Thursday, January 12, 2017

Oordenking 15 Januarie 2017

Tema: Geniet die lewe met blydskap en rustigheid in Hom
“Wees altyd bly in die Here.” (Filippense 4:4)

Elkeen van ons wil graag die lewe geniet. Ons wil lekker dinge doen. Daar is verseker geen rede waarom Jesus-mense nie hulle daaglikse doen en late mag geniet nie. Verby is die dae wat ons dink Christene moet met vroom gesigte en die Bybel onder die arm rond beweeg. Om die waarheid te sê, dis net ons wat die antwoord vir ander het om werklik met blydskap en rustigheid te kan wees wie ons is.

Die enigste manier vir ons en elke ander mens op aarde, om ware blydskap en rustigheid te vind, is wanneer ons binnekant van ons lewe uitgesorteer word. Met die binnekant van ons lewe bedoel ek daardie innerlike lewe waar die Gees van God in beheer geplaas word. In die Bybel word die hart aangedui as hierdie innerlike lewe van elke mens. Oor die jare is daar al baie geredeneer oor wat die gees en die siel van elke mens presies behels, juis omdat daar ook ‘n stuk misterie is oor wat die innerlike mens presies behels. Vandag wil ons dit probeer eenvoudig hou en net eenvoudig verwys na die innerlike van die mens.

Vir Paulus word die hele lewenswandel van elke Jesus-mens juis bepaal deur die innerlike van elkeen. Wanneer hy sê: “Wees altyd bly in die Here”, dan verwys “in die Here” na die Gees in elkeen wat in ‘n lewende verhouding met die Here lewe. Daar is slegs een manier waarop enige mens se lewe behoorlik uitgesorteer kan kom, en dit wanneer jou innerlike lewe “in die Here” verseker in plek is.

Dan gee Paulus ‘n lys voorbeelde van hoe lyk ‘n lewe “in die Here”: “... inskiklik teenoor alle mense ..., oor niks besorg nie ..., die vrede van God sal oor julle wag hou, ... alles wat mooi is, daarop moet julle julle gedagtes rig.” (gedeeltes uit Filippense 4: 5 tot 8). Hierdie behoort elke Jesus-mens se hoogste ideaal in hierdie lewe te wees. En dit kán!

“... maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4: 6b) Steeds bly ons by die punt waar die antwoord vir ‘n lewe vol blydskap en rustigheid, slegs moontlik is waar jou gebedslewe die kern vorm van jou verhouding met jou Here in jou. Jou binnekamer, jou gedurige gebedskontak met Hom deur die loop van elke dag, jou gebede saam met ander gebedsstryders, ja, jou hele gebedslewe bepaal of jy die lewe geniet!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.