Thursday, June 30, 2016

Oordenking 3 Julie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: God is niks aan niemand verskuldig nie!
“Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 41:2)

Ons is besig met tydlose lewenswaarhede in die boek Job. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde nie, en God kan nie beskuldig word vir die verkeerde nie. Soos wat ons Hom beter ken, is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Die Here praat vir die eerste keer direk met Job in hoofstukke 38 tot 41. Eintlik is Hy besig om vir Job te ondervra en uit te daag om Hom te antwoord op baie direkte vrae. Hierdie reaksie van die Here self, kan moeilik in net ‘n paar sinne opgesom word, maar kom volgens my op die volgende neer:

·         Wie het die aarde en die sterrehemel gemaak? Wie sorg vir lig en donkerte, vir dag en nag? Wie is in beheer van die natuurelemente soos reën, donderstorms en sneeu?

·         Kan die mens die leeu, die wildedonkie, die volstruis, die perd of die valk werklik beheer, en watter nut het hierdie diere vir die mens?

·         Wie het die mag en uniekheid aan die seekoei en die krokodil gegee?

Tussendeur hierdie lang beskrywings van hoe die Here die enigste Een is wat werklik in beheer is van sy skepping, konfronteer Hy vir Job met vrae soos:

·         “Wil jy ‘n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys?” (Job 39:35)

·         “Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?” (Job 40:3)

·         “Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 42:2)

So min of meer in die middel van die Here se konfrontasie, sê Job: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe kan ek U antwoord? Ek sal liewer stilbly.” (Job 39:37)

God is tot onbeskryflik meer in staat as die mens. Hy het niks van enige mens op hierdie aarde nodig nie. Alles is ondergeskik aan sy mag en Hy kan enigiets doen wat Hy wil. Elke mens op hierdie aarde is een honderd persent aan Hom ondergeskik en is direk van Hom afhanklik.

Mens, aanvaar net: God skuld jóú NIKS! Maar mens, onthou ALTYD: Hy ís BAIE lief vir jou!

Wednesday, June 22, 2016

Oordenking 26 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: kan jy waag om God te bevraagteken?
“God is meer as die mens ...” (Job 33:12b)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde wat ons doen nie. God kan ook nie altyd beskuldig word vir die dinge wat verkeerd loop in ons lewe nie.

Elihu, ‘n vierde en jonger vriend van Job, is in Job 32 tot 37 aan die woord. Hy help vir Job en die ander drie vriende reg in hulle verkeerde redenasies. Dit is nogal moeilik om kortliks saam te vat wat hy alles sê, die ideaal sal wees dat elkeen van ons dit self sal lees. Ek gaan tog probeer om die hooflyne van sy betoog te gee.

Een van Elihu se belangrike waarhede, is dat God en die mens nie werklik met mekaar vergelyk kan word nie. Soos ons teksvers sê: “God is meer as die mens ...” (Job 33:12b). Hierdie is die rede waarom ons nie vir God kan beskuldig dat Hy onregverdig optree nie. Ons behoort eerder die fout by onsself te soek vir dinge wat verkeerd loop in die lewe. Soos Elihu sê: “Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” (Job 34:12a).

Dan maak Elihu ‘n groot ding van hoe God verskillende maniere gebruik om die mens aan te spreek en sodoende te red van die graf. Onder andere praat God met die mens terwyl hy slaap (Job 33: 12 tot 18). “Of Hy spreek die mens aan met ernstige siekte ...” (Job 33:19a). Elihu beskrywe hierdie maniere waarop ons God se wil in ons lewe kan ken, baie realisties. Volgens hom kom dit nie altyd maklik nie, maar juis deur worsteling en baie vrae wat ons vra in tye van nood.

Vir my is Elihu se breedvoerige beskrywing van God se grootheid en majesteit amper die belangrikste. Hy beskrywe God se grootsheid in die skepping as motivering waarom ons Hom nie behoort te bevraagteken nie. Hoor net een van Elihu se ongelooflike uitsprake: “God stuur die storm óf om te straf óf om vir die aarde te sorg óf om sy liefde te betoon.” (Job 37:13).

Wat is ons gevolgtrekking uit Elihu se toespraak? Ons het elkeen die geleentheid om in ons uiteenlopende omstandighede, beter te ontdek wie ons God is. Soos wat ons Hom beter ken (al sal ons Hom nooit volledig kan verstaan nie), is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Thursday, June 9, 2016

Oordenking 12 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: Is swaarkry die gevolg van sonde?
“Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie!

Drie van Job se vriende voer ‘n baie lang gesprek (Job 4 tot 31, dit is 27 hoofstukke) met hom oor die rede dat iemand wat so vroom en opreg is, so bitter swaar kan kry. Hulle gee volledig erkenning aan al Job se goeie hoedanighede. Hulle praat baie oor God, maar hulle praat nooit in hierdie lang dialoog, met God self nie. Hulle betoon dus simpatie met Job se ellende, maar nie een keer bid hulle vir hom nie. Wanneer mens dit lees, klink dit asof hulle in sirkels redeneer en dieselfde ding net oor en oor herhaal. Job probeer sy beste om sinvol op hulle argumente te reageer, maar in hierdie lang redenasies met hierdie drie vriende, klink nie asof Job by ‘n goeie verklaring van sy swaarkry uitkom nie.

Die grootste fout wat Job se vriende maak, is om te redeneer dat sonde altyd die oorsaak van swaarkry is. Hulle eenvoudige antwoord aan Job is dat hy net sover moet kom om sy sonde te bely. Vriend EEN, Elifas sê onder andere: “Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a). Vriend TWEE, Bildad sê: “As jy ... die Almagtige om genade smeek ... sal Hy ... jou gesond in jou huis terugbring.” (Job 8:5-6). Vriend DRIE, Sofar sê: “As God maar wou begin praat ... dan sou jy weet dat God jou nog nie eers vir ál jou sondes straf nie.” (Job 11:5-6).

In Job se reaksie op sy vriende se argumente, worstel hy met die gevolge van reg en verkeerd doen. So sê hy onder andere: “Al is my saak reg, my woorde sou my skuldig maak; al is ek ook onskuldig, ek sou oor my woorde veroordeel word.” (Job 9:20). Die opregte en vroom Job soek na ‘n rede waarom dinge so verkeerd geloop het in sy lewe.

So maklik kan ons dieselfde fout maak wanneer dinge in ons lewe verkeerd loop. Ons kan net so maklik redeneer dat daar iets verkeerd is in ons lewe wat die direkte oorsaak is vir ons teenspoed. Laat ons egter dadelik ook sê dat daar verseker in sommige gevalle wel probleme op ons pad kom, wat die gevolg is van verkeerde keuses wat ons maak. Eenvoudig gesê: sonde kan swaarkry veroorsaak, maar nie altyd nie!