Wednesday, September 18, 2013

Oordenking 22 September 2013

Hoop in ‘n tyd van wanhoop

“Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Petrus 3:15b)

Het jy dalk ‘n storie van hoop om in ‘n wanhopige tyd vir ander te vertel?

Daar is eintlik net twee groepe mense vandag, diegene wat hoop en die ander wat hoop verloor het. En dit is juis die wanhopiges wat gedurig negatief en pessimisties is. Volgens hulle loop alles op die oomblik verkeerd en gaan alles agteruit en lyk die toekoms donker. Baie gou neem die hoop-verloorders die geselskap oor met hulle verdoemende praatjies en net so gou praat almal saam in ‘n koor. Selfs die positiewes voel dat die geskiedenis verkeerd verloop. Ons ontdek ‘n teenstrydigheid: die innerlike mens wat vrede het by God teenoor die uiterlike omstandighede wat daagliks ons vrede steel.

Maar vir Jesus-mense en eintlik net vir Jesus-mense, is daar altyd hoop. En dit ten spyte van probleme wat hulle lewe baie moeilik maak, ten spyte van onredelike en onverdiende swaarkry, ten spyte daarvan dat hulle sleg behandel word en sleg gesê word, ten spyte daarvan dat hulle onskuldig skuldig bevind word, ten spyte van wat ookal ...  Jesus-mense bly hoop om die regte redes.

Want Jesus-mense se hoop is ...

·         Om in die sagte liefde van God rus te vind;

·         In Christus te lewe wat gesterf en opgestaan het;

·         Om vergifnis uit te deel omdat ek reeds vergewe is;

·         Die Gees in jou wat begrip gee in die lewe;

·         Om aan ander hoop te gee omdat jy in die Hoop lewe;

·         Baie meer as om net vir hemel gereed te wees en ‘n pynlose toekoms te verwag;

·         Om soms net te wees ...

Prakties beteken hoop ...

1.       Soek en vind hoop in Hom (God is hoop);

2.       Gebruik tye/tydjies van stilte en afsondering om te ontvlug uit omstandighede van wanhoop (jy kan jou hoop kies); en

3.       Fokus op ander wat sonder hoop is en doen iets opbouend vir hulle (ander het ook hoop bitter nodig).

Hoe klink jou storie van hoop?

Doom Charl (082 469 2499)

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.