Thursday, November 10, 2016

Oordenking 13 November 2016

Tema: Om deur gebed een te word met Jesus
“Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (Johannes 6:56)

Deur gebed in my binnekamer luister ek na God se Woord. In my Bybel lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al hoe meer ‘n vaste en wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende Jesus in my!

Kom ons delf dieper in die misterie van ons eenwording met Jesus, Hy wat deur sy lewende Gees in ons woon en werk. In Johannes 6 vertel Jesus vir sy volgelinge meer van die betekenis dat Hy self die brood van die lewe is. Hy vergelyk die opname van brood wat geëet word in die menslike liggaam, met die eenwording tussen Hom en elkeen wat in Hom glo. Hy beklemtoon dit baie sterk dat die brood wat die mense elke dag eet om hulle fisiese honger te stil, nie permanente versadiging bring nie. Daarteenoor sal elkeen wat deur geloof die brood van die ewige lewe eet, nooit weer honger kry nie.

Hoe kan elkeen van ons seker maak dat ons wel die brood van die ewige lewe eet? Hierdie ewige brood het alles te doen met ons elkeen se bewustelike keuse om gedurig en voortdurend en met toewyding, ons volle samewerking te gee vir die Gees se werking in ons. Om hierdie brood te eet, kan op baie maniere beskrywe word, soos onder andere geloofsgroei, heiligmaking en geestelike verdieping. Alhoewel hierdie eenwording met Jesus in ons volledig sy Gees se werk in ons is, vra dit ons volledige samewerking.

Die een moontlike manier wat Jesus gebruik om hierdie eenwording te beskrywe, is dat ons een word met sy liggaam. Daar vind inkarnasie plaas, dit is, ons word die beliggaming van Jesus self. Ja, goed, dit is ingewikkeld, maar dit is juis die misterie wat ons nie regtig verstaan nie. Eenvoudiger gestel, ons word Jesus se hande en sy voete. Geestelike groei is nie om meer soos ‘n engel te word nie, dit is eerder om meer in jou fisiese liggaam Jesus se gesagvolle verteenwoordiger te wees. Op hierdie wyse is daar al hoe minder verskil tussen ons geestelike lewe en ons alledaagse doen en late.

Waar begin of gebeur hierdie inkarnasie of totale nuwe lewensbenadering? Daar waar die Gees geleentheid kry om met jou en my besig te wees. En hier is nie vaste voorskrifte of neerdrukkende eise wat gestel word nie. Maar onder andere is die tyd en wyse waarop ons geleentheid skep in ons binnekamer, verseker een van die beste plekke om geïnspireer en gevorm te word om Jesus se hande en voete in ons daaglikse lewe te wees!

Thursday, November 3, 2016

Oordenking 6 November 2016

Tema: Om te bid vir die ewige Brood
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee ...” (Johannes 6:35a)

Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou. Jou binnekamer is een baie goeie plek om die waarde daarvan te ervaar om die lewende teenswoordige God in gebed te vertrou. Tog het elkeen van ons baie nodig om beter te verstaan waarvoor ons God werklik kan vertrou.

So leer ons graag by Jesus self uit dit wat ons in die Bybel lees, toe Hy hier op aarde was. In Johannes 6 gee Hy brood aan meer as vyf duisend honger mans met die wonderwerk-vermeerdering van vyf garsbrode. Ons Jesus weet van fisiese honger en leer ons om te bid vir ons daaglikse brood. Hierin leer ons dat ons “met vrymoedigheid na die genadetroon” (Hebreërs 4: 16) van God kan gaan deur te bid. Vra gerus vir die Here wat jy dink jy nodig het, Hy wil dit graag hoor – vertrou Hom vir jou alledaagse behoeftes!

Na hierdie wonderwerk met die vermeerdering van die brood, wou die skare mense Jesus met geweld hulle aardse koning maak. Hy vlug berg op, net Hy alleen. Dit word donker, sy dissipels vaar met ‘n skuit oor die see, ‘n storm bars los, Jesus loop op die water na hulle en maak die storm stil. Die volgende dag spoor die skare wat kos gekry het Hom op en dan leer Hy hulle oor die eintlike “brood wat lewe gee.” Vir Johannes is al hierdie gebeure rondom Jesus baie belangrik, want dit gee die motivering waarom sy volgelinge met aandag wil luister na sy lering.

Jesus self is “die brood wat lewe gee”. Deur ons geloof in Jesus, eet ons hierdie simboliese geestelike brood en word ons ewige geestelike honger gestil. En soos Hy self sê: “Julle moet werk ... vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat die ewige lewe gee.” (Johannes 6:27). Hy gaan verder om vir elke Jesus-mens te belowe: “... Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Johannes 6:37b). Maar dan natuurlik die uiteinde van elkeen wat hierdie uitnodiging ernstig opneem: “... Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (Johannes 6:40b).

Waar word hierdie beloftes waar vir my as Jesus-mens? Deur gebed in my binnekamer luister ek na God se Woord. In my Bybel lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al hoe meer ‘n vaste en wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende Jesus in my!

Thursday, October 27, 2016

Oordenking 30 Oktober 2016

Tema: Die uitsonderlike waarde van gebedsvertroue
“Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!” (Psalm 84:13)

In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou! Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou.

In Psalm 84 word die onbeskryflike positiewe waarde van ‘n besoek aan die tempel soos in die tyd van die Ou Testament beskrywe. In die denke van die gelowige voor die uitstorting van die Heilige Gees, is God op ‘n besonderse wyse teenwoordig in die tempel in Jerusalem. Daar in die tempel woon God. Om ‘n pelgrimtog aan te pak Jerusalem toe om die voorgeskrewe offers te bring, bring groot seën en voorspoed vir die getroue Jood. Daar waar God is, is rus en vrede. Waar Hy is, ontvang die gelowige nuwe krag. Simboliek beskrywe iets van die uitsonderlike ervaring in God se teenwoordigheid. Die mossie en die swaeltjie maak nes daar. Dit is soos fonteine water na droogte, soos vroeë reën wat seën bring.

Maar dan met die afsluiting van die Ou Testament, kom ‘n totaal nuwe en beter bedeling vir elke Jesus-mens. Jesus Christus word gebore as mens op aarde en kom Self vertel wat sy koms beteken. Hy kom gee die belofte van die Heilige Gees wat sou kom en kort na sy volledige verlossingswerk op aarde afgehandel is, word die Heilige Gees uitgestort. En watter verskil het dit nie gemaak nie! Nou is God nie meer beperk om net in die tempel in Jerusalem teenwoordig te wees nie, maar Hy kom woon deur sy Gees in elke Jesus-mens!

Vandag en elke ander dag, kan elke Jesus-mens die besondere ervaring en wete hê dat God teenwoordig is. En waar Hy is, word die onbeskryflike waarde van ‘n besoek aan die tempel waar. By Hom is rus en vrede, by Hom is nuwe krag, by Hom is nuwe lewe. By Hom is alles wat elke Jesus-mens nodig het, vir ‘n intieme en persoonlike liefdesverhouding met Hom.

Ons elkeen se binnekamer, waar ons alleen by Hom is om te bid, is die plek en die geleentheid om iets baie besonders en baie spesiaal te ervaar van God se teenwoordigheid. Hierdie ervaring kom nie noodwendig dadelik en op ‘n bonatuurlike wyse nie. Elke Jesus-mens word aangemoedig om sy of haar eie ontdekking en gewaarwordings in sy of haar binnekamer te maak. Daar is nie bindende voorskrifte of swaar pligte vir hierdie wonderlike geleentheid nie.

Raak bewus van die waarde om die lewende teenswoordige God te vertrou in gebed!

Thursday, October 20, 2016

Oordenking 23 Oktober 2016

Tema: My binnekamer om Stilte te vind
“... as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.” (Matteus 6:6a)

Elke Jesus-mens het gebed nodig in ons persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in ons. Deur gebed leer ons meer verstaan en ontdek wie Hy in ons is. Ons grootste motivering om meer te bid, is om Hom beter te ken en meer te groei in ons verhouding met Hom. Ons is besig om by Jesus self te leer oor gebed.

Ons groot Leermeester moedig ons aan om na jou kamer toe te gaan en die deur toe te maak as jy bid. So het die term “binnekamer” ontstaan as daardie unieke en spesiale plek waar elke Jesus-mens hom- of haarself afsonder om te bid. Vir eers wil ons net fokus op die belangrikheid en waarde van ‘n binnekamer vir elkeen van ons. Soos die reeks vorder sal ons meer kom by die inhoud en daardie dinge waarmee ons besig kan wees in ons binnekamer.

Prakties kan jou binnekamer enige plek of ruimte wees waar jy regtig alleen en sonder enige steurings van buite is. Moontlike voorbeelde kan jou slaapkamer, studeerkamer, ‘n hoekie in die sitkamer, ja, enige vertrek in jou blyplek wees. Dit kan ook ‘n plekkie in die tuin of natuur wees. By die werk kan dit ‘n stoortjie of ander afgesonderde plek wees. Dit is sterk aan te beveel dat dit ‘n vaste en gerieflike plek sal wees. Dit is ook belangrik dat ander in die huis of by die werk sal weet dat wanneer jy in jou binnekamer is, wil jy nie gesteur word nie. Verkieslik moet jy ook so goed as moontlik van harde geluide of geraas afgesluit wees.

Saam met die plek waar jou binnekamer is om te bid, is die keuse van die tyd van die dag of nag wanneer jy tyd daar spandeer belangrik. Hier is dit ook verkieslik min of meer dieselfde tyd in jou eie 24 uur dag, sodat dit in ‘n gesonde roetine kan ontwikkel. Tog is dit bedoel dat dit so ‘n aangename ervaring vir jou is, dat jy uitsien om dit getrou te doen, sonder om skuldig te voel as dit toevallig nie uitwerk nie.

Hoekom is die plek soos ‘n binnekamer en die tyd in die binnekamer belangrik? Dit is bedoel om die uiterlike ervaring vir jou te gee van die innerlike rus en krag van wie God reeds in jou is. In jou binnekamer spandeer jy en die onsienlike God tyd in mekaar se teenwoordigheid. Soos die reeks oor gebed vorder, sal ons meer leer oor die bewuste teenwoordigheid van God wat op ‘n baie unieke manier moontlik is in jou binnekamer. In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou verhouding met die stil Een in jou!

Thursday, October 13, 2016

Oordenking 16 Oktober 2016

Tema: Hoekom sal ek meer en “beter” wil bid?
“So moet julle bid ...” (Matteus 6:9a)

Een van die heel belangrikste geloofsdissiplines vir Jesus-mense, is gebed. Gebed vorm ‘n integrale deel van ons elkeen se lewende verhouding met ons Here Jesus self. Gebed is ons 24 uur 7 dae van die week permanente kontak met Hom wat kragtig in ons teenwoordig is. Maar juis omdat hierdie verhouding gedurig bedoel is om te groei en te verdiep, is daar vir elkeen van ons meer om te ontdek van Hom, spesifiek deur middel van gebed. Nie een van ons behoort tevrede te wees as ons agterkom ons gebede het, of is besig, om te stagneer nie. Mag God se Gees ons inspireer om meer en “beter” te bid!

Kom ons vra vir Jesus self om ons te leer bid. Hy leer sy volgelinge oor die belangrikheid van gebed. Hy praat oor die moets en die moenies van gebed. Hy gee riglyne oor die inhoud van gebede. Hy het self gebid terwyl Hy hier op aarde was. Die Evangelieskrywers doen moeite om soveel as moontlik te skrywe oor Jesus se eie gebedslewe, en daar is verseker praktiese lesse wat ons daaruit kan leer. Ons wil graag in die volgende paar weke spesifiek prakties raak oor gebed.

Maar voordat ons by die praktiese lering oor gebed kom, is dit eers belangrik dat elkeen van ons gemotiveer word om meer en “beter” te bid. Eers wanneer elkeen ‘n dieper honger en dors na ‘n dieper en intiemer verhouding van ons Here in ons ontwikkel, sal ons graag meer intieme kontak met Hom wil hê deur gebed. Iets van hierdie misterieuse liefdesverhouding met God, is baie eenvoudig: hoe meer kontak deur gebed, hoe intiemer is die verhouding. Anders gesê: hoe meer ek bid, hoe beter ken ek Hom!

Hoekom plaas ek die hele tyd “beter” in aanhalingstekens? Weer dink ek dis eintlik eenvoudig: sodra ons as Jesus-mense beter verstaan van gebed, behoort daar nie trappe van vergelyking te wees as ons bid nie. Omdat gebed primêr met ons verhouding met die Here te doen het, en omdat die Heilige Gees in ons volledig in beheer is van ons verhouding met Hom, beoordeel Hy nie ons gebede as “goed, beter, beste” nie!

Met hierdie motivering kan elkeen meer bid vir geestelike herlewing persoonlik en globaal, meer bid vir persoonlike probleme, meer bid vir reën, meer bid vir ons leiers, ja, meer bid vir enige saak wat die Gees in jou wakker maak ...

Thursday, September 22, 2016

Oordenking 25 September 2016

Tema: Die waarde wat jy toevoeg om Jesus te volg
“Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” (Lukas 19:26)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 19 leer ons by Hom watter waarde ons tot sy koninkryk kan byvoeg.

Oor en oor het ons al vir mekaar herinner dat alles wat ons ontvang vanuit ons lewende verhouding met die Here, net genade is. Maar hierdie groot geskenk van genade gewaarborg, is dit net onmoontlik om handjies gevou te sit en wag vir die hemel om aan te breek. In Jesus se gelykenis van die tien goue muntstukke, word ons gemotiveer om te woeker met die rykdom wat ons reeds ontvang het.

Dié storie vir lewe gaan so: ‘n koning gee aan tien slawe elkeen ‘n goue muntstuk om mee te woeker terwyl hy vir ‘n lang periode weg gaan wees. Met sy terugkoms, het die een slaaf sy muntstuk vermeerder na tien muntstukke en hy word die bestuurder van tien stede. Die tweede slaaf het sy muntstuk vermeerder na vyf en hy word die bestuurder van vyf stede. Maar ‘n volgende slaaf het sy muntstuk net mooi veilig weggebêre en niks moeite gedoen nie. Hy word deur die koning uitgeskel as ‘n slegte slaaf, en sy een muntstuk word sommer nog aan die slaaf met die tien muntstukke gegee.

‘n Groot oproer word ontlok onder die slawe, waarop die koning reageer met: “Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” (Lukas 19:26)

As vrygekoopte slawe binne God se koninkryk, het ons soveel rykdom en voorregte ontvang om mee te woeker. Noem dit wat jy wil: talente, gawes, vaardighede, bekwaamhede, materiële middele, intellektuele vermoëns of wat ook al. Die bedoeling hiervan, is dat dit nou, vandag, in hierdie leefwêreld van ons gebruik word in diens van die groot Koning.

Hoekom verstaan so min mense, ja, selfs kerkmense hierdie waarheid: hoe meer ek die spirituele rykdom wat ek reeds besit, gebruik en ontwikkel, met hoe meer word ek vertrou. Die teenoorgestelde is ongelukkig dan ook die vermaning: skeep God se werk af waartoe jy geroep word en jy gaan bitter spyt wees!

Wednesday, September 14, 2016

Oordenking 18 September 2016


Tema: Die waarde om Jesus te volg
“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen ... van sy eie lewe.” (Lukas 14:26)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 14 leer ons by Hom oor hoe waardevol dit is om die keuse te maak om deel van sy wêreld te wees. In twee kort stories vir die lewe, vertel Jesus hoe belangrik dit vir elkeen van ons is om mooi na te dink oor die onbeskryflike rykdom binne die geloof- en liefdesverhouding waarin ons nou reeds met Hom is.

Met die eerste lees en onder die invloed van die later bygevoegde opskrif van hierdie gelykenisse, lyk asof dit hier gaan oor die eise en opofferinge wat dit vra om vir Jesus te volg. ‘n Amper onmoontlike vereiste word deur Jesus gestel, van alles waarvan afstand gedoen moet word om Hom te volg: jou pa en ma, jou vrou en kinders, jou broers en susters, jou lewe selfs en al jou besittings. Hierdie onredelike prysgawe van alles wat vir ons baie kosbaar is, klink net “too much”!

Maar dan verduidelik Jesus wat Hy bedoel, met die twee gelykenisse. Eers val die klem op die belangrikheid om ‘n deeglike kosteberekening te doen voordat enige bouprojek begin word. Maak baie seker voordat daar begin word om te bou, dat daar enduit genoeg geld gaan wees om die gebou te voltooi. ‘n Halfvoltooide projek sal ‘n groot spottery ontlok. Dan is daar ook die koning wat regmaak vir oorlog. Ook hy moet eers somme maak oor die getalle van sy eie soldate in vergelyking met sy vyand se getalle. As die vyand ‘n oormag soldate het, is dit beter om by voorbaat ‘n vredesooreenkoms met die vyand aan te gaan.

In kort: bereken die prys! Die vraag is, die prys van wat? Is dit die prys wat jy moet betaal om Jesus te volg? Of is dit dalk eerder die waarde wat aan jou lewe toegevoeg word, omdat die prys vir jou lewe klaar betaal is? Vir my gaan dit oor laasgenoemde: die onberekenbare rykdom en verryking om deel te kan wees van God se koninkryk!

God het sy somme gemaak: Hy het die duurste prys betaal dat sy koninkryk vir altyd sal bly staan. Die prys was sy eie Seun se kruisdood en oorwinningswerk op aarde. Elkeen wat Hom volg en in Hom glo, word mede-erfgename van hierdie duurgekoopte hemelse rykdom. Niks wat vir ons hier op aarde kosbaar lyk, kan in waarde vergelyk met hierdie rykdom nie!

Thursday, September 8, 2016

Oordenking 11 September 2016

Tema: Die veiligste plek van Godsgenade
Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”
(Lukas 18:13b)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. Hier in Lukas 18 leer ons meer by Hom oor die gesindheid waarmee ons tot Hom kan nader in gebed.

Die wetsgetroue Fariseër en die korrupte tollenaar bid altwee in die tempel. Die wetsgehoorsame en pligsgetroue Fariseër spog in sy gebed oor sy eie voortreflikhede. Ons lees dat die vooraanstaande Fariseërs onder andere sewe keer per dag gebid het. Hulle was so getrou in die fynste uitvoering van die wet van God, dat hulle saam met die ander tiendes, selfs ‘n tiende van hulle kruie uit die tuin, vir die Here gegee het. Daarteenoor was die tollenaar die mees korrupte spul van hulle tyd, wat om elke hoek en draai met skelm geldsake besig was. Die geweldige kontras tussen hierdie twee partye, is uiters belangrik in die verstaan van hierdie lewensstorie van Jesus.

Net so kontrasterend soos hierdie twee karakters in die gelykenis is, is die inhoud van hulle gebede. Die Fariseër bid lank en selfsugtig, hy spreek homself letterlik skuldvry op grond van sy eie hoedanighede, en veroordeel sommer die tollenaar net daar op die plek. Daarteenoor bid die tollenaar kort en kragtig, soos hierbo aangehaal in Lukas 18: 13b. Hy bely dat hy ‘n sondaar is wat 100% afhanklik is van God se genade – net dit!

Wat leer ons by Jesus oor hierdie twee uiteenlopende karakters se gebede? Die fokuspunt van elkeen se gebed, is die lewensles wat ons hieruit kan neem. Die Fariseër se gebed draai rondom homself, en daaruit kan ons aflaai dat hy nie ‘n liefdevolle verhouding met God gehad het nie. Die uiterlike nakom van geestelike rituele het baie waarde vanuit ‘n persoonlike verhouding met die lewende Here in ons. Die tollenaar fokus in sy gebed op God en sy persoonlike afhanklikheid van God se genade. Hy besef dat hy niks het om aan te bied vir God nie, en gee homself dan oor in totale afhanklikheid aan God.

Ons het ‘n onbeskryflike genadige God aan ons kant, al lewe ons in ‘n liefdelose en genadelose wêreld. Elkeen van ons se innige kontak met God deur gebed, bied vir ons die veiligste weg-vlug-plek binne ‘n innerlike werklikheid waar God se Gees binne-in ons is.

Thursday, September 1, 2016

Oordenking 4 September 2016

Tema: Die vrymaking om te kan vergewe
“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” (Matteus 18:35)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Matteus 18 leer ons meer by Hom oor vergifnis, moontlik een van die heel belangrikste lewenswaarhede om waarlik vry te kan wees.

‘n Koning skryf ‘n buitengewone groot bedrag geld af, wat een van sy amptenare aan hom skuld. Direk hierna loop hierdie selfde skuld-vrye amptenaar een van sy medeamptenare raak wat hom slegs ‘n klein bedraggie geld skuld. Die pas vrygeskelde amptenaar weier om ‘n paar rand af te skryf, al het hy self miljoene rand se kwytskelding gekry. Hy laat sommer sy medeamptenaar in die tronk gooi. Die koning kom hiervan te hore, verloor dit natuurlik heeltemal en gee onmiddellik opdrag dat hierdie buitengewoon begenadigde en kwytgeskelde amptenaar gemartel word, totdat die miljoene rande se skuld aan die koning terugbetaal is.

Ek en jy is vir ewig kwytgeskeld van alle sonde! Jesus het eenmalig volledig al ons skuld aan die kruis betaal. Ons skuld niks meer nie. Ons gehoorsaamheid en ons diensbaarheid is nie ons bydrae om skuld af te betaal nie. Ons is volledig vergewe deur ons hemelse Vader op grond van sy enigste Seun se versoeningsoffer aan die kruis. In God se oë, is vergifnis vir altyd afgehandel.

Maar wat maak ons elke dag met hierdie ongelooflike geloofswaarheid? Hoe beïnvloed dit ons optrede teenoor mekaar? Hoe lyk die swartboekies wat ons byhou van die kwaad wat ons mekaar aandoen? Hoe maklik grawe ons nie ou koeie uit die sloot nie? Hoeveel wrokke, dis nou “grudges”, hou ons nie teenoor mekaar nie? Hoe moeilik is dit nie vir ons om sewentig maal sewe keer te vergewe nie?

Nie een van ons kan vergewe soos ons hemelse Vader vergewe nie! Slegs en alleen wanneer en indien ons dit wel soek en toelaat, kan sy Gees in ons, vergifnis moontlik maak. Geen mens is van nature daartoe in staat om ander te vergewe en ander waarlik vry te spreek nie. Niemand van ons is al op daardie plek in ons lewe, waar ons ‘n kwaadwillige ervaring met ‘n ander persoon in die verlede, volledig afgeskryf het nie. Elkeen wat dit valslik beweer, veroorsaak daarmee self ‘n blokkasie in sy of haar eie vryheid.

Hierdie lewensstorie sluit af met ‘n baie ernstige waarskuwing: elkeen wat nie deur God se Gees met vergewensgesindheid lewe nie, loop die gevaar om self nie vergifnis raak te lewe nie!

Thursday, August 25, 2016

Oordenking 28 Augustus 2016

Tema: Ons Vader weet wat en wanneer ons vra
“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?”
(Lukas 18:7)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 18 leer ons meer by Hom oor gebed, ons heel belangrikste kontak wat ons met Hom het.

‘n Weduwee kom smeek by ‘n regter vir hulp met iemand wat haar erge skade aandoen. Dit moes ‘n baie ernstige saak gewees het, want sy hou eenvoudig net nie op om die regter lastig te val om hulp nie. Die regter is egter ‘n baie harde en gewetenlose mens – hy het geen ontsag vir God of vir enige ander mens nie. Die weduwee se herhaaldelike lastig val en sy vrese dat sy hom kan klap, maak dat die regter ingee.

Wat het dit presies met gebed te doen? Die agtergrond van hierdie vertelling van Jesus, is Jesus se dissipels wat Hom uitvra oor die wederkoms waarvan Hy hulle vertel het. Dit help ons om te verstaan, dat al voel dit asof die Here uitstel om weer te kom en ons in die proses moedeloos kan word, is dit nie nodig om moedeloos te word nie.

As hierdie ongenadige regter uiteindelik tog ingee, is hy geensins te vergelyk met ons hemelse Regter nie. Ons hemelse Vader is die genadige Een by uitnemendheid. Hy hoor as ons in gebed by Hom pleit vir hulp. Hy weet die heel beste wat sy uitverkorenes die nodigste het. Hy ken ons behoeftes beter as wat ons dit self besef. Hy hoor wel as ons aanhoudend vra, al ervaar ons baie keer dat Hy nie gee wat ons vra nie. Sonder dat ons dit dadelik of soms enigsins agterkom, gee Hy wel. Baie keer gee Hy beter as wat ons vra, ons kom dit nie noodwendig altyd agter nie.

Ek weet nie waarmee jy op die oomblik stoei in jou lewe nie? Maar daar is ‘n Vader in die hemel wat weet! Ek weet nie wat maak jou moedeloos in jou gebedslewe nie? Daar is Iemand baie besonders, wat jou wel duidelik raaksien op moed-verloor-se-vlakte!

Glo met jou hele mens-wees: jy is ‘n uitverkorene van God! Hou aan om dag en nag tot Hom te roep, Hy sal reg doen in jou lewe! Want, Hy is Wie Hy is!!!

Thursday, August 11, 2016

Oordenking 14 Augustus 2016

Tema: Die hemelse realiteit van ons Vader se liefde
“Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by Pa, en alles wat Pa het, is ook joune.” (Lukas 15:31)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In die gelykenis van die verlore seun, kry ons te doen met ‘n Vader wat ware liefde demonstreer – dit is daardie liefde wat elkeen van ons innig na smag.

Met die eerste lees of luister na die gelykenis van die verlore seun, lyk dit asof die klem val op die eerste seun wat sy pa se huis verlaat het en in die vreemde sy erfporsie gaan uitmors met ‘n losbandige lewe. Dan beland hy met niks tussen die varke en verlang terug huis toe. So gaan hy terug na sy pa en word soos ‘n eregas terug ontvang deur sy pa. Die pligsgetroue oudste seun wat tuis alles vir sy pa gedoen het, reageer met woede op hierdie helde ontvangs van sy slegte broer.

Kyk ons mooier na die eintlike betekenis van hierdie storie vir lewe, gaan dit baie eerder hier oor die Pa se optrede teenoor sy kinders. In die Pa se reaksie op die twee seuns se uiteenlopende gedrag teenoor Hom, ontdek ons meer van ons hemelse Vader se liefde vir ons. Die hemelse realiteit, of dan goddelike werklikheid, van God se liefde, verander die lewe vir soekende en gebroke mense. Sy liefde is onvoorwaardelik, permanent en innig.

In hierdie storie ontmoet ons die God in wie ons wil glo: ‘n Vader wat nog altyd met uitgestrekte arms op ons wag en Hom op niemand afforseer nie. Sy diepste begeerte is om ons te seën en nie om ons te straf nie.

Ons leefwêreld bestaan uit verskillende klasse wat mekaar vergelyk en oordeel en selfs veroordeel. Die Pa in die storie, vergelyk nie die twee seuns nie. Ons Vader se liefde vergelyk ons nie met mekaar nie, maar is ‘n baie spesiale en unieke liefde wat elkeen se besonderse persoonlikheid verryk. In sy liefde, wil Hy my vind, net so graag as wat ek Hom wil vind. En ons God spesialiseer daarin om die inisiatief te behou om ons te vind op die manier wat elkeen van ons dit die nodigste het.

Elkeen van ons is ‘n geliefde in God se oë. Die kern van ons geestelike stryd is om net meer te ontdek dat elkeen van ons sy liefde werd is. Meer en meer groei ons in hierdie lewe daarin dat God se liefde ons lewens stuur en verryk en omvou.

Thursday, July 28, 2016

Oordenking 31 Julie 2016

Tema: Ons hét ‘n plig, maar ...
“Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10b)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk.

Na aanleiding van Hebreërs 10:14, “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.”, maak ek die radikale stelling: ons kan nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Maar na aanleiding van Jesus se vertelling in Lukas 17, wil ek byvoeg: ons wil nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Hoekom, vra jy?

‘n Slaaf werk getrou vir sy eienaar. Na ‘n dag se baie harde werk, kom hy by die huis én dan moet hy nog sy eienaar na-ure bedien sonder enige teëpraat. Eers wanneer hy eendag klaar is met alles wat sy eienaar na ‘n lang dag van hom verwag, mag hy self eet en drink, en iets vir homself doen.

Hier is dit baie belangrik dat dit is slaaf is wat deur ‘n eienaar besit word. Vir slawe is daar geen vergoeding en geen vaste werksure nie. Slawe verskil van dagloners, wat wel vergoed word en net sekere ure hoef te werk. In Jesus se gelykenis gaan dit nie oor die onredelike eise van die eienaar van die slaaf nie, maar eerder oor die gesindheid van die slaaf teenoor sy eienaar.

Binne die geestelike dimensie van God se koninkryk gaan dit oor ons, die slawe, se gesindheid teenoor ons Eienaar. Ons is baie duur gekoop deur die bloed van Jesus om nooit weer in die moeilikheid by God te kan wees nie. Maar wanneer en juis omdat, ons besef hoe duur die prys vir ons vryheid is, wil ons dan ook nooit weer in die moeilikheid by God wees nie.

Ons hét dus ‘n plig as vrygekoopte slawe binne God se koninkryk om Hom gewillig en heelhartig te dien. Eers wanneer ons werklik ontdek wat dit beteken om ‘n vry slaaf in God se ryk te wees, is ons bereid om met die regte gesindheid alles, ja ALLES, te doen wat ons Eienaar van ons verwag. Hy gee besliste beginsels in sy Woord en deur sy Gees in ons, wat ons met toewyding en met blydskap navolg.

Hoe meer ons verstaan waarmee ons God besig is en waarvoor Hy ons nodig het in sy koninkrykswerk, hoe meer sal ons Hom met vreugde dien. Hierdie koninkrykbeginsels verryk ons lewe, want dit is in die eerste plek nie in ons eie belang nie. Ons dien omdat ons wil en omdat ons kan en omdat dit van ons vereis word. Daarom word ons nooit moeg om te dien in die koninkryk nie. Ons werk ook nie om met onsself tevrede te wees nie, maar omdat ons weet hoe belangrik dit is dat God tevrede met ons sal wees!

Thursday, July 21, 2016

Oordenking 24 Julie 2016

Tema: Die grootste en waardevolste rykdom in alle tye!
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ...” (Matteus 13:44a)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is in terme van die ewigheid. Vir Jesus het die ewigheid te doen met “die koninkryk van die hemel”, of op ander plekke “die koninkryk van God” genoem.

Nou vertel Hy twee baie kort gelykenisse, wat baie maklik verkeerd verstaan kan word. Eers is daar “’n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê.” Waarskynlik is dit ‘n gewone dagloner wat besig is om in hierdie saailand te werk en wat hierdie baie kosbare skat ontdek. Omdat dit nie sy eie saailand is waarin hy werk nie, kan hy nie net sommer die skat vat nie. Hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop daardie land.” Hier is geen sprake daarvan dat hy enige iets oneerlik doen in hierdie transaksie nie. In die tweede soortgelyke vertelling, loop ‘n juwelierhandelaar “’n baie waardevolle pêrel” raak. Ook hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop die pêrel.”

Nou is die belangrike vraag: waarna verwys die skat in die land en die waardevolle pêrel in terme van die koninkryk van die hemel? Maklik kan die skat en die pêrel verkeerd verstaan word as dat dit verwys na Jesus self as Verlosser, of na die Woord van God, of na die kerk van Christus op aarde. Baie eerder verwys die skat en die pêrel na die voorreg en die gawe om deel te wees van die koninkryk van God. Die grootste en waardevolste skat wat ons kan kry, is om vir ewig te behoort aan God se ryk van heerskappy en liefde!

Nog ‘n belangrike vraag na aanleiding van Jesus se vertelling: wat beteken “gaan verkoop alles wat hy het”? In ander woorde, sal ons ook kan vra: wat kan elkeen van ons doen om hierdie grootste en waardevolste skat te kry? So maklik kan hierdie waaghalsige verkoop van alles, weer neerkom op eie inspanning en verdienstelike opoffering. Op hierdie manier kan niemand die skat bekom nie.

Die enigste manier om God se beheer van jou lewe, deur Sy Gees, vir ewig deel te maak van jou lewe, is:

          Om die rykdom te ontdek van sy ewige beloftes;

          Om met jou hele hart te glo in Hom;

          Om bereid te wees om alles op te offer ter wille van die ewige rykdom wat in Hom alleen te vind is!

Thursday, July 14, 2016

Oordenking 17 Julie 2016


Tema: Om soos Jesus jammer te kry ...
“Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” (Lukas 10:33)

So maklik kan ons dink ons verstaan. Ons verstaan waaroor die lewe gaan, ons verstaan wat in ander se lewe aangaan, ons verstaan die Bybel. Maar soms het ons ‘n kans om net weer nuut te dink. Ek nooi jou uit om nuut te dink oor die tweede bekendste vertelling van Jesus, naamlik die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die heel bekendste gelykenis van Jesus is die een oor die verlore seun.

‘n Onbekende persoon word deur rowers op ‘n gevaarlike pad oorval, beroof en baie seergemaak. En dan sommer half kaal daar langs die pad gelos. Eers kom die baie godsdienstige en wetsgetroue priester ver verby en ignoreer die beseerde langs die pad. Nog ‘n kerkmens, die Leviet, kom verby en doen ook sonder enige rede, niks.

Dan kom die Samaritaan verby. Ons kan met sekerheid sê dat die beseerde persoon, die priester en die Leviet Jode was. En dit is juis die punt: die Jode en die Samaritane het mekaar in Jesus se tyd gehaat soos pes. Op geen manier sou enige Jood enige moeite doen met ‘n Samaritaan nie. Nou gebeur die ongehoorde en onaanvaarbare ding: ‘ n Samaritaan help ‘n beseerde Jood!

Let op die omvang van die hulp: hy doen eers noodhulp net daar op die plek, dan laai hy die beseerde persoon op sy rydier én dan gee hy vir hom blyplek in ‘n herberg vir die waarde van amper een maand, met die ooreenkoms dat hy enige uitstaande koste sal betaal met sy terugkoms! Vir Jesus se luisteraars iets totaal ongehoords!

Nou is jou kans om nuut te luister: wie is hierdie Samaritaan in Jesus se vertelling?

Die Samaritaan is die verwerpte een, geminag en verstote. Die Jode wat luister het, het letterlik niks gedink van die Samaritane nie, wat nog om te dink dat hulle iets vir ‘n Jood sou doen. Duidelike grense: geen simpatie, geen gevoel.

Miskien hoor jy vir die eerste keer: Jesus is self hierdie Samaritaan in sy eie vertelling!

Kan of is jy bereid om soos Hy innig jammer te kry?

Thursday, June 30, 2016

Oordenking 3 Julie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: God is niks aan niemand verskuldig nie!
“Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 41:2)

Ons is besig met tydlose lewenswaarhede in die boek Job. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde nie, en God kan nie beskuldig word vir die verkeerde nie. Soos wat ons Hom beter ken, is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Die Here praat vir die eerste keer direk met Job in hoofstukke 38 tot 41. Eintlik is Hy besig om vir Job te ondervra en uit te daag om Hom te antwoord op baie direkte vrae. Hierdie reaksie van die Here self, kan moeilik in net ‘n paar sinne opgesom word, maar kom volgens my op die volgende neer:

·         Wie het die aarde en die sterrehemel gemaak? Wie sorg vir lig en donkerte, vir dag en nag? Wie is in beheer van die natuurelemente soos reën, donderstorms en sneeu?

·         Kan die mens die leeu, die wildedonkie, die volstruis, die perd of die valk werklik beheer, en watter nut het hierdie diere vir die mens?

·         Wie het die mag en uniekheid aan die seekoei en die krokodil gegee?

Tussendeur hierdie lang beskrywings van hoe die Here die enigste Een is wat werklik in beheer is van sy skepping, konfronteer Hy vir Job met vrae soos:

·         “Wil jy ‘n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys?” (Job 39:35)

·         “Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?” (Job 40:3)

·         “Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 42:2)

So min of meer in die middel van die Here se konfrontasie, sê Job: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe kan ek U antwoord? Ek sal liewer stilbly.” (Job 39:37)

God is tot onbeskryflik meer in staat as die mens. Hy het niks van enige mens op hierdie aarde nodig nie. Alles is ondergeskik aan sy mag en Hy kan enigiets doen wat Hy wil. Elke mens op hierdie aarde is een honderd persent aan Hom ondergeskik en is direk van Hom afhanklik.

Mens, aanvaar net: God skuld jóú NIKS! Maar mens, onthou ALTYD: Hy ís BAIE lief vir jou!

Wednesday, June 22, 2016

Oordenking 26 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: kan jy waag om God te bevraagteken?
“God is meer as die mens ...” (Job 33:12b)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie. Swaarkry is nie altyd die gevolg van sonde wat ons doen nie. God kan ook nie altyd beskuldig word vir die dinge wat verkeerd loop in ons lewe nie.

Elihu, ‘n vierde en jonger vriend van Job, is in Job 32 tot 37 aan die woord. Hy help vir Job en die ander drie vriende reg in hulle verkeerde redenasies. Dit is nogal moeilik om kortliks saam te vat wat hy alles sê, die ideaal sal wees dat elkeen van ons dit self sal lees. Ek gaan tog probeer om die hooflyne van sy betoog te gee.

Een van Elihu se belangrike waarhede, is dat God en die mens nie werklik met mekaar vergelyk kan word nie. Soos ons teksvers sê: “God is meer as die mens ...” (Job 33:12b). Hierdie is die rede waarom ons nie vir God kan beskuldig dat Hy onregverdig optree nie. Ons behoort eerder die fout by onsself te soek vir dinge wat verkeerd loop in die lewe. Soos Elihu sê: “Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” (Job 34:12a).

Dan maak Elihu ‘n groot ding van hoe God verskillende maniere gebruik om die mens aan te spreek en sodoende te red van die graf. Onder andere praat God met die mens terwyl hy slaap (Job 33: 12 tot 18). “Of Hy spreek die mens aan met ernstige siekte ...” (Job 33:19a). Elihu beskrywe hierdie maniere waarop ons God se wil in ons lewe kan ken, baie realisties. Volgens hom kom dit nie altyd maklik nie, maar juis deur worsteling en baie vrae wat ons vra in tye van nood.

Vir my is Elihu se breedvoerige beskrywing van God se grootheid en majesteit amper die belangrikste. Hy beskrywe God se grootsheid in die skepping as motivering waarom ons Hom nie behoort te bevraagteken nie. Hoor net een van Elihu se ongelooflike uitsprake: “God stuur die storm óf om te straf óf om vir die aarde te sorg óf om sy liefde te betoon.” (Job 37:13).

Wat is ons gevolgtrekking uit Elihu se toespraak? Ons het elkeen die geleentheid om in ons uiteenlopende omstandighede, beter te ontdek wie ons God is. Soos wat ons Hom beter ken (al sal ons Hom nooit volledig kan verstaan nie), is ons beter voorbereid om die uitdagings van hierdie lewe te kan hanteer.

Thursday, June 9, 2016

Oordenking 12 Junie 2016

Persoonlik op reis saam met Job: Is swaarkry die gevolg van sonde?
“Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a)

Ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en met ander mense oor die weg te kom. Ons het reeds gehoor dat nie alle vrae in swaarkry-tye antwoorde het nie!

Drie van Job se vriende voer ‘n baie lang gesprek (Job 4 tot 31, dit is 27 hoofstukke) met hom oor die rede dat iemand wat so vroom en opreg is, so bitter swaar kan kry. Hulle gee volledig erkenning aan al Job se goeie hoedanighede. Hulle praat baie oor God, maar hulle praat nooit in hierdie lang dialoog, met God self nie. Hulle betoon dus simpatie met Job se ellende, maar nie een keer bid hulle vir hom nie. Wanneer mens dit lees, klink dit asof hulle in sirkels redeneer en dieselfde ding net oor en oor herhaal. Job probeer sy beste om sinvol op hulle argumente te reageer, maar in hierdie lang redenasies met hierdie drie vriende, klink nie asof Job by ‘n goeie verklaring van sy swaarkry uitkom nie.

Die grootste fout wat Job se vriende maak, is om te redeneer dat sonde altyd die oorsaak van swaarkry is. Hulle eenvoudige antwoord aan Job is dat hy net sover moet kom om sy sonde te bely. Vriend EEN, Elifas sê onder andere: “Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God ...” (Job 4:17a). Vriend TWEE, Bildad sê: “As jy ... die Almagtige om genade smeek ... sal Hy ... jou gesond in jou huis terugbring.” (Job 8:5-6). Vriend DRIE, Sofar sê: “As God maar wou begin praat ... dan sou jy weet dat God jou nog nie eers vir ál jou sondes straf nie.” (Job 11:5-6).

In Job se reaksie op sy vriende se argumente, worstel hy met die gevolge van reg en verkeerd doen. So sê hy onder andere: “Al is my saak reg, my woorde sou my skuldig maak; al is ek ook onskuldig, ek sou oor my woorde veroordeel word.” (Job 9:20). Die opregte en vroom Job soek na ‘n rede waarom dinge so verkeerd geloop het in sy lewe.

So maklik kan ons dieselfde fout maak wanneer dinge in ons lewe verkeerd loop. Ons kan net so maklik redeneer dat daar iets verkeerd is in ons lewe wat die direkte oorsaak is vir ons teenspoed. Laat ons egter dadelik ook sê dat daar verseker in sommige gevalle wel probleme op ons pad kom, wat die gevolg is van verkeerde keuses wat ons maak. Eenvoudig gesê: sonde kan swaarkry veroorsaak, maar nie altyd nie!

Thursday, May 26, 2016

Oordenking 29 Mei 2016

Persoonlik op reis saam met Job: die vroom een
“In die land Us was daar ‘n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.” (Job 1:1)

Ek nooi jou uit om in die volgende weke saam met my op ‘n persoonlike reis saam met Job te gaan. Kom ons ontdek, saam met Job, sekere tydlose lewenswaarhede wat ons kan help om beter met God, onsself en ander oor die weg te kom.

Kom ons kyk eers na Job se agtergrond:
          Hy het naby aan God gelewe;
          Hy was buitengewoon ryk;
          Hy was die belangrikste persoon in sy omgewing;
          Hy bring gereeld offers indien sy tien kinders sonde sou doen op hulle wilde partytjies.

Hierdie is genoeg om te besef dat Job iemand baie besonders was.  Iemand van wie se lewensondervindinge ons graag sal wil leer.

Op ‘n dag vind daar ‘n gesprek plaas tussen die hemelwesens, Satan en die Here. Satan daag die Here uit om toe te laat dat Job se voorspoed eindig met die verlies van al sy besittings. So gee die Here alles wat Job het oor aan Satan se mag, slegs met die voorwaarde dat Job self niks mag oorkom nie. En so verloor Job ALLES wat hy besit, ook sy tien kinders sterf! En Job se reaksie: “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.” (Job 1:22)

Die gesprek tussen die hemelwesens, Satan en die Here gaan dan verder. Satan daag die Here ‘n tweede keer uit om Job self siek te laat word. Weer word Job aan Satan se mag oorgegee, maar ook met die voorwaarde dat Job moet bly lewe. Job word van kop tot tone met pynlike swere getref. Hy sit op die ashoop en Job se vrou moedig hom aan om God te vervloek. Maar steeds lees ons: “Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.” (Job 2:10)

Van hierdie man wil ek graag leer. Ek kan nie dink dat ek sou kon doen wat hy reggekry het, onder sulke uiters slegte omstandighede nie.

Hoe dink jy sal jy reageer as jy ALLES verloor? Wat was jou reaksie teenoor God toe jy iemand na aan jou verloor het? En siekte? Verbind jy dit aan sonde?

Ek herhaal my uitnodiging waarmee ek begin het: kom reis saam met Job!

Thursday, May 12, 2016

Oordenking 15 Mei 2016

Wees gasvry
“Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want om gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Hebreërs 13:2)

Aan die einde van die boek Hebreërs, kom die onbekende skrywer van hierdie vrysprekende boodskap, by die praktiese gewoontes vir Jesus-mense. Die skrywer doen baie moeite om baie deeglik die volledigheid van Jesus Christus se kruisoffer vir elkeen wat in Hom glo, te beskrywe. Met hierdie vaste fondament vir ons geloof, is daar sigbare en prakties uitvoerbare gewoontes wat kan help in ‘n dieper verhouding met ons Jesus in ons.

Om teenoor vreemdelinge en selfs mense van wie ons nie hou nie, gasvry te wees, is een van hierdie uitvoerbare gewoontes. Hier het die skrywer veral mense buite ons vriendekring en selfs buite die kerk, in gedagte. In ons daaglikse lewe, kruis ons paaie met ander kulture en ook ander gelowe. In meeste gevalle, is dit mense wat ons van nature eerder wil vermy.

Gaan ons vir ‘n oomlik weer terug toe Jesus as ware mens, hier op aarde was, sien ons hoe Hy vir ons die voorbeeld stel. Hy was nie skaam of snobisties om vreemdelinge of moontlike vyande van Hom, te vermy nie. Hy eet saam met die uitgeworpenes van sy tyd en genees siekes wat deur die samelewing van destyds verwerp is. Hy huiwer nie om Homself te assosieer met kinders of die werkersklas nie. En dan betaal Hy aan die einde van sy aardse optrede die hoogste prys vir die verlossing van ALMAL. Hy sterf eenmalig volledig vir alle sondaars se verlossing.

Nou roep sy Gees in ons, om juis sy voorbeeld voort te sit. Niemand van ons sal ooit nodig hê om ter wille van iemand anders se verlossing te sterf nie. Jesus het dit vir eens en vir altyd afgehandel. Maar Jesus se voorbeeld om geassosieer te word met die uitgeworpenes en ons moontlike vyande, word deur sy Gees in ons voortgesit. Dit is iets wat van binne af kom. Dit begin met ‘n innerlike veranderde nuwe gesindheid. Eers dink ons anders oor ander. Dan begin ons anders oor hulle praat. En uiteindelik word dit ‘n spontane gewoonte om anders teenoor hulle op te tree.

Daar is iets bevrydend hierin:

·         Jy doen dit nie omdat jy beter is as ander nie;

·         Jy doen dit nie om deur ander raak gesien te word nie;

·         Jy doen dit opreg en met liefde.

Hierdie tipe gasvryheid verryk jou daaglikse lewe op ‘n baie spesiale manier, bewustelik én onbewustelik. Jy doen dit nie om beter oor jouself te voel nie, maar as jy dit klaar gedoen het, kan jy moontlik ‘n innerlike vrede in jouself ervaar.

Mag dié geloofsgewoonte van gasvryheid bydra tot ‘n verdiepte verhouding met Hom in jou!

Thursday, April 21, 2016

Oordenking 24 April 2016

Die groot geskenk van nuwe lewe!
“In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” (1 Petrus 1:3)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Mag elkeen besef: ek ís die nuwe mens in wording!

Hoor die ongelooflike woorde wat Petrus aan die begin van sy brief gebruik: “uitverkorenes van God; vreemdelinge in die wêreld; deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus; lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis ...”

Ons daaglikse uitdaging en geleentheid is om beter te ontdek wat ons reeds as nuwe mense is. Deur die bloed van Jesus aan die kruis en die oorwinning deur die opstanding, ontvang elke Jesus-mens die geskenk van nuwe lewe. Hierdie nuwe lewe is gewaarborg deur Iets en Iemand buite die mens self, en juis daarom is dit permanent en onaantasbaar. God self is die volledige en volmaakte waarborg. Die opoffering en prys wat sy eie Seun vir hierdie nuwe lewe betaal het, is net te groot dat daar enige gebrek of tekort daarin kan wees.

Op pad na die finale voltooiing van God se werk in elke Jesus-mens, vind daar ‘n proses van suiwering plaas. Petrus skryf baie realisties oor hierdie pad. Hy noem dit “beproewings”, wat onder andere verwys na die moontlike pyn en teenspoed op ons pad. Ons elkeen se lewenspad het opdraandes en afdraandes, en deur elke ervaring van die negatiewe en die positiewe, het ons geleentheid om te groei of nie. Hoe beter ons besef wie ons reeds in Jesus Christus is, hoe beter groei ons deur hierdie ervaringe. Anders gestel, eers met die ontdekking van die groot geskenk van nuwe lewe, kan ek en jy die uitdagings van die lewe hanteer.

Hierdie nuwe lewe begin en eindig by God, wat van ewigheid tot ewigheid is Wie Hy is. In sy onveranderlike en onvoorwaardelike liefde, het Hy elkeen van sy Jesus-mense geskep en uitverkies om deel te vorm van sy ewige plan met alles. Nou is dit vir ons as Jesus-mense om gedurig meer van God in ons, en sy plan met ons, te ontdek.

Kom ek nooi jou uit om vandag bietjie vooruit te dink. Waar wil jy graag oor ‘n jaar wees in jou verhouding met Hom in jou? Waarmee sukkel jy die meeste in jou geestelike groei? Hoe sal jy die graagste hierdie nuwe lewe wil belewe? Weet dan: Hy is jou antwoord!

Thursday, April 14, 2016

Oordenking 17 April 2016


Die nuwe mens in wording
“... en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God.” (Kolossense 3: 10)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Hoe wil die Gees van God van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe?

In Kolossense 3 gee Paulus ‘n baie mooi beskrywing van wat ons kan verwag wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens vernuwe. Sonder om by sy lysie van moontlike veranderinge stil te staan (gaan lees dit maar self as jy wil), kom dit min of meer op die volgende neer:

Sekere gewoontes of optredes in jou lewe, begin om te verander: sommige drasties en onmiddellik, ander moeilik en baie stadig; sommige bewustelik en ander onbewustelik; sommige is spesifieke besluite wat jy neem en ander is jy nie gereed om oor te besluit nie. Soos wat jy deur verskillende lewenservaringe gaan en met jare se ondervinding, groei jy in kennis en beter gewoontes. Ongelukkig vind die mees drastiese veranderinge plaas wanneer jy deur krisisse moet gaan.

In hierdie geloofsreis van lewensvernuwing, gebeur dit dat jy in sekere opsigte al hoe meer ontuis en vreemd voel teenoor sekere goed in jou verlede en sekere goed wat deel is van hierdie goddelose wêreld. Nuwe gewoontes en ‘n nuwe gesindheid in jou eie unieke persoonlike lewe, word die vertrekpunt om meer vir ander te beteken. Jou eie behoeftes word minder belangrik in belang van ander se behoeftes. Oppervlakkigheid maak plek vir diepte. Godsdienstigheid word vervang met ‘n verhoudings-gerigte lewenswyse.

En die grootste wonder van dit alles is, daar is nie ‘n vaste patroon of een resep wat vir almal geld nie. Hier is nie voorskrifte of vaste reëls wat gevolg word nie. Elkeen se lewensreis en lewenservaringe verskil, en het gevolglik ‘n unieke vernuwing tot gevolg. Met respek gesê, natuurlik is dit God se manier om dit vir Homself interessant te hou. Ons kan wel by mekaar leer en dit geniet om in mekaar se lewens die vernuwing raak te sien waarmee die Gees besig is.

Die enigste voorwaarde vir hierdie “nuwe mens in wording”, is dat dit alles oor God gaan. Hierdie vernuwing is nie in ons eie belang en tot ons eie voordeel nie. Om “al hoe meer vernuwe (te) word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God” (Kolossense 3: 10), is sodat “... Christus alles en in almal is.” (Kolossense 3:11c).

Let net op: jy ís die nuwe mens in wording!

Thursday, April 7, 2016

Oordenking 10 April 2016

Die nuwe opstandingslewe in Christus
“Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20)

Nadat ons so naby aan Jesus gestap het, dat die stof van sy voete ook op ons gekom het en ons mooi kon luister na wat Hy vir ons geleer het, wil ons nou verder stap. Hy is gekruisig, maar het uit die dood opgestaan. Die Heilige Gees is in volle krag uitgestort om in elke Jesus-mens lewensveranderend teenwoordig te wees. Hierdie Gees van Jesus self, is besig om ‘n opgestane Jesus se lewenswyse sigbaar te maak in elke Jesus-mens. Hierdie nuwe lewenswyse word regdeur die Bybel die “nuwe lewe” genoem. Kom ons ontdek saam in die weke wat kom wat hierdie “nuwe lewe” werklik vandag vir ons beteken.

In Psalm 119:25 bid die digter: “... gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het.” In die wysheidsliteratuur van Spreuke lees ons: “... ‘n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.” (13:12b). Na die ballingskap, hoor die volk Israel: “... julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit ...” (Jesaja 66:14).

In Handelinge 5 word die apostels gevange geneem deur die godsdienstige leiers omdat die apostels siekes gesond gemaak en bose geeste uitgedryf het. Hulle word deur ‘n engel met ‘n wonderwerk uit die tronk bevry, met die opdrag: “Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20) Met hulle verskyning voor die Joodse Raad, antwoord Petrus en die ander apostels: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” (Handelinge 5:29 tot 32) Op aanbeveling van die leermeester Gamaliël, word die apostels weer vrygelaat.

Waar laat dit ons vandag? Dieselfde Heilige Gees is deur God aan elkeen van ons, wat glo in Jesus Christus, gegee. Begeer jy ‘n dieper persoonlike verhouding met ons Here? Wil jy ook graag vry van enige oppervlakkige godsdienstigheid voluit vir Jesus lewe? Is jy gereed om sigbaar meer en meer die nuwe lewe wat alleen deur die opgestane Jesus moontlik is, te lewe?

Wees dan meer aan God gehoorsaam as aan mense. Maak elke faset van jou lewe oop vir die Gees van God se nuwe lewe in jou! Laat die Gees van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe.

Thursday, March 17, 2016

Oordenking 20 Maart 2016

Jesus-mense hoor Sy hart aan die kruis
“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46)

Ons is nou in die laaste paar dae voordat ons die kruisiging van Jesus herdenk. Wat hoor ons vandag in Jesus se hart terwyl Hy aan die kruis was?

Daar is ‘n paar intense gedagtes wat ons kan raak hoor in die kruiswoorde van Jesus. Hy was verseker volledig mens, wat in sy pyn en lyding egte Godverlatenheid ervaar het, al is Hy steeds waarlik God. In Matteus en Markus kom net hierdie een kruiswoord van Jesus voor: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27: 46; Markus 15:34) Hy het ook gewone fisiese dors ervaar toe Hy sê: “Ek is dors.” (Johannes 19: 28) In sy sterwensoomblikke toon Hy genade en liefde teenoor iemand soos ‘n misdadiger wat langs Hom aan ‘n kruis hang: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43) Hy is besorgd oor sy dierbares wat daar by die kruis teenwoordig is, wanneer Hy volgens Johannes vir sy ma sê: “Daar is u seun.”, en vir Johannes: “Daar is jou moeder.” (Johannes 19: 26 en 27). Sy volledige Een-wees met sy Vader, kom duidelik na vore in: “Vader in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23: 46) Die volmaakte voltooiing van sy verlossingswerk aan die kruis, hoor ons in: “Dit is volbring!” (Johannes 19: 30)

Ons Jesus aan die kruis beteken dus vandag:
o   Ons Jesus is God én mens, en DAAROM is Hy die énigste Verlosser ooit! Daar sal nooit weer ‘n ander Verlosser nodig wees nie. Hy is finaal vir altyd volledig vir almal wat in Hom glo, die ewige Redder en Bewerker van lewe tot in die oneindigheid! 

o   Ons Jesus verstaan elke mens se pyn en lyding. Enige vorm van menslike nood en krisis ken Hy, Hy was en is híér! Dit maak nie saak wat jou swaarkry is nie, Hy het ware omgee-meelewing-begrip-empatie-simpatie. Hy wil in jou seer met jou wees, al gaan dit nie noodwendig weg nie.

o   Ons Jesus se genade en liefde is tydloos vir elke mens op aarde bedoel. Juis omdat genade en liefde deel is van die wese van God, is dit in elke nuwe tydvak van die geskiedenis, onveranderlik vir elke mens op aarde beskikbaar. Tog leef so baie mense sonder die liefde en genade van God.

o   Ons Jesus is besig om sy verlossingswerk op aarde deur ons te voltooi. Elke Jesus-mens is deel van God se plan met hierdie wêreld. Hy ís besig, nou, vandag, in en deur jou en my met sý koninkrykswerk!

Thursday, March 10, 2016

Oordenking 13 Maart 2016

Jesus-mense staan bymekaar in tye van nood
“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26: 39)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer oor die lewe vandag. In ons Christelike kerkjaar, is ons nou midde die lydenstyd en wil ‘n paar tree saam met Jesus loop toe Hy baie swaar gely het ter wille van ons.

Jesus bid een van die mees intense gebede van alle tye daar in die tuin van Getsemane. Drie keer bid Hy dieselfde woorde (soos in Matteus 26:39). ‘n Seun praat baie ernstig met sy Pa. Omdat Hy self waarlik God is, het Hy geweet wat op Hom wag. Maar juis omdat Hy ook waarlik mens is, het Hy nie werklik kans gesien vir die pyn en lyding nie. Ons is baie bevoorreg, ons ken die uiteinde van wat gebeur het. Hy het enduit die lydensweg geloop, ja, totdat Hy sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het.

Dit is juis in sy egte menslikheid dat Hy sy vriende nodig gehad het in sy uur van nood. Dit was nie vir Hom enigsins makliker omdat Hy tegelyk ook God is nie. Maar dit is in die nag, die dag was lank en uitputtend. Sy nabyvriende raak aan die slaap, toe Hy eintlik wou hê dat hulle saam met Hom wakker moes wees. Soos Hy self sê: “Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” (Matteus 26:41)

Kom ons maak die sprong vanaf Jesus se tyd op aarde na vandag. Die intensiteit van Jesus se lyding sal ons nooit kan begryp nie. Tog kan ons by Hom leer: Hy bid baie ernstig toe Hy as mens nie kans sien vir die pyn wat sou kom nie. En ons leer iets van hoe ons mekaar nodig het in tye van nood.

Ons wat iets begryp van Jesus se intense lyding destyds, kyk met ander oë na mekaar en na ander. Mense se pyn, word ons pyn, dit kruip onder ons velle in. Ons kan ons nie blind hou as ander seer het nie. En dan praat ons van enige vorm van seer: siekte, hartseer, gebroke verhoudings, fisiese omstandighede, en vele meer. Nie een van ons kan sê dat ons self nooit ander gaan nodig hê wanneer seerkry op ons pad kom nie. Eenvoudig beteken dit: ons hét mekaar nodig, én ander het óns nodig in tye van nood!

Thursday, March 3, 2016

Oordenking 6 Maart 2016

Jesus-mense hou vas aan die Waarheid alleen
“Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22: 29)

Ons is besig om by Jesus self te leer oor die lewe vandag. Ons fokus op nog van sy wyshede.

In Matteus 22 probeer ‘n groep van die destydse godsdienstige leiers, die Sadduseërs, Hom vastrek met ‘n strikvraag. Hierdie groep het nie geglo in die lewe na die dood nie, omdat hulle nie bewyse daarvoor kon kry in die eerste vyf boeke van die Ou Testament nie. In daardie tyd was dit uiters belangrik dat ‘n man se naam voortgesit word deur ‘n seun-erfgenaam. Die voorskrif was dat, as ‘n man sterf sonder enige seun, moet die weduwee trou met die volgende broer van die oorledene. En so moes dit aangaan totdat die oudste broer uiteindelik ‘n nageslag het. Nou probeer hierdie Sadduseërs Jesus vasvra oor wie gaan met wie getroud wees in die hemel indien een vrou met meer mans getroud was.

Dan kom Jesus se verrassende antwoord. Hy gee ‘n antwoord oor die lewe vandag en NIE oor die detail van huwelike in die hemel nie. Dit sou gevaarlik wees om te veel te lees in sy woorde: “Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos engele in die hemel.” (Matteus 22:30) Sy antwoord gaan oor kennis van die Bybel en oor kennis van God. Kom ek pas hierdie antwoord van Jesus toe op vandag.

Daar is vandag, soos destyds, baie strikvrae wat in die kerk gevra word. Dan gebeur daar nog slegte dinge in Jesus-mense se lewens, wat net nie sin maak nie. Binne die kerk is daar ook verwarrende ervaringe deurdat alles nie altyd seepglad verloop nie. In ons land en wêreldwyd is daar groot vraagstukke wat onopgelos bly. Hierdie uiteenlopende ervaringe en onbeantwoorde vrae, maak Jesus se antwoord belangrik.

Wanneer jy nie antwoorde op vandag se vrae het nie, neem jou toevlug na die waarhede in die Bybel en fokus op wie God self is. Elke onbeantwoorde vraag en elke onopgeloste krisis, bied geleentheid om by Hom uit te kom. Ons God is vandag lewend teenwoordig, soos nog altyd. Nog nooit het Hy en nooit sal Hy, sy eie verloste kinders in die steek laat nie – Hy kan nie! Leef Hom raak binne die verwarring wat daar vandag is.

Thursday, February 25, 2016

Oordenking 28 Februarie 2016

Jesus-mense plaas AL hul vertroue op Hom!
“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die geloof vra.” (Matteus 21: 22)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe.

In een of ander opsig sien elkeen van ons uit na iets beter in die toekoms. Natuurlik sal almal nie saamstem met hierdie stelling nie. Daar is diegene wat altyd heeltemal tevrede is met alles in hulle lewe en geen behoefte het dat enige iets verander nie. Maar dan is daar definitief ‘n groep mense onder ons wat ernstig verlang na beter dae om baie uiteenlopende redes. Jesus self wil ons leer hoe om ‘n beter toekoms te benader.

In Matteus 21 word Jesus honger en loop verby ‘n vyeboom vol blare, maar sonder vrugte. Hy vervloek net daar op die plek hierdie vrugtelose boom! Hoekom so drasties? Hierdie vrugtelose vyeboom verwys na die Joodse volk. Reeds in die Ou Testament het die Here die volk Israel by herhaling gewaarsku deur verskillende profete dat hulle nie volgens sy wil lewe nie. Nou bevind Jesus Hom self hier tussen die Jode van sy tyd en spreek hierdie drastiese vloek uit oor die Joodse volk. Hy het aarde toe gekom om vir Hom ‘n nuwe volk te kom uitkies met ‘n nuwe toekoms. Ons kan by Jesus self leer wat dit beteken om deel te wees van sy nuwe volk met ‘n nuwe toekoms.

In Jesus se nuwe koninkryk is Hy die enigste hoop op ‘n beter toekoms. En waar Hy volledig verantwoordelikheid neem in sy ryk, gebeur groot dinge: “Julle sal vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.” (Matteus 21:21) Met Jesus in beheer en met sy volmaakte standaarde waarvolgens Hy optree, sal alles gebeur wat moet gebeur ... en Hy nooi elkeen van ons persoonlik uit om te kom inval by sý magtige dade!

Prakties beteken dit vir elke Jesus-mens:
o   maak daagliks seker jy is nie besig om jou eie kop te volg ten koste van Jesus se plan in jou lewe nie;
o   doen moeite en wees meer oplettend van waar Jesus reeds besig is om jou lewe te verbeter; en
o   gee jou volle medewerking met Jesus se Gees in jou.

Hiermee gee ek vir jou die waarborg dat jy presies sal bid en ontvang wat Hy die graagste wil!