“Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (Johannes 6:56)
Deur gebed in my binnekamer luister ek na God
se Woord. In my Bybel lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al
hoe meer ‘n vaste en wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende
Jesus in my!
Kom ons delf dieper in die misterie van ons
eenwording met Jesus, Hy wat deur sy lewende Gees in ons woon en werk. In Johannes
6 vertel Jesus vir sy volgelinge meer van die betekenis dat Hy self die brood
van die lewe is. Hy vergelyk die opname van brood wat geëet word in die
menslike liggaam, met die eenwording tussen Hom en elkeen wat in Hom glo. Hy
beklemtoon dit baie sterk dat die brood wat die mense elke dag eet om hulle
fisiese honger te stil, nie permanente versadiging bring nie. Daarteenoor sal
elkeen wat deur geloof die brood van die ewige lewe eet, nooit weer honger kry
nie.
Hoe kan elkeen van ons seker maak dat ons wel
die brood van die ewige lewe eet? Hierdie ewige brood het alles te doen met ons
elkeen se bewustelike keuse om gedurig en voortdurend en met toewyding, ons
volle samewerking te gee vir die Gees se werking in ons. Om hierdie brood te eet,
kan op baie maniere beskrywe word, soos onder andere geloofsgroei, heiligmaking
en geestelike verdieping. Alhoewel hierdie eenwording met Jesus in ons volledig
sy Gees se werk in ons is, vra dit ons volledige samewerking.
Die een moontlike manier wat Jesus gebruik om
hierdie eenwording te beskrywe, is dat ons een word met sy liggaam. Daar vind
inkarnasie plaas, dit is, ons word die beliggaming van Jesus self. Ja, goed, dit
is ingewikkeld, maar dit is juis die misterie wat ons nie regtig verstaan nie.
Eenvoudiger gestel, ons word Jesus se hande en sy voete. Geestelike groei is
nie om meer soos ‘n engel te word nie, dit is eerder om meer in jou fisiese
liggaam Jesus se gesagvolle verteenwoordiger te wees. Op hierdie wyse is daar
al hoe minder verskil tussen ons geestelike lewe en ons alledaagse doen en late.
Waar begin of gebeur hierdie inkarnasie of
totale nuwe lewensbenadering? Daar waar die Gees geleentheid kry om met jou en
my besig te wees. En hier is nie vaste voorskrifte of neerdrukkende eise wat
gestel word nie. Maar onder andere is die tyd en wyse waarop ons geleentheid
skep in ons binnekamer, verseker een van die beste plekke om geïnspireer en
gevorm te word om Jesus se hande en voete in ons daaglikse lewe te wees!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.