Thursday, February 19, 2015

Oordenking 22 Februarie 2015

Genade slegs vir soekers.

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

(2 Korintiërs 12:9)

 Daar is al baie debatte gevoer en daar is uiteenlopende standpunte oor wat presies Paulus se “doring in die vlees” sou wees. Dis eenvoudig, as ons moes geweet het, sou hy vertel het. Die belangrikste is dat dit verseker iets baie moeilik was om te hanteer, en dat Paulus ‘n geweldige stryd daarteen gehad het – hy koppel selfs Satan se naam daaraan!

 Ek weet nie wat is jou grootste stryd of mees intense krisis of wakker-lê-in-die-nag-bekommernis nie, ja, jou “doring in die vlees”! Dit kan enige iets wees wat jou moedeloos, magteloos, broos, gefrustreerd, swak, hooploos, kragteloos, onseker, of hoe ook al laat voel. Dis verseker iets in jou lewe wat jy nie self kan verander nie. Dit is waarskynlik iets waarvoor jy nie gekies het nie. Dit kan ook iets wees wat niemand anders van weet nie, of wat niemand anders sal verstaan nie.

 Jy het al alles onder die son probeer om uit of deur of oor hierdie “DING” in jou lewe te kom. Jou planne is op, ander se raad is uitgeput, jy is in ‘n doodloopstraat, daar is geen lig in die tonnel nie. Moontlik is daar mense wat hier lees en redeneer dat dit nie vir hulle geld nie – sal ons sê, gelukkige hulle, of oneerlike hulle dalk? Verseker is daar baie wat ‘n “DING” het wat hulle mee loop, dag en nag.

 Die harde werklikheid vir diegene wat wel ‘n “DING” het, dit staan lynreg en radikaal teenstrydig teenoor God se genade! Die botsende kontras is onverstaanbaar en onverklaarbaar. Die “DING” en genade bots so erg, dat ons slegs tot een gevolgtrekking kan kom: ons verstaan glad nie. In ander woorde sou ons kan sê, Jesus-mense behoort nie ‘n “doring in die vlees” te hê nie.

 Tog is Jesus-mense die enigstes wie se “doring in die vlees” vir hulle hanteer word. Dis so eg deel van God se genadeplan vir ons op pad na volmaaktheid. Hoe meer ons ons eie magteloosheid besef, hoe beter is ons kans om genade raak te leef. Juis waar God se genade my enigste uitkoms is, waar ek totaal gestroop is van my eie bydrae om daaroor te kom, dan gebeur die onvoorspelbare en grenslose ingrype van God. Maar let wel, hierdie ingrype van God is op sy manier en tyd, ter wille van sy doel: Hy is met my op pad na volmaaktheid.

Thursday, February 5, 2015

Oordenking 8 Februarie 2015


Hoe ontvang ek egte genade?

“Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand kan roem nie.” (Efesiërs 2:9 Direkte Vertaling)

 Definisie:  Egte genade is God wat elke Jesus-mens deur sy Gees volledig verander om volmaak te word!

 Wat kan ek of moet ek nie doen nie, om hierdie genade te ontvang?

 ·         Ek leef egte genade alleen raak wanneer my alledaagse bestaan gelewe word in die permanente teenwoordigheid van God. Solank as wat ek net bid vir my eie behoeftes en wanneer my gebede meeste van die tyd net met alledaagse dinge te doen het, mis ek God se doel in my.

·         Alle geestelike verryking wat ek kan bekom deur Bybel te lees, ander Gees-geïnspireerde literatuur deur te werk, aan opbouende geloofsgesprekke deel te neem en enige blootstelling aan “geestelike kos” – vir wie of wat doen ek dit? Vir myself? Of vir wie God in my is? Daar is ‘n lewensbelangrike verskil!

·         Hoekom gaan ek kerk toe? Hoekom gee ek geld vir armes? Hoekom breek dit my hart as ander swaar kry? Hoekom wil ek vir ander raad gee wat uit my ervaringe baat kan vind? Is hierdie alles “goeie werke” wat ek onbewustelik nastreef om my posisie teenoor God te verbeter? Egte genade ontvang ek sonder enige bydrae of opoffering van my kant af!
 
·         Egte genade het volgens bogenoemde definisie te doen met God se einddoel van my lewe – wat is God se droom met my lewe op aarde? Daarom het egte genade te doen met die manier waarop God met my op pad is na sy doel met my.
 
·         Die “hoe ontvang ek”, het dus 100% te doen met wat God besig is om te doen op sý werkswyse en sý tyd en sý doel. Maar tog het ek ‘n keuse om saam te werk of nie, solank my vrywillige samewerking nie daarop neerkom dat ek dit vir my eie krediet neem nie.
 
·         Eintlik ontvang ek egte genade onverwags, onverdiend en onvoorspelbaar.
 
·         Egte genade ontvang ek in presies die regte “hoeveelheid’ wat ek kan hanteer op enige stadium van my lewe. Omdat dit God alleen is wat dit gee, gee Hy in volmaakte mates vir die groei na volmaaktheid.