Thursday, January 28, 2016

Oordenking 31 Januarie 2016

Jesus-mense leef ander se seerkry raak

“Hy het hulle innig jammer gekry ...” (Matteus 14: 14b)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe. Ons loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom.

In Matteus 14 gebeur ‘n reeks tragiese en ontstellende dinge in Jesus se lewe terwyl Hy tussen mense van sy tyd rondbeweeg. Eerstens word Johannes die Doper onthoof deur Herodes, en dit omdat hy juis bekend was as profeet wat die mense voorberei het op Jesus se koms. Tweedens stroom ‘n groot menigte mense agter Jesus aan, waaronder baie siekes. En laastens bevind Jesus Hom op ‘n afgeleë plek tussen 5000 mans, sonder vrouens en kinders, wat kos moet kry. Wat leer ons by Jesus in hierdie ontstellende omstandighede?

Die wrede moord op Johannes die Doper, ontstel Jesus so, dat Hy Homself afsonder op ‘n stil plek – sy hart is gebreek, Hy treur en wil alleen wees. Jesus verstaan die hartseer wat met dood gepaard gaan. Hy verstaan ons hartseer, en Hy gee ons ook ‘n Gees-vervulde hart om saam met ander te huil met die verlies van ‘n dierbare. Ons kan daar wees vir mekaar in hartseer tye. Met Jesus se Gees in ons, is Hy by elkeen wat self hartseer is, of wat ander ondersteun wat hartseer is.

Siekte ontneem so baie mense van lewenskwaliteit. Jesus het ‘n hart vir siek mense. Hy verstaan die onsekerheid wat met siektetoestande gepaard gaan. In sy tyd op aarde was daar glad nie die mediese kennis en behandeling van vandag beskikbaar nie. Vandag sien ons God se hand in die mediese professie en gebruik Hy die medici om lewenskwaliteit vir siek mense terug te gee. Maar terselfdertyd beteken dit dat Jesus-mense mekaar en vir ander nie-Jesus-mense, liefdevol ondersteun tydens alle vorme van siekte.

Eers die dood van ‘n geliefde, daarna ‘n klomp siekes wat genees word, en dan ‘n baie groot skare honger mense in die middel van nêrens. Die Jesus-hart gee met ‘n wonderwerk kos vir die honger skare: vyf brode en twee visse voed meer as 5000 mense. Maar uiteindelik leer ons Jesus werklik ken as die Brood van die Lewe. Met ‘n Jesus-hart kan ons elke dag brood en Brood uitdeel in ‘n fisies en geestelik honger wêreld!

Met ‘n Jesus-hart loop ons deur die stof strate van ons daaglikse doen en late, en kry ons mense “innig jammer” wat hartseer, siek en/of honger is – om dan ook vir hulle Jesus te bring!

Thursday, January 21, 2016

Oordenking 24 Januarie 2016

Jesus-mense leef met skoongewaste harte

“Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak.” (Matteus 15: 18)

Simbolies gesproke loop ons saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom self te leer hoe om beter te lewe – ja, ons loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom.

Een van die belangrike lesse wat ons by Jesus leer, is dat daar ‘n groot gevaar is in godsdienstigheid wat hoofsaaklik gebou is op die mens se eie bydraes en nakoming van verpligtinge. In Matteus 15 vaar Jesus uit teen die Fariseërs en die Skrifgeleerdes oor die oorgelewerde Joodse gebruike waarop hulle godsdienstigheid gebou is. Oor die jare ontstaan daar sekere gebruike en tradisies in die kerk waarin die mens self sorg vir sy redding, altans so dink baie godsdienstige mense steeds vandag.

Hierin is een van die groot uitdagings vandag, om heeltyd seker te maak waarom doen ons sekere dinge vir die Here en waarmee is ons presies besig in die kerk. Is dit menslike en selfgerigte pogings om God te probeer beïndruk? Doen ons sekere goed omdat ons so geleer is deur ons voorgeslagte, sonder dat ons vra waar dit vandaan kom? Die debatte wat ons in die kerk voer oor wie of wat reg en verkeerd is, oor wie of wat gaan dit regtig? Soort van: “Ek is reg en jy is verkeerd – ek wen hierdie rondte!” Is dit wat Jesus vandag vir sy kerk wil hê?

Jesus kom leer ons van die nuwe hart waarmee sy volgelinge wat in sy stof loop, elke dag beter kan lewe. Waar die Gees van Jesus my lewensingesteldheid omkeer, vra ek in elke situasie wat Jesus sou sê of sou doen. Ja, Hy het ook baie drasties opgetree as dinge verkeerd geloop het. Dink maar aan die reiniging van die tempel. Hy het nie gehuiwer om die godsdienstige leiers van sy tyd aan te vat oor hulle manier van dinge doen nie. Maar die oorheersende optrede van Jesus tydens lewe hier op aarde, was sag en liefdevol. Met deernis en opregte omgee, het Hy sy hart vir ons kom wys.

Hoe lyk jou hart? Hoeveel beïnvloed jou innerlike jou daaglikse optrede? Hoekom gaan jy kerk toe, of waarom doen jy dinge vir die Here? Wat beleef ander mense as hulle met jou te doen kry?

Jesus wil jou baie graag laat leef met ‘n skoongewaste hart ...

Thursday, January 14, 2016

Oordenking 17 Januarie 2016

Die stof van Sy voete spat op Jesus-mense

“Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25: 40)

Stephan Joubert skryf in die Beeld van 12 Januarie 2016: “God is steeds oral hoorbaar, voelbaar en sigbaar. Ons moet maar net naby genoeg aan Jesus loop dat die stof van sy voete ook op ons begin spat, dan sien ons Hom op 10 000 plekke raak.”

‘n Beter lewe vir jouself, ‘n beter lewe vir mense wat op jou pad kom en ‘n beter lewe vir almal in hierdie wêreld, begin by die naleef van Jesus se voorbeeld. Tydens Jesus se relatiewe kort fisiese optrede hier op aarde, baie lank gelede, het Hy kom wys hoe Jesus-mense lewe. Na sy fisiese vertrek met die hemelvaart, het Hy met die uitstorting van die Heilige Gees ‘n manier geskep om deur meer mense op meer plekke oor alle tye wat kom, sy voorbeeld voort te leef.

Kom ons noem net kortliks wat ons by Jesus leer:

·         Hy breek weg van alle valse vorme van godsdienstigheid en verdienstelikheid deur wetsgehoorsaamheid;

·         Hy vereenselwig Homself met mense wat swaarkry, met mense wat minderbevoorreg is en met mense wat deur die samelewing eenkant gestoot word;

·         Hy kom leer vir sy volgelinge vir alle tye wat sou kom, hoe om werklik bevrydend en met liefde gevul, te lewe;

·         Op ‘n nederige én vernederende manier bewerkstellig Hy eenmalig die redding van alle mense van alle tye wat in Hom glo;

·         Hy leer sy volgelinge dat sy Goddelike terrein, waar Hy alomteenwoordig is, op ‘n misterieuse én fantastiese wyse deur Hom beheer word;

·         Hy kies aktief om voort te leef deur sy Gees in elkeen wat bewustelik kies om in Hom te glo en Hom te dien; en

·         Hy is elke sekonde steeds besig om elkeen wat aan Hom behoort, voor te berei vir die ewigheid wat ons saam met Hom gaan deurbring.

Wat beteken hierdie Jesus-lering vandag vir my en vir jou?

1.      Jesus is ons enigste Verlosser;

2.      Jesus leef voort in ons deur sy Gees; en

3.      Jesus is besig om in ons ‘n beter lewe te skep!

Leef Jesus dus raak in 10 000 plekke ...

Thursday, January 7, 2016

Oordenking 10 Januarie 2016

Óns of Sý manier van lewe

“... ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Korintiërs 5: 7)

‘n Nuwe jaar met nuwe uitdagings en nuwe geleenthede – baie spesifiek vir ons as Jesus-mense. Ons wil groei en positief verander om beter mense te wees wat beter lewe as verlede jaar, maar hoe?

Paulus skryf baie realisties oor die lewe van kinders van die Here. Hy besef dat ons elkeen op een of ander manier swaarkry en bekommerd is oor die uitdagings van elke dag. Hy praat van “sug en voel bedruk” (2 Korintiërs 5:4), omdat “ons nog nie by die Here woon nie.” (vers 6). Die uiteindelike toekoms om vir altyd in die hemel by die Here te wees, gee ons egter moed. Maar ons is nog nie daar nie, en op pad daarheen wil ons die beste manier van lewe bemeester.

Hiervoor sorg God self!!! Hy gee die Heilige Gees as “waarborg”, wat ook vertaal kan word met “deposito” of “eerste paaiement”. So die wonderbaarlike innerlike vernuwende werk van God se Gees in ons elkeen, is net die begin van die allerbeste manier van lewe waarvoor God alleen sorg. Sonder dat ons presies verstaan of regtig kan sien wat die Gees in ons doen, ís die Gees besig in en met en deur ons. Hy is besig om ons aan te trek met die goeie tydens ons aardse tydelike lewe, sodat die dag wanneer ons “voor die regterstoel van Christus verskyn” (2 Korintiërs 5: 10), ons die ewige hemelse lewe sal ontvang.

Wat kan ek en jy doen om seker te weet ons lewe op die regte manier?

1.      NIKS – God sorg vir die goeie in ons;

2.      ALLES – gee 100% oor aan Hom: soek, smeek, begeer, verlang, verbind, bid, gee en ...

Hierdie soort van teenstrydigheid is deel van die misterie om in ‘n lewende verhouding van God te lewe elke dag. Maar Hy weet dit die beste, en daarom is Hy daar as die Beste Een om ons presies hiermee te help. Hoe meer ek en jy kan oorgee aan sy manier van dinge doen in ons lewe, hoe beter sal Hy in elkeen van ons vaar.

Mag 2016 vir jou die jaar wees waarin jy beter ervaar dat God reeds besig is om sy wil in jou lewe ‘n werklikheid te maak – dit is Sý manier om jou voor te berei vir “die vaste gebou in die hemel” (2 Korintiërs 5:1).