Wednesday, May 29, 2013

Oordenking 2 Junie 2013

Oordenking 2 Junie 2013

“Let op, Ek is!”

“Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”” (Eksodus 3:14)

Net nou die dag beskuldig ‘n nie-teoloog ons predikante dat ons geneig is om te sê in wie en wat ons moet glo, maar selde uitkom by hoe ons moet glo. Een moontlike rede wat ek self moet gee waarom ek wegskram van die hoe, is die gevaar dat dit ontaard in ‘n lysie van pligte vir Jesus-mense, amper soos ‘n lysie van moets en moenies. Jesus-mense is juis vrygemaak van enige vorm van dwang, verdienste en prestasie, want Jesus het reeds aan al die eise wat God stel, volledig voldoen. Tog wys Jakobus daarop dat geloof sonder die hoe of die doen dood is, vir hom is dit soos ‘n liggaam wat ophou asemhaal (Jakobus 2:26). Daarom is die hoe en die doen van geloof ‘n sigbare bewys dat jy wel ‘n Jesus-mens is. En juis deur die sigbare geloof, is daar groei en nuwe ervaringe in jou verhouding met God en met ander mense. Kom ons probeer in die volgende paar weke “doen-dinge” vir Jesus-mense beter verstaan.

Die eerste “doen-geloof” wat ek baie van bewus is, is die 24/7 teenwoordigheid van God in my lewe. Moses ontdek Wie God is by die brandende doringbos op Horeb, die berg van God. Vir Moses is Hy slegs daar teenwoordig, maar in God se bekendstelling van Wie Hy is, is daar meer van God as wat Moses besef. In die Ou Testament lyk dit asof God se teenwoordigheid beperk is tot sekere plekke of gebeurtenisse soos die berg van God, die wolk- en die vuurkolom tydens die woestyntog, die ark in die tabernakel en uiteindelik in die tempel in Jerusalem. Daar is ook ander verskyninge van die Here aan profete of ander Bybelfigure.

Maar toe kom die mens Jesus, wat ook volledig God is, na ons aarde toe. En Hy word die groot “Ek is” ... die lig vir die wêreld; die ware wingerdstok; die brood van die lewe; die weg en die waarheid en die lewe ... (Johannes-evangelie). En dan word die Heilige Gees in al sy volheid op Pinksterdag uitgestort op ons gebroke aarde om in elke Jesus-mens permanente woonplek te maak. Tot hier weereens net in Wie en wat ons glo, en niks hoe nie.

Hier word die hoe, “let op”! Amper soos skrik wakker, maak oop jou oë, skakel alle sensors aan, wees net ingestel, want God is steeds soos vir Moses, ook vir ons “Ek is”. Hy het nog nooit verander nie, al wat kan verander is ons oplettendheid na Hom. Let op hoe Hy in die groot en klein dingetjies in jou lewe ‘n verskil maak; let op hoe Hy jou dra deur moeilike tye; let op dat jou innerlike vrede net van Hom kom; let op dat Hy vir jou goed is op maniere wat jy nie vra of verwag nie; let op Wie Hy vir jou wil wees ... Doen die “let op”-ding!

Doom Charl

Wednesday, May 15, 2013

Oordenking 19 Mei 2013

Oordenking 19 Mei 2013

Nie net beter, dié Allerbeste!

“... omdat God vir ons iets beters beoog het ...” (Hebreërs 11:40a)

Beter as die geloofshelde van die Ou Testament, beter as die huidige ongelowiges en beter as voor ons glo. In watter opsig?
• Beter Verlosser, want Hy het ons reeds verlos deur sy kruisdood;
• Beter offer, want geen offers is meer nodig nie;
• Beter Priester, want Hy word self die offer vir ons;
• Beter verbond, want Hy kom God se deel volledig na;
• Beter vaderland, want Hy maak God se teenwoordigheid toeganklik vir ons;
• Beter uitkoms, want Hy waarborg ons ewige bestemming; en
• Beter geloof, want Hy is die kern van wat ons glo.

Maak asseblief jou hart en jou hele lewe oop vir hierdie “iets beter wat God vir ons beoog” deur:
• Meer tyd in sy teenwoordigheid te spandeer;
• Meer moeite te doen om sy Woord in te neem;
• Meer gesprekke met mede-gelowiges oor Hom te voer; en
• Meer te doen vir Hom in hierdie stukkende wêreld.

Dan sal:
• Jou lewe meer sin kry;
• Jy vir meer mense iets beteken;
• Jy meer deel word van wat God reeds doen;
• Jy meer bewus wees van sy teenwoordigheid in en om jou; en
• Jy reg wees as Hy weer kom.

Want:
• Ons glo in ons enigste liefdevolle Vader;
• Ons glo in ons enigste Verlosser;
• Ons glo dat sy Gees ons gedurig vernuwe;
• Ons glo in EEN WARE GOD!

Ons God is nie net die Enigste nie, Hy is dié Beste, ja, Hy is dié Allerbeste!

Doom Charl

Thursday, May 9, 2013

Oordenking 12 Mei 2013

Oordenking 12 Mei 2013

“Sien” die Onsigbare
“Om te glo, is om ...” (Hebreërs 11:1a)

Slegs en alleen deur geloof; op geen ander manier as deur geloof; God se enigste en volmaakte plan is deur geloof; gister, vandag en more is dit deur geloof – ja, slegs deur geloof lewe Jesus-mense in Hom en Hy in ons. Daarom is dit só belangrik ons oor geloof praat.

• Geloof is meer spiritueel en geestelik as wat dit intellektueel is;
• Geloof vloei uit die krag van God en nie uit die mens nie; en
• Geloof kan nie iets bewys nie, die Gees laat dit gebeur wanneer en hoe Hy wil.

In die Grieks het die woord πίστις (foneties “pistis”) die betekenis om te glo in die goeie nuus aangaande Jesus Christus en om ‘n volgeling van Hom te wees. Maar dit val ook in dieselfde semantiese veld as “vertrou, om staat te maak op, betroubaar”. Meer spesifiek dui dit op ‘n vaste stel oortuigings wat slegs moontlik is in ‘n spesiale interpersoonlike verhouding met God of Christus.

Prakties is geloof nie bedoel om iets bonatuurliks en onbereikbaar te wees nie. Net so vanselfsprekend as wat asem en suurstof is waardeur elke mens lewe, net so natuurlik is geloof in ons as Jesus-mense. Deur geloof word ons in aanraking gebring met die onsigbare wêreld rondom ons. In hierdie nog onbekende wêreld vir ons, bestaan God. So omring die ewigheid waarin die lewende God bestaan, ons.

Hoe kan ons seker wees hiervan? Slegs as ons die sekerheid buite onsself in God ontdek en dan dáárop bou. Geloof word Jesus-mense se oë om God raak te sien. Die wêreld wat sonder God lewe, gaan blind deur die lewe en sien God nie raak nie en gaan so verlore. Jesus-mense sien met geloof vir God en sy goedheid raak. Alleen deur geloof is God alomteenwoordig en liefdevol handelend in ons alledaagse lewe. Maar juis in die asem-wegslaan-wonder van die skepping, sien ons die handtekening van God op elke stukkie detail in die skepping. God het die onmoontlike duplisering van sy sigbare skepping vir ons gegee as sekerheid dat Hy ook in die onsigbare teenwoordig is.

Hoe kan ek iets verduidelik wat ons nie kan sien nie? Hoe oortuig ek ander van iets wat ons as abstrak beskou? Hoe kan ek geloof in God aan ander gee?

Ek kan nie! Net Hy kan!

Doom Charl