merkwaardige “loflied van Maria”:

 Die grootheid van ons Verlosser word besing ... die mag waarmee Hy dinge sal doen ... sy opregte omgee oor geslagte heen ... die krag waarmee Hy in beheer sal wees ... sy passie vir diegene wat swaarkry ... die waarborg dat al die beloftes rondom Hom waar sal word ...

 ... en dit alles in die volgende gesindheid: "... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.”

 Aan meer opregte nederigheid kan ek myself nie indink nie. Die vrou wat geboorte gegee het aan die enigste Verlosser van alle tye, beskou haarself as gering. Sy voel klein vir die voorreg om ma van Jesus te wees. In haar eenvoud begryp sy iets van die buitengewone kontras tussen haar en haar Kind! In die woorde van haar loflied, word daar baie oor die Kindjie in haar gesê en tog ook baie min oor haarself.

 Maar wat Maria oor haarself sê, is van grootse betekenis. Die grootsheid van wie Maria in haar geringheid is, word selfs buite verband geruk deur die ophef wat die Rooms Katolieke Kerk van haar maak. In buite-Bybelse Griekse literatuur is die moeder van God bekend as die Theotokos. Vir ons as Gereformeerdes het sy verseker nie haar bevoorregte posisie kop toe gevat nie. Vir haar het dit baie eerder gegaan oor wie Jesus is.

 Die beste Kersfees ooit, sal gaan oor wie Jesus is. Dit sal veral gaan oor wie Hy is, in kontras met elkeen van ons. In die raak leef van jou eie geringheid voor God, word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.