Wednesday, September 18, 2013

Oordenking 22 September 2013

Hoop in ‘n tyd van wanhoop

“Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Petrus 3:15b)

Het jy dalk ‘n storie van hoop om in ‘n wanhopige tyd vir ander te vertel?

Daar is eintlik net twee groepe mense vandag, diegene wat hoop en die ander wat hoop verloor het. En dit is juis die wanhopiges wat gedurig negatief en pessimisties is. Volgens hulle loop alles op die oomblik verkeerd en gaan alles agteruit en lyk die toekoms donker. Baie gou neem die hoop-verloorders die geselskap oor met hulle verdoemende praatjies en net so gou praat almal saam in ‘n koor. Selfs die positiewes voel dat die geskiedenis verkeerd verloop. Ons ontdek ‘n teenstrydigheid: die innerlike mens wat vrede het by God teenoor die uiterlike omstandighede wat daagliks ons vrede steel.

Maar vir Jesus-mense en eintlik net vir Jesus-mense, is daar altyd hoop. En dit ten spyte van probleme wat hulle lewe baie moeilik maak, ten spyte van onredelike en onverdiende swaarkry, ten spyte daarvan dat hulle sleg behandel word en sleg gesê word, ten spyte daarvan dat hulle onskuldig skuldig bevind word, ten spyte van wat ookal ...  Jesus-mense bly hoop om die regte redes.

Want Jesus-mense se hoop is ...

·         Om in die sagte liefde van God rus te vind;

·         In Christus te lewe wat gesterf en opgestaan het;

·         Om vergifnis uit te deel omdat ek reeds vergewe is;

·         Die Gees in jou wat begrip gee in die lewe;

·         Om aan ander hoop te gee omdat jy in die Hoop lewe;

·         Baie meer as om net vir hemel gereed te wees en ‘n pynlose toekoms te verwag;

·         Om soms net te wees ...

Prakties beteken hoop ...

1.       Soek en vind hoop in Hom (God is hoop);

2.       Gebruik tye/tydjies van stilte en afsondering om te ontvlug uit omstandighede van wanhoop (jy kan jou hoop kies); en

3.       Fokus op ander wat sonder hoop is en doen iets opbouend vir hulle (ander het ook hoop bitter nodig).

Hoe klink jou storie van hoop?

Doom Charl (082 469 2499)

Wednesday, September 11, 2013

Oordenking 15 September 2013


Hooftema: Jesus sê wat?
Sleutel 9: Die sleutel tot egte godsdiens

“Span al julle kragte saam om by die smal deur in te gaan.” (Lukas 13:24)

Egte godsdiens? Is daar so iets? Is dit nie juis die probleem nie? Godsdiens het soveel valsheid in die kerk ingedra. Daar is so baie goeie kerkmense wat erg godsdienstig is, maar dit sonder die Lewe, sonder die lewende Jesus!

Kom ons praat dan eerder van egte Jesus-mense, mense soos ek en jy wat die Sleutel van die lewe hét, wat op die smal pad by die smal deur ingaan, vir wie die hemel reeds wawyd oopstaan, wie se leefwyse deur die Gees van God bepaal word ...

Mý opinie: valse godsdiens het tot binne-in die kerk gekom deur die klem op gehoorsaamheid en my eie verantwoordelikheid om goed te lewe. Die gevolg is ‘n wavrag skuldgevoelens wat getroue kerkmense met hulle saam dra. My eie gesukkel om self rein te kan lewe en vry van enige wêreldsgesindhede te wees, het my laat ontdek dat die antwoord vir ‘n vrygemaakte lewe iewers anders is. Die kerk met sy valse leraars het dit so in ons koppe ingeprent dat ons nie “heilig” genoeg lewe nie, dat ons net nie vry kom van ons alewige “ek”-pogings nie.

Hoe kan ek weet dat ek ‘n egte Jesus-mens is? Eers moet ek baie goed besef dat ek nie self kan verander nie. Net God maak my deur sy Gees sy eie kind. Dit voel meer gereeld vir my dat hoe harder ek self probeer om ‘n oulike kind van Hom te wees, hoe meer stel ek teleur – is ek oor myself teleurgesteld. Ek dink nie dat Hy so baie in óns teleurgesteld is nie, óns is dan sy handewerk en sy liefdeswerk en sy vernuwingswerk en sy beeld-draende-lofrede! Hy verstaan ons gesukkel met onsself 100% en help 100% met die 100% oplossing: Jesus! Ja, selfs Jesus ín my!

Ek bly by my standpunt: ek gee (gedurig, aanmekaar, elke dag, elke sekonde) oor ... aan Hom, ek gee my pogings en probeerslae oor aan Jesus in my. En soos wat Hy in my is, wil en kan en is Hy besig in sý egte Jesus-mens/-kind. Ek is en bly 100% afhanklik van Jesus ... nét Hý het die sleutels van die Lewe in sy hand. Sý prys vir my lewe is só GROOT dat géén poging of probeerslag van my vermelding werd is nie.

Jesus is die EGTE EEN ín my – dít is egte Jesus-mens!

Doom Charl