Wednesday, December 7, 2011

Oordenking 11 Desember 2011

Oordenking 11 Desember 2011
Jesus – nog altyd Eerste
“Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.” (Kol. 1:15b)
Kersfees het te doen met die begin van God se verlossingsplan vir ons, en vir ons is die begin die geboorte van Jesus. Tog leer ons in die Bybel dat God se plan baie ouer is as Jesus se heilswerk op aarde, dit het voor die Ou Testament al begin. God se plan het al voor die skepping begin, dit het by die Eersgebore Seun van God begin – by Hom wat nie geskep is nie, maar reeds van alle tye af bestaan. Dit is uiters belangrik dat ons verstaan dat Jesus nie eers by sy menswording op aarde begin bestaan het nie, Hy is van altyd af, ja, sonder enige begin – net soos God geen begin het nie.
Om dit net eenvoudig te verduidelik: God Drie-enig bestaan nog altyd, Hy skep die aarde en alles daarmee saam vir Homself, Hy is self die doel van die skepping. En steeds ter wille van Wie Hy is, maak Hy die mens deel van sy herskeppingsplan. So word Jesus as mens gebore om nie net Skepper te wees nie, maar ook Herskepper. Jesus is Enigste en Eerste Verlosser. Hy is die Enigste mens wat gebore is wat volledig ook God is. Daarom word Hy ook die Enigste en Eerste Gekruisigde en Opgewekte mens wat God bly.
Hierdie agtergrond is krities belangrik vir elkeen van ons om die volgende rede. Soos wat die skepping ter wille van God en sy Seun begin het, het die herskepping ook ter wille van God plaasgevind. En die beste van dit alles is dat elke wedergebore kind van God is deel van die herskepping. En die herskepping is deel van die voltooiing van God se verlossingsplan. Jesus is die sleutel tot die suksesvolle uitvoering van die herskepping. Alles is onderweg na die nuwe aarde en die nuwe hemel. En ‘n nie-weglaatbare gebeurtenis in hierdie plan, is die geboorte van Jesus en tegelyk die wedergeboorte van elke kind van God.
Jesus se koms na/geboorte op aarde beteken dus onder andere vir ons:
• In Jesus sien ons wie God werklik is;
• Jesus tree namens God op; en
• Ons deel in die groot voorreg van wie Jesus is.
Doom Charl

Wednesday, November 30, 2011

Oordenking 4 Desember 2011

Oordenking 4 Desember 2011
Jesus die Enigste
... sodat ... elkeen ... die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” ... (Fil. 2:10-11)
Sê nou maar net hierdie oordenking kan:
1. Iemand tot bekering laat kom; en/of
2. Bekeerdes se lewenswyse totaal omkeer; en/of
3. Gebruik word deur bekeerdes om ander tot bekering te lei!
Dit kan gebeur, die kragtige Gees van God kan en wil dit laat gebeur!
Dit kan só gebeur vir die onbekeerde en die bekeerde:
• Bewuswording van sonde, en daarom van totale verlorenheid;
• Geroep tot inkeer en omkeer;
• Gewillig om te verander en om verander te word;
• Ontdekking en begrip van die volledigheid van Jesus Christus se verlossingswerk vir alle sondaars en alle sondes;
• Die bewustelike persoonlike oopstel en in ontvangs neem van God se genadewerk deur Christus vir elke sondaar;
• Gereed én bereid om al hoe meer verander te word soos God jou wil maak;
• Jou hele bestaan en lewe te wy aan God se eer.
Bekering, herlewing, vernuwing begin by elkeen van ons.
Gee aan jouself die beste en grootste Kersgeskenk moontlik:
neem Jesus (weer) aan as jou Enigste!
Doom Charl

Wednesday, November 23, 2011

Oordenking 27 November 2011

Oordenking 27 November 2011
JESUS - die Brenger van genade
Toe sê die eienaar van die wingerd: “Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.” (Lukas 20:13)
Jesus vertel ‘n gelykenis oor die betekenis van sy koms na die aarde:
Die eienaar van ‘n stuk grond plant ‘n wingerd aan en verhuur dit aan boere. Nadat die eienaar vir ‘n lang tyd weggegaan het, stuur hy met oestyd ‘n slaaf om sy deel van die oes te gaan haal. Die boere slaan die slaaf en stuur hom met leë hande weg. So word ‘n tweede en ‘n derde slaaf elke keer meer en meer mishandel wanneer hulle die eienaar van die wingerd se deel van die oes moet gaan haal.
Dan kom die keerpunt in die gelykenis: die eienaar stuur sy enigste seun, want hy redeneer dat die boere hom met ontsag sal behandel. Skielik is die gedeelte van die oes wat die eienaar soek, nie meer belangrik nie. Wanneer hy sy seun stuur, gaan dit eintlik nie meer om die oes nie, maar gaan dit nou oor die lewe van die boere. Dalk sal die boere anders optree teenoor die erfgenaam van die wingerd. Dalk sal die boere meer respek toon vir die lewe van die geliefde seun. Maar nee, die geliefde seun word doodgeslaan. En daarom word die oorspronklike boere ook deur die eienaar van die wingerd om die lewe gebring. En die wingerd word aan ander mense gegee.
‘n Moontlike uitleg van hierdie, wat ek noem, Kersfeesgelykenis:
• Die eienaar van die wingerdgrond, is God self.
• Die boere is die Joodse volk van ouds.
• Die oes wat God oor al die jare soek, is gehoorsaamheid.
• Die slawe wat mishandel word wanneer hulle die eienaar se deel van die oes kom haal, is die boodskappers/profete van God.
• Die geliefde seun is Jesus wat mens kom word het op ons goddelose aarde.
• So het die Joodse leiers aan wie Jesus hierdie gelykenis oorspronklik vertel het, Hom buite die stadsmure op Golgota gekruisig.
• Die ander mense aan wie die wingerd gegee word, is ons wat erfgename is van Jesus se verlossende genade.
Die R1 miljoen-vraag: wat maak ons as nuwe eienaars met Jesus se verlossende genade? Dink vir ‘n oomblik oor die praktiese implikasies van God se genade aan jou.
Doom Charl

Wednesday, November 16, 2011

Oordenking 20 November 2011

Oordenking 20 November 2011
Onverdiende genadige vergifnis feesvierend!
“Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.” (Matteus 18:27)
‘n Koning besluit om na te gaan wie skuld hom geld en hoeveel skuld uitstaande is. So kom hy af op ‘n man wat hom ongeveer R5 miljoen skuld. Die grootste probleem is egter dat hierdie man glad nie in staat is om hierdie skuld terug te betaal nie. Selfs al sou alles wat hy besit verkoop word, sal dit geen noemenswaardige verskil maak aan sy totale skuld nie.
Die keerpunt in hierdie gelykenis is wanneer die skuldenaar in angs voor die koning neerval en om uitstel smeek. In sy hopelose omstandighede, doen die skuldige die enigste logiese en verstandige ding: hy smeek om genade. En dit werk: die koning kry hom innig jammer en skryf in ‘n genadige oomblik R5 miljoen se skuld af. Die skuldenaar word in ‘n genadige oomblik 100% vry van sy onbetaalbare skuld. In stryd met alle logiese denke, verander hierdie skuldige se benarde posisie. En dit is slegs moontlik gemaak deur die koning se buitengewone vrygewigheid.
Maar dan gebeur die onverwagse. Hierdie skuldvrye man se kop haak heeltemal uit toe hy oomblikke later weier om R8 wat iemand anders hom skuld, ook af te skryf. Ja, R5 miljoen teenoor R8 se skuld! Hierdie onaanvaarbare gedrag, verklaar die koning se woede. Kwytskelding behoort tot kwytskelding te lei. Die oomblik toe die koning se buitengewone vrygewigheid in sy gesig teruggegooi word, verloor die skuldenaar sy vryheid en moet hy boet vir sy onaanvaarbare optrede.
Wat leer ons uit hierdie gelykenis:
1. Ons kan onmoontlik vir ons sondeskuld teen God op enige wyse betaal – hou maar op om te probeer, niemand van ons gaan dit kan doen nie.
2. Ons Koning het reeds ons miljoene sondes se aanklag teen ons afgeskryf – waardeer dit.
3. Ons elkeen se bereidheid om ander se verkeerde optrede teenoor ons af te skryf, is die konkrete bewys dat ons iets verstaan van die vergifnis wat ons ontvang – bid vir ‘n vergewensgesindheid.
4. Ons is veronderstel om op alle moontlike maniere ons vergifnis en vryheid deur Jesus Christus se soenverdienste, te vier en uit te leef – leef feesvierend.
5. Ons word sonder verdienste uit genade vergewe en gered deur ons Here Jesus Christus – geniet dit!
Doom Charl

Wednesday, November 9, 2011

Oordenking 13 November 2011

Oordenking 13 November 2011
God se wiskunde van genade
“Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.” (Matteus 20:14b)
Werkers word gehuur om in ‘n wingerd te werk vir die dag. Die eerste groep werkers begin 06:00, die tweede groep 09:00, nog ‘n groep 12:00, nog ‘n groep 15:00 en die laaste groep begin eers 17:00. Almal hou 18:00 op met werk. Die oomblik toe dit by betaling kom, word die laaste groep, wat slegs een uur gewerk het, eerste vir ‘n volle twaalf ure se werk betaal. En so word ook al die ander groepe vir ‘n hele dag se werk betaal, al het almal nie die volle twaalf ure gewerk nie.
‘n Loongeskil word verklaar deur die groep wat die hele twaalf ure in die warm son gewerk het. ‘n Baie mooi voorbeeld in die Bybel van ‘n onbillike arbeidspraktyk. Vir enige logies denkende mens, het hierdie werkers baie goeie rede om ongelukkig te wees. Veronderstel ‘n dagloon is R100, dan behoort die groep wat slegs een uur laatmiddag gewerk het, slegs R8,33 te kry.
Die kritiese punt van hierdie gelykenis, is die eienaar van die wingerd. Hy gaan huur die werkers op die markplein op verskillende tye van die dag. Hy kom slegs met die eerste groep ooreen vir die gewone dagloon. Vir die ander werkloses wat hy deur die loop van die dag huur, onderneem hy om wat billik is, te betaal – geen bedrag word genoem nie. Dit is eers by die oomblik toe dit by betaling kom, dat die voorman, in opdrag van die eienaar, vir almal ‘n gewone dagloon betaal.
In hierdie gelykenis, is die eienaar van die wingerd God en die werkers is die gelowige dienswerkers in sy koninkryk. Hier gaan dit oor God se manier van beloning. God gee die ewige lewe as “gewone dagloon” vir elkeen wat glo. En Hy gee ongeag hoe hard jy in sy koninkryk werk of hoe sterk jou geloof is. Op pad na die grootse beloning van die hemelse heerlikheid, gee Hy sy goedheid en genade in elkeen wat in Hom glo. Hy gee sonder verdienste, Hy gee meer as wat verdien kan word, Hy gee vir wie Hy wil net soos wat Hy wil, Hy gee ten spyte van wie ons is. God se optelsom van sy genade aan elkeen wat in Hom glo, wys vir ons wie Hy is!
Doom Charl

Wednesday, November 2, 2011

Oordenking 6 November 2011

Oordenking 6 November 2011
WIE IS ONS GOD?
... volgens Handelinge 17:
1. Paulus, die praatjiesmaker:
“... ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is.” (:22b)
Vandag se bekende afgode soos geld, mag en selfsug, beroof ons mensdom van ‘n ware lewe van totale oorgawe aan die lewende en opgestane Here en God.

2. Die onbekende god:
“God, wat ...alles ... gemaak het ... woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie.” (:24)
Dit is moontlik om in alle opsigte baie godsdienstig te wees, sonder dat ‘n mens die ware en enigste Skeppergod ken en aanbid.

3. Die Versorger:
“... dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.” (: 25b)
Daar is net een ware God wat Versorger van die mens is: Hy sorg uit genade vir die ewige lewe deur Christus; Hy sorg vir die fisiese, aardse en tydelike lewe op aarde; Hy sorg dat die mens alle tydelike behoeftes op aarde kan kry.

4. Ons is die soekers:
“God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.” (: 27)
Dinge wat nie vir ons uitwerk soos ons dit soek nie, laat ons dikwels sukkel om God raak te sien in ons omstandighede. Soms kry ons wat en Wie ons soek.

5. Die naby-God:
“... deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” (: 28a)
Deur Hom, in Hom, by Hom, saam met Hom, uit Hom, vir Hom, as gevolg van Hom, ter wille van Hom, tot voordeel van Hom, te danke aan Hom ... lewe ons, beweeg ons en bestaan ons!

Ons God is ons alles !
Doom Charl

Wednesday, October 26, 2011

Oordenking 30 Oktober 2011

Oordenking 30 Oktober 2011
Leef positief !
“Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” (1 Petrus 2:5)
Hoe kan jy elke dag positief lewe?
1. Laat julle as lewende stene opbou:
• Haat soos die Here alle verkeerde dinge
• Die Here sorg vir die goeie dinge in jou
• Hy is die lewende hoeksteen waarop jy gebou word

2. Wees deel van ‘n geestelike huis:
• Voed jouself met vaste geestelike kos
• Bid, leer, vertel, dien meer en meer
• Bou jou lewe op die lewende Steen

3. Wees deel van ‘n heilige priesterdom:
• Doen God se soort dinge vir ander
• Wees God se goeie hand in ander
• Heiligwording is ‘n lewenswyse

4. Bring geestelike offers:
• Streef na daardie dinge wat God gelukkig maak
• Dien die Here elke oomblik van jou lewe
• Gee en offer jouself

5. Laat alles vir God welgevallig wees:
• Jesus is die belangrikste steen in jou geestelike huis
• God is die Meesterbouer
• Doen dit alles deur jou oë op God te hou
Doom Charl

Wednesday, October 19, 2011

Oordenking 23 Oktober 2011

Oordenking 23 Oktober 2011
Om gereed te wees
Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!
Die boek Openbaring, en dus die Bybel ook, word afgesluit met die herhaling drie keer van “Kyk, Ek kom gou!”. Hierdie driedubbele uitroep vorm die hoogtepunt van die einde van alles. Die klem val op hierdie dringende oproep en uitnodiging van Jesus – sy koms is baie naby. Sterker as in die res van Openbaring, word die nabyheid van die wederkoms van Christus onderstreep. Dit staan vas, Hy kom gou weer.
Die dringendheid en die gereedheid waarmee Jesus weer verwag word, maak die lewe vir die gelowige die moeite werd. Die spanning waarmee die wederkoms verwag word, motiveer die gelowige om met baie groter ywer Jesus te bly volg. Die gelowige kry ‘n waarborg dat alles onder beheer is, al lyk dinge hoe deurmekaar – die Here God, die Lam en sy Gees is self die waarborg dat alles onder beheer is.
Die nabyheid van die Lam se wederkoms beklemtoon dat die gelowiges gereed moes wees om Hom binne die vier mure van die nuwe Jerusalem te ontmoet. Hierdie gereedheid het alles te doen met die lewende en aktiewe teenwoordigheid van God deur die volheid van sy Gees in die lewe van die gelowige. Die aanwesige hier-wees van Hom in ons as gelowiges, is nou al en sal altyd wees. Ons dringende en innige verlange na die wederkoms, is ‘n verlange na die voltooiing van die volmaakte teenwoordigheid van God.
Ons kry vandag hoop op ‘n beter toekoms waarin ons Christus se teenwoordigheid ten volle sal beleef. So skep ons moed vir vandag en more, want ons kry die waarborg dat God in beheer bly van begin tot einde.
Watter toekoms voorspel die boek Openbaring?
• God sal in beheer bly!
• Die goddeloses en goddeloosheid sal verdwyn!
• Die gelowige navolgers van die Lam van God sal oorwinnend bly lewe!
Kom ons dink na oor:
1. Watter tekens is daar dat die wederkoms van Jesus naby is?
2. Wat kan die gelowiges verwag in die toekoms?
3. Hoe dink jy gaan Jesus weer kom?
Doom Charl

Wednesday, October 12, 2011

Oordenking 16 Oktober 2011

Oordenking 16 Oktober 2011
Om volmaak by God te wees
“Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.” (Openbaring 21:3b)
Die simboliek van die nuwe Jerusalem in Openbaring 21, wil vir ons help om beter te verstaan wat belangrik gaan wees aan die einde van alles hier op aarde. Die stad daal uit die hemel neer, dit beteken dit het ‘n goddelike oorsprong. Die oue word deur God met die nuwe vervang. Letterlik word ‘n nuwe paradys vir die verloste mens gegee om in te woon.
In die Ou Testament was God teenwoordig in die allerheiligste van die tempel. In die Nuwe Testament het God na ons toe gekom deur sy Seun, en leer ons so meer van God. In die tyd waarin ons leef na Jesus se eerste koms na die aarde, het God reeds deur sy Gees volledig in ons kom woon. Tog is die volmaakte belewenis van God in en by ons, iewers in die toekoms. In die hemel sal ons eers volmaak by God wees, al leef ons reeds in sy teenwoordigheid.
• Waarna sien jy die meeste uit in die hemel?
Moontlik gaan God se heerlikheid en teenwoordigheid in die hemel so onbeskryflik fantasties wees, dat dit vir ons minder belangrik gaan wees vir wie ons daar sal erken.
• Wat sal die heel lekkerste ervaring in die hemel wees?
Daar gaan geen boosheid, sonde of probleme wees nie.
• Hoekom wil ek graag hemel toe gaan as ek op aarde sterwe?
Sodat ek God volledig en volmaak sal beleef!
Met my bekering hier op aarde, betree ek God se ewige heerlikheid. Die volle genot en vreugde van Christus se teenwoordigheid, bereik voltooiing met die wederkoms van Christus. Die vernuwing waarmee God in ons besig is, omvat volmaakte geluk, ware lewe, volkome sekuriteit, intieme verhoudingsherstel en ewige heerlikheid. By God word die mens se diepste nood beantwoord, nou en vir altyd.
Jy word hartlik uitgenooi om vandag die ruimte van God se majesteit te betree en dit te geniet!
Doom Charl

Tuesday, October 4, 2011

Oordenking 9 Oktober 2011

Oordenking 9 Oktober 2011
Is jou naam in die boek van die lewe?
“As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.” (Openbaring 20:15)
Bekering is ‘n reaksie op die goeie nuus aangaande Jesus as enigste Verlosser. Die evangelie is ‘n uitnodiging tot die ware lewe in Christus. Dit is nie reg om mense met die hel te dreig of bang te praat nie. Tog is die finale oordeel ‘n baie groot deel van die boek Openbaring. Aan die een kant is daar die verlossing in die eindtyd, en aan die ander kant is daar die oordeel oor die bose. Beide verlossing en oordeel word aan die einde van Openbaring tot ‘n klimaks gevoer.
In ooreenstemming met Daniël 7, beskryf Johannes weer in Openbaring 20 die troon as simbool van mag en van goddelike teenwoordigheid. Volgens die konteks van die toneel, is dit God wat op die troon sit om te oordeel en wat die laaste woord spreek. Die aarde en die hemel verdwyn as teken van die sondige bedeling wat voor God wyk. Anders gestel, aan die einde van alles, sal alle sonde vir die gelowiges verdwyn.
Die oordeel is regverdig, want die goddelose word geoordeel volgens sy lewe soos dit opgeskryf is. Die vuurpoel is die beeld van die ewige voltrekking van God se oordeel – dit word die tweede dood genoem. Dit beteken die goddelose sal nie net die eerste fisiese dood sterf nie, maar ook die tweede ewige geestelike dood. Dit is sommer twee maal dood! Die oordeel sal finaal, beslissend en regverdig van God af kom.
Die mens se verwerping van die Lam, of die gelowige aanvaarding van die Lam, bepaal of hy met die finale oordeel in die poel van vuur sal brand, en of hy die teenwoordigheid van God in die nuwe Jerusalem sal betree (volgende week meer oor die nuwe Jerusalem). Net so bepaal die mens se eie wilsbesluite of sy naam in die boek van die lewe opgeteken is. Die gelowige se besluit om die Lam te volg, maak dat die tweede dood hom nie sal tref nie. Die opteken van jou naam in die boek van die lewe, val saam met jou besluit om ‘n kind van die Here te wees.
Vrae om oor na te dink:
• Het God vooraf besluit wie se name in die boek van die lewe opgeskrywe gaan word?
• Waarom twyfel jy soms of jou naam in die boek van die lewe is?
Doom Charl

Thursday, September 29, 2011

Oordenking 2 Oktober 2011

Oordenking 2 Oktober 2011
God heers steeds!
“Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” (Openbaring 11:15b)
Hier in Openbaring 11 kry ons weer die hooftema van die boek Openbaring: die almagtige God wat vir altyd finale beheer oor alles het.
Waar daar stilte was met die oopmaak van die sewende seël, word daar hard uitgeroep terwyl die sewende trompet geblaas word. Eers was daar die sewe seëls wat oopgemaak word, dan blaas die sewe trompette en dan word die sewe bakke met God oordeelswoede op die aarde uitgegooi. Die volheid en die voltooidheid van die getal sewe kom elke keer ter sprake by die “sewende” wat aanbreek. ‘n Tydperk word afgesluit deur ‘n spesifieke hoogtepunt wat bereik word. En daar is nie noodwendig ‘n kronologiese opeenvolging van die reekse van sewe nie.
Die sewende trompet kondig aan dat God, wat nog altyd as koning geheers het, nou deur een en almal as Koning erken sal word. Die blaas van die trompet is ‘n luisterryke verkondiging van die triomf, die oorwinning deur God self.
Tog beskryf Johannes nog nie die finale einde vir ons in hierdie sewetal trompette wat geblaas word nie. Die toneel word voorberei om die finale oordeel oor die bose te beskryf. Die gelowiges word steeds herinner aan God se koningskap en teenwoordigheid. Die einde sal volgens hierdie gedeelte gekenmerk word deur ‘n vasgestelde moment in die geskiedenis, wat deur God vasgestel is vir die oordeel oor die dooies, die beloning van die gelowiges en die uitwissing van hulle wat die aarde vernietig.
Wat beteken hierdie simboliek vandag vir ons?
• Almal sal hoor en sal weet dat God met sy groot mag besig is om verwoestend af te reken met die goddeloosheid en die boosheid in hierdie wêreld. Hy was reeds in Johannes se tyd daarmee besig. Deur die eeue gaan Hy tot vandag toe voort met die oordeel oor elkeen wat sterf sonder wit klere (simbolies nie wit gewas is deur die bloed van die Lam nie). Die vernietigers van die aarde se beloning, is om met die ewige oordeel vernietig te word.
• Net so word ons as gelowiges, groot en klein, wat God in hierdie eindtyd vrees, beloon met God wat sigbaar word as die tempel vir ons oopgaan. Daar is weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n aardbewing en ‘n groot haelstorm – simbolies van God se mag waarmee sy teenwoordigheid sigbaar word.
Sien jy reeds vir God raak?
Doom Charl

Thursday, September 22, 2011

Oordenking 25 September 2011

Oordenking 25 September 2011
Bid gedurig met ontsag
“Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer.” (Openbaring 8:3b)
Ons kan moontlik moed verloor met so baie wat vandag verkeerd loop, maar ons kan mekaar help om nie ons geloof in God te verloor nie. In die boek Openbaring word gelowiges gehelp om in moeilike tye raak te sien waarmee God elke dag besig is.
Die sewe seëls wat oopgemaak word, simboliseer die bekendmaking van God se oordeel en verlossing. Die blaas van die sewe trompette, kondig die oordeel van God oor die goddeloosheid aan. Die uitgiet van die sewe wraakbakke, is die uitvoering van God se oordeel. Daar is progressie in die simboliek van die seëls, die trompette en die bakke – elke beeld het meer detail en ‘n bepaalde ontwikkeling. Daar is byvoorbeeld ‘n toename in die getal wat geoordeel word en ‘n toename in die intensiteit van die oordeel.
In Openbaring 8:1 is daar ‘n dramatiese stilte. Die spanning verhoog net soos die terughou van die vier winde (Op. 7:1-3) en die verswyging oor wat die sewe donderslae gesê het (Op. 10:4). Na die stilte basuin die trompette die aanbreek van God se oordeel uit. Tog bly God met die gelowiges verbind deur gebed te midde van die spannende afwagting en aankondiging van sy teenwoordigheid.
Ons as Christene bevind ons vandag midde in sekulêre staatsomstandighede wêreldwyd – alles draai om mag, geld en selfsug. Die goddelose mens is besig om homself hier op die aarde te vernietig. Kos word skaarser vir die biljoene aardbewoners, skoon water sal nog net so lank beskikbaar wees, op die oog af vat elkeen vir homself wat hy kan kry, en so is daar baie voorbeelde van die oordeel van God oor die goddelose.
Midde in dit alles, is daar by die skoongewasde gelowiges ‘n gespanne afwagting van God se afrekening met die boosheid. Daarom is die gebede en die toewyding van die gelowiges, ‘n teken van ons groot ontsag vir God. Die wierook wat opstyg na God op die troon, is simbool van ons gebede waarmee ons in direkte kontak met God bly.
Kom ons dink na oor:
• Noem die tekens van vernietiging wat daar vandag is.
• Watter rol speel gebed in moeilike tye vir gelowiges?
• Hoe kan ons as gelowiges meer ontsag vir God betoon?
Doom Charl

Wednesday, September 14, 2011

Oordenking 18 September 2011

Oordenking 18 September 2011
Herskeppende teenswoordige Regeerder
“Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand.” (Op. 4:2b)
Die deur na die hemel word op ‘n klein skrefie vir ons oopgemaak. In Johannes se simboliese taal, beskryf hy in Openbaring 4 die sogenaamde “troontoneel”. Daar is ‘n troon met Iemand op, rondom die troon is 24 ouderlinge en 4 lewende wesens. Wat beteken dit vandag vir ons?
Die Iemand op die troon, is God wat die wêreld beheer. Hy regeer vanuit die hoogste posisie. Hy is in volle beheer van alle gebeure wat Hom en sy koninkryk raak. Te midde van watter politieke en ekonomiese woelinge daar ookal op aarde gebeur, God is op die troon en Hy is in beheer. Te midde van al die aardse boosheid en goddeloosheid, word God steeds erken as die Een wat die bosemagte sal oorwin. Die sittende Een op die troon voer heerskappy oral en altyd en in alle opsigte. Die heerlikheid straal soos pragtige gekleurde edelgesteentes uit Hom.
Die 24 ouderlinge rondom die troon is die totale, verloste, klaar verheerlikte kerk op aarde, reeds rein gewas en toegerus om dienswillig instrumenteel in God se hand, te regeer. Deur die volheid (simbolies sewe) van die Heilige Gees, is God herskeppend besig om vandag deur sy kerk hierdie aarde geestelik nuut te maak. Die 4 lewende wesens (afgelei uit Eseg.1 en Jes.6) is simbolies die hele lewende skepping en het die vermoë om met spoed God se wil uit te voer.
Wat beteken dit vandag vir ons?
Die belangrikste is om vandag te ervaar Wie God werklik is:
Hy is die heilige verlossende Herskepper en die herskeppende teenswoordige Regeerder!
Hoe raak dit ons vandag?
As rein gewaste kinders van God, is Hy besig om deur ons hierdie deurmekaar aarde geestelik nuut te maak. In hierdie laaste dae wat ons op aarde is, is ons deel van God se regeringsmag oor alle bosemagte en goddeloosheid. Hy is besig om te wen, en dit beteken, ons is besig om te wen.
Terwyl ons terugkyk na wat God reeds gedoen het en ons kyk vorentoe na wat Hy nog gaan doen, kry ons moed vir vandag.
Kom ons dink na oor:
1. Watter alledaagse voorbeelde is daar van God wat in beheer is?
2. Hoe kan ons in die kerk deel wees van God se heerskappy?
Doom Charl

Thursday, September 8, 2011

Oordenking 11 September 2011

Oordenking 11 September 2011
Ek maak die deur weer en weer oop
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” (Openbaring 3:20)
Ek bly oortuig, eenmaal ‘n kind van die Here, altyd ‘n kind van die Here. Maar dan is ek ook oortuig, dat ons nie net kinders van die Here moet bly nie, maar geleentheid het om te groei tot volwassenes in die Here. Volwassenes in die Here het die geleentheid om meer wysheid, inniger liefde en groter invloed binne God se koninkryk te bekom. Hoe?
Deur die deur van jou hart weer en weer oop te maak vir die Een wat klop. Om die deur oop te maak vir die Een wat klop, is om tot bekering te kom. Toewyding aan die Een wat klop en voortgaande herhaalde bekering is nodig in Gods koninkryk. Ek hoef nie telling te hou oor hoeveel keer ek al tot bekering gekom het nie of hoeveel keer ek die deur al oopgemaak het nie. As ek enigsins daaroor twyfel, dan kan ek bid en vra en verwag om tot bekering te kom. Dit maak ook nie saak hoe en wanneer ek die eerste keer tot bekering kom nie, maar dit maak saak of ek werklik tot bekering gekom het.
Hoe kom ek tot bekering, of hoe kom ek weer tot bekering?
Maak jou lewe (weer) oop vir God se Gees om geloof in Hom in jou te werk.
Die bewys van bekering is vir ons baie belangrik. Elke bekeerde kind van die Here wil graag weet of hy/sy werklik die Een wat klop ingelaat het. Hier is moontlike bewyse dat jy reeds ‘n kind van die Here, ja, ‘n volwassene in die Here is:
• Jy beleef al hoe meer jou totale afhanklikheid van God se Gees se werking in jou;
• Jy ontwikkel ‘n spontane liefde vir jou medemens in nood;
• Jy kan nie meer stil bly oor die verlossingsboodskap wat jou lewe verander nie;
• Jy ervaar die lewende God as groter werklikheid in jou daaglikse lewe; en
• Jy voel al meer vreemd met die goddeloosheid in ons wêreld vandag.
Kom ons dink na oor:
1. Hoekom sien ons nie meer van bekering in ons kerk nie?
2. Omskryf ‘n volwasse kind van die Here.
Doom Charl

Wednesday, August 31, 2011

Oordenking 4 September 2011

Oordenking 4 September 2011
Leef in die aanwesigheid van die Almagtige
“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (Openbaring 1:8)
Ons lewe in die eindtyd – dit is die tyd tussen Jesus se eerste koms na die aarde en sy tweede koms waarop ons wag. Hoe gereed is jy dat Hy weer kan kom? Jou gereedheid vir Jesus se wederkoms word direk bepaal deur jou daaglikse ervaring van sy teenwoordigheid in jou lewe.
Die boek Openbaring wil die lesers voorberei op Jesus se wederkoms. In die volgende paar weke gaan ons met hierdie doel deur die boek Openbaring blaai. In die tipiese Griekse briefstyl, lees ons dat die hooftema van Openbaring is Christus se wederkoms aan die einde van die tyd.
Daniël 7:13 en Sagaria 12:10 word gekombineer deur die skrywer om die triomferende verskyning van Christus en die vyandige respons van die wêreld daarop, te beskryf. Binne die Joodse denke verskyn die Messias “met die wolke” (Eks. 13:21; 16:10; Matt. 17:5; Hand. 1:9).
Alle mense sal Jesus sien verskyn, en nie net die Jode en die Romeine wat Hom gekruisig het nie. Almal sal weeklaag in selfverwyt en in berou – dit is ook moontlik dat daar skulderkenning by die volke sal wees. In Op. 22:20 word die koms van Christus op soortgelyke wyse beklemtoon.
In Op. 1:8 kom God self aan die Woord in die eerste persoon. Binne die Joodse denke beteken dit dat God nie net die begin en die einde is nie, maar dat Hy ook alles tussenin is – alles in almal en in alles. Hy omvat die hele bestaande werklikheid. In Op. 21:6 word die Alfa en die Omega aangevul met die Begin en die Einde. Hiervolgens is daar geen deel van die geskiedenis waar God uitgesluit kan word nie – die volle historiese verloop is binne sy almag.
Niemand kan die goddelike en magtige teenwoordigheid van Christus ontkom nie – almal sal Hom sien en reageer daarop. Maar dit gaan nie in Openbaring net oor Christus se wederkoms aan die einde van die tyd nie, maar is sy verskyning onder mense in die teenswoordige tyd ingesluit. God is in sy almag aanwesig binne die verloop van die hele geskiedenis.
Kom ons dink na oor:
• Watter tekens sien jy raak dat ons in die eindtyd lewe?
• Verduidelik jou eie gereedheid vir Jesus se wederkoms.
Doom Charl

Wednesday, August 24, 2011

Oordenking 28 Augustus 2011

Oordenking 28 Augustus 2011
Jý is God se oplossing!
Daar is so baie moedeloosheid onder ons. Dit is asof ons hoop verloor het. Te veel goed loop verkeerd: die misdaad bly baie erg; die korrupsie is baie hoog; die onderwys sukkel al hoe meer; armoede neem toe – alles negatiewe goed, en ons verlang na uitkoms.
En eintlik het jý die antwoord ... in God se Woord ... ‘n splinternuwe uitnodiging:
“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (Jesaja 55:1)

Die oplossing is gratis en verniet, so verniet dat diegene wat daarvoor wil betaal, gespot word. Waarom wil jy probeer betaal vir iets wat nie gaan help nie. Ons betaal klaar ‘n prys met al ons negatiewe praatjies. Ons verloor die bietjie hoop wat ons nog het deur na antwoorde te soek op die verkeerde plekke. Die antwoord is nie positiewe ekonomiese groei nie. ‘n Nie-korrupte en puik regering sal nie die armoede laat verdwyn nie. Geld kan nie jou geluk koop nie. ‘n Model onderwysstelsel gaan nie skoolkinders rolmodelle sonder probleme maak nie.
Die uitnodiging, en daarom die antwoord, is in die aanbod van ‘n lewende verhouding tussen jóú en God. Die probleem is dat die klakouse glad nie daarin die oplossing vir ons probleme sien nie.
Hierdie aanbod geld nóú, vandag – gister is verby en môre kan te laat wees! God is vandag reg vir ‘n splinternuwe verbintenis met Hom. Hy wil in die teenswoordige tyd ‘n totaal nuwe verhouding met jou aanknoop. Moenie uitstel nie! Moenie wag nie! Moenie maak asof jy dit nie nodig het nie!
Moenie die fout of die probleem of die antwoord of die oplossing by ander of op ‘n ander plek soek nie. God wil by jóú begin asof jý die enigste mens op hierdie aarde is. Die Slimste, die Magtigste en die Liefste Een wil hierdie wêreld deur jóú ‘n beter plek maak. Hy wil vandag by jóú begin om die moedeloosheid weg te dryf. Hy het nie ‘n ander oplossing nie, jý is die antwoord op vandag se hooploosheid!
Vanuit die splinternuwe verhouding wat God met jóú vandag aanknoop, wil Hy deur jóú wondere verrig. “In die plek van ‘n doringbos sal daar ‘n sipres opskiet ...” (Jes. 55:13a) Wees gereed dat jý vandag groot dinge in sy Naam sal doen. In die ervaring wie Hy in jóú is, word jý in staat gestel om positief sy Koningsheerskappy op aarde te vestig. Hy sorg daarvoor, want sý eer is op die spel. Die toets vir hoe eg Hy in jóú is, sal wys deur jóú lewe vandag! Hoe bereid is jý, dat God deur jóú, werk?
Kom ons dink na oor die volgende:
• Beskryf die splinternuwe verhouding tussen jóú en God.
• Watter positiewe bydrae wil God deur jóú lewer?
Doom Charl

Wednesday, August 17, 2011

Oordenking 21 Augustus 2011

Oordenking 21 Augustus 2011
Die veiligste plek op aarde
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al
die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef. 1:3)

Wie sal nie belangstel om op die veiligste plek op aarde te wees nie?

‘n Tyd gelede lees ek van beeldspraak oor die veiligste plek op aarde. En dit het my sedertdien
gehelp om anders te dink oor my lewe hier op aarde. Ons lewe op aarde word simbolies beskryf as ‘n
bestaan in ‘n huis met twee vertrekke, ‘n onderste kamer en ‘n boonste kamer.

In die onderste kamer is ek self in beheer oor alles wat daar gebeur. Die eie selfsugtige ek bepaal waar
die meubels staan. Die sondige natuur wat in elke individu is, is hier in beheer en onder druk om te
presteer. Hier staan ek onder die wet, en lewe in vrees en onsekerheid of ek goed genoeg is. Hier is my
vleeslike begeertes oorheersend en beleef ek ‘n stryd met dit wat in die boonste kamer gebeur.

In die boonste kamer is die Heilige Gees in beheer oor alles wat gebeur. Hier bepaal die Gees waar die
meubels staan. Hier skep die Gees in my ‘n passie om te groei, om God te aanbid, om Hom te vertrou
en is dit vir my ‘n vreugde om in gehoorsaamheid aan God te lewe. Hier word ek reeds bederf “met al
die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” Hier hoor ek God se stem, voel Hy naby (in) my,
ervaar ek sy genade, en is ek binne God se wil.

Duskant die graf, spandeer ek meeste van die tyd in die onderste vertrek. Ander kant die graf, sal ek vir
die ewigheid in die boonste vertrek vir altyd bly voortbestaan. Oppad hemel toe is vlees en Gees gedurig
in stryd met mekaar. “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op
die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.” (Rom. 8:6).

Die veiligste plek op aarde is om gedurig in die teenwoordigheid van God te lewe, “voor die aangesig van God” (ou Afrikaanse vertaling). Hier is ek vry om te dien en leef ek vry in die Lig van God. Ek leef met my probleme, met my hartseer, met my bekommernis en met my onsekerhede onder beheer van die dinamika van die Gees. My blydskap, my genot, my voorregte, my kalmte, my rus en nog vele meer beleef ek eerstehands uit God se hand.

Kom dink saam met my:
1. Wat laat jou onveilig voel in jou huidige omstandighede?
2. Beskryf iets van jou eie stryd teen die begeertes van jou sondige natuur.
3. Noem voorbeelde van ervaringe in die boonste vertrek van jou aardse lewe.

Doom Charl

Wednesday, August 10, 2011

Oordenking 14 Augustus 2011


Oordenking 14 Augustus 2011
Godsdienstig of wedergebore?
“Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat graag wil nie.” (Gal. 5:17)
Twee kontraste:
x Godsdienstig: √ Wedergebore:
x verpligte gewoontes as kerkmens √ spontane lewenswyse as kerkmens
x doen wat sondige natuur begeer √ word gelei deur die Gees
x help ander as ‘n plig √ doen graag iets aan ander se nood
x twyfel of goeie Christen is √ voel vry om net kind van God te wees
x lees Bybel as ‘n vereiste √ Bybel as inspirasie om vry te leef
x bid is ‘n ritueel √ gebed is om in kontak met God te wees
x gee dankoffers as plig teenoor kerk √ gee onvoorwaardelik liefdegawes
x glo ter wille van eie redding √ glo ter wille van wie Jesus is
x stagneer as Christen √ word getransformeer as kind van God
x eie behoeftes is belangrikste √ fokus op die Here se behoeftes
x wil dit so maklik as moontlik hê √ bereid om swaar te kry om te groei
x selfgesentreerd √ selfloos

Daar is baie goeie godsdienstige mense en die kenmerke van godsdienstigheid is baie goeie waarde vir almal. Tog is die wedergebore Christene beskeie en nederig afhanklik van God se genadige werking deur sy Gees in ons.
Waardeur word jou lewe gekenmerk?
Doom Charl

Wednesday, August 3, 2011

Oordenking 7 Augustus 2011

Oordenking 7 Augustus 2011
“Wow”-oomblikke as beloning
“Op die laaste dag wanneer al sy kinders daar voor Hom bymekaar is, wag daar ‘n groot geskenk vir jou van God self.” (Lukas 14:14 uit Die Boodskap)
Ek loop al vir baie jare rond met die vraag oor beloning en vergoeding vir kinders van die Here wat opreg en met ‘n oop hand na ander uitreik. Hoekom dit vir my ‘n probleem is, is die feit dat dit so ‘n wesentlike deel van ons gereformeerde belydenis is, naamlik dat ons sonder enige verdienste gered word. Tog is daar verskeie Skrifgedeeltes wat beloning vir die goeie en vrygewige gelowiges verseker.
In die kort gelykenis in Lukas 14: 12 – 14, word die gasheer daarop gewys dat diegene wat net mense vir ete nooi, wat weer dieselfde guns kan terug bewys, reeds deur mense vergoed is. Dit is mos ‘n soort sosiale patroon, dat mense net aan ander iets gee as hulle dieselfde of meer terug kan ontvang. Maar eintlik moet die gasheer se uitnodiging eerder wees aan almal wat arm is en niks het om te eet nie, aan die siekes en diegene met liggaamlike gebreke. Want dit is hierdie minderbevoorregtes wat niks in ruil kan teruggee nie, aan wie kinders van die Here goeie dinge doen.
Dan kom die vorm van beloning en vergoeding ter sprake. As jy goed doen sonder om iets terug te verwag, sal God self vergoed waar mense dit nie doen nie. Hierin is daar ‘n fyn lyn van onderskeiding wat ons nie so goed verstaan nie. Diegene wat gee om dieselfde terug te verwag, verwag dit maar eintlik tog uit en uit terug van mense (kom ons noem hulle die “gawe mense”). Dan is daar weer diegene wat gee sonder om iets terug te verwag, wat deur God self beloon word op sy tyd en volgens sy manier (kom ons noem hulle die “goeie mense”). Dus bepaal God self die aard van die vergoeding aan die goeies.
Volgens hierdie gelykenis, wag die groot geskenk van God eers aan die einde van ons aardse lewe. So, alhoewel ons sonder verdienste (slegs op grond van ons geskenkte geloof in Christus se verdienste), gered word, sal die hemelse heerlikheid soos ‘n groot geskenk wees. Natuurlik net baie groter en beter as wat ons onsself kan indink.
Moet die goeies dan so lank wag vir beloning? Nee, deur geestelike groei word die hemelse heerlikheid reeds gedeeltelik deel van my lewe hier op aarde. Iets van die waarde en omvang van God se groot geskenk word nou al, wat ek graag noem, “wow”-oomblikke. Hierdie “wow’-oomblikke beteken geluk en nog meer geluk vir diegene wat selfloos ander minderbevoorregtes se lewens verryk. Hemelse rykdom is om nou reeds op aarde, bederf-oomblikke van God se goedheid te ervaar.
• Is jy werklik gasvry indien jy slegs mense nooi vir ete wat dieselfde guns aan jou kan bewys?
• Dink aan praktiese uitvoerbare gebare aan minderbevoorregtes en gaan oor tot aksie.
• Het jy al “wow”-oomblikke as deel van jou selflose geestelike reis beleef?
Doom Charl

Wednesday, July 27, 2011

Oordenking 31 Julie 2011

Oordenking 31 Julie 2011
Ontspan, Hy weet alles!
“... al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” (Ps. 139:16)
Dat God alles van almal weet, lok twee reaksies uit: vrees of vertroue.
Vir die skrywer van Psalm 139 beteken dit dat hy God in alles kan vertrou. Daar is niks wat Hy van Hom kan, wil en hoef weg te steek nie. God sien deur die mens, Hy gaan oral saam met die mens, die mens kan nie wegkruip nie, elke weefsel en aartjie is vir God bekend, selfs die vyand is geen vreemdeling nie. So ‘n God hoef jy nie te vrees nie, Hy kan jou ondersoek, deurgrond, lei ...
Hoekom is sommiges bang vir Hom? Bang dat Hy alles weet? Wil hulle iets wegsteek? Dink hulle hulle kan iets wegsteek? Waarvoor wil hulle iets wegsteek? Wegkruip sal nie help nie. Weghardloop sal ook nie help nie. Leuens sorg vir groter bang wees. Lees weer Psalm 139:7-12, wegkom kan niemand nie!
Waar kom God se meesterlike kennis oor die mens vandaan? Hy is Skeppergod! Hy weef elke mens aanmekaar op ‘n onnabootsinde wyse. Niemand sal dit soos Hy kan doen nie, al het Hy self die mens hoe slim gemaak. Elke geskape mens is ‘n wonderwerk op sy eie. Lank voor X-strale en MR’S het Hy al kennis geneem van elke verborge liggaamsdeel in ons. Ons soek wonderwerke, ons kan net na onsself kyk en in verwondering saam met die Psalmskrywer voor die Wondergod neerval!
En dan beroof ons God van die vryheid wat Hy aan elke mens gegee het, met ons verstaan oor ons lewensdae op aarde. Hy weet van elkeen van ons vandat ons ouers die genade ontvang het, dat konsepsie plaasvind, maar die daad was hulle vrye wilsbesluit. Van geboorte af is elkeen ‘n vry mens wat sy eie lewenskeuses maak. Die gelowige glo van harte dat hy deur die Gees in keuses gelei word, of ten minste bygestaan word, maar dit is nie altyd gewaarborg dat hy die regte keuses maak nie. Ons maak verkeerde besluite as gelowiges, tog staan die Here by ons al ons lewensdae ... tot op die laaste dag, wanneer dit ookal sal wees.
Daarom pleit die skrywer: “Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Ps. 139: 24)
Doom Charl

Wednesday, July 20, 2011

Oordenking 24 Julie 2011

Oordenking 24 Julie 2011
Hoe lyk Hy in jou vir ander?
“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.” (2 Kor. 3:18b)
DIT is geestelike groei! DIT is heiligmaking! DIT is ‘n dieper spiritualiteit!
Verlang, begeer, vra, bid, smeek, smag, soek ... jy opreg hierna?
“Uit onsself is ons nie in staat ... Ons bekwaamheid kom van God ... Dit doen die Here wat die Gees is.”
(2 Kor. 3:5a en c; 3:18d)
So help een van die ontvangers van die oordenking my om geestelike groei beter te verstaan:
As jou kind gebore word, is jy as ouer oorweldig deur ’n gevoel van liefde, beskerming en vertroeteling, maar die kind moet leer wat liefde is. Deur jou kind se ontwikkeling as peuter, kleuter en jong kind, is dit vir ouers nodig om die kind in liefde te straf om sekere beginsels by die kind tuis te bring. Soos die kind ouer word, ontwikkel wedersydse respek en liefde, en is straf al hoe minder nodig. Later kan jy net jou kind vermanend aanspreek en dan reageer jou kind vanuit dit wat in sy hart is. As jou kind volwasse is, is dit ouers se verwagting en hartsverlange dat jou kind jou liefde met wedersydse liefde sal beantwoord.
Geloof gaan deur soortgelyke groeifases: God se Gees skenk geloof, wedergeboorte vind plaas, oefening in geloofsgehoorsaamheid deur God se Woord is nodig, God se liefdesdade word op jou hart geskrywe, en so word God se manier van lewe in jou al hoe meer ‘n spontane lewenswyse!
Coenie Burger beskryf dit as ‘n houding of ingesteldheid waarmee ons die genade wat die Here aan ons gee, ontvang en kanaliseer sodat dit tot egte lewensvernuwing kan lei. God gee wat Hy vra, Hy soek net ‘n oop kanaal, ‘n gewillige hart, ‘n leerbare gees, ‘n diensbare instrument – so gaan Hy voort met sy koninkrykswerk in en deur ons. En intussen sorg Hy vir die groei, op sy manier en op sy tyd, deur sy Gees.
??????? Wil jy groei? Vra die Gees om jou te bly verander, Hy doen dit graag!
“Ons lyk al hoe meer soos kinders van God. Dit is die Here, Hy wat die Gees is, wat ons so verander.”
(2 Kor. 3:18 uit bybel@kinders)
Doom Charl

Thursday, July 14, 2011

Oordenking 17 Julie 2011

Oordenking 17 Julie 2011
Aanneemlik vir U, Here, asseblief!
“Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.” (Psalm 19:15)
Hoekom loop so baie van ons met skuldgevoelens rond? Hoekom dink so baie mense hulle is nie goed genoeg vir die Here nie? Wonder ons nie almal of ons aan die vereistes van die Here voldoen nie? Tussen ons gewete en sy gebooie voel ons ellendig skuldig!
Net in die afgelope week loop ek by verskillende geleenthede twee mense raak wat spontaan begin verduidelik hoekom hulle Sondag moes gewerk het, so asof hulle daarmee wil bely dat hulle die sabbatswet oortree het en dat dit nou ewig teen hulle name opgeteken gaan staan. Het die Heilige Gees dan nog nie sy nuwe wet op hulle harte geskrywe wat hulle vry maak nie? Is Sondag dan nie opstandingsdag vir hulle nie, of het hulle nog by die Joodse sabbat vasgeval? Sondag is allermins bedoel om ons skuldig te laat voel, eerder bevry en vol lewe en verryk te laat voel, vol nuwe lewe vir die werksweek wat begin! Daarom is dit goeie gebruik om ons geestelike batterye te laai deur eredienste by te woon en liggaamlik te herstel vir die week wat begin.
Terug by Psalm 19: hoe sê en dink ek wat aanneemlik is vir die Here? Twee maniere:
Eerstens: “Die hemel getuig ... sonder woorde ...”
So eg uit ons eie belydenis vertel God se skepping vir ons wie God is en wat vir Hom belangrik is. “Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien ...” (NGB art 2). Niemand het ‘n verskoning dat hulle nie weet wie God is nie, die skepping bewys God (Rom. 1:12). Vir ons as gelowiges laat die skepping ons net meer en meer in verwondering staan voor God. En dit begin sommer by die onmoontlike herhaalbare wonder van ons eie skepsel wees!
Tweedens: “Die woord van die Here ... gee insig ...”
En dan het ek ‘n leerbare gees nodig, ‘n behoefte om die Here te ken en beter te leer ken. En daarvoor het ek sy Woord. ‘n Bevrydende Woord, lewe-gewende Woord, nie-veroordelende Woord, verlossende Woord, altyd nuwe Woord, volmaakte Woord, volledige Woord, moeite werd Woord, ... dit is God se Woord oor God self. Sy Gees kom skryf sy Woord op ons harte, en daardie Woord is aanneemlik, want dit kom van Hom. “... maak Hy Hom deur sy ... Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend ...” (NGB art 2).
Sy Skepping en sy Woord – in soverre dit Syne is en solank dit van Hom kom, is dit vir Hom aanneemlik!
• Hou op skuldig voel: Jesus het jou skuld 100% gedra! Jy IS aanneemlik vir Hom!
• Jy IS goed genoeg vir Hom! Hy skryf sy volmaakte Woord op jou hart.
• Ons Rots en ons Verlosser weerhou ons van onwetende en opsetlike sondes! DANKIE!
Doom Charl

Thursday, June 30, 2011

Oordenking 3 Julie 2011

Oordenking 3 Julie 2011
Mens-wees in aksie
“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.” (Ef. 3:18)
Op die oog af lyk dit nie asof alle mense ewe ernstig na die sin van die lewe vra nie. Tog dink ek dat ons almal op een of ander stadium wonder oor die betekenis van ons hier-wees op aarde. Hoekom is ons hier? Wat maak ons hier? Wat is God se doel met ons hier op aarde? Doen ek die regte dinge vir Hom op hierdie moment van my reis op aarde? Wat kan ek doen om my aardse reis meer te geniet? Daar is verseker meer as een antwoord op die vraag na die sin van ons aardse lewe.
Een moontlike antwoord vir ons aardse reis, is geleë in die verstaan van ons mens-wees in God se oë. God dink so baie van die mens dat Hy hom as sy verteenwoordiger op aarde geplaas het (Gen. 1:27). Hy gaan nog verder wanneer Jesus as volledige mens op aarde gebore word (Matt. 1:18). En na Jesus se hemelvaart, sit God sy werk op aarde voort deur mense (Hand. 1:8). Om die waarheid te sê, die mens is net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak (Ps. 8:6). Ons Skepper het ‘n ordentlike wese gemaak in elke mens, Hy het nie ‘n fout gemaak nie, Hy maak nie foute nie.
Maar ongelukkig maak die mens foute. Die mens is met sy eie besluitnemingsvermoë gemaak. Dit is nog onverstaanbaar waarom God hierdie vryheid van keuse vir die mens gee. Alles wat verkeerd loop op aarde, het te doen met die mensdom wat verkeerde besluite neem. Niemand sal my oortuig dat God ‘n aandeel het aan die chaos wat daar op aarde heers nie. Miskien sal ons eendag verstaan waarom die mens nie vir ewig in die paradys kon bly nie. Moontlik is daar slim mense met redes hiervoor.
Weer terug by mens-wees in God se oë: Hy het die mens goed gemaak en Hy het die mens met foute en al baie lief. So lief dat Hy Jesus vir die redding van die hele mensdom gegee het. Hy wil sien dat alle mense gered word, maar alle mense kies nie sy Redder nie – en dit is hulle skuld, nie Syne nie! Jesus het sy lewe aan die kruis gegee vir alle mense, Hy het sy lewe vir mens-wees gegee. Dit was Jesus se mens-wees in aksie: Hy gee sy lewe vir ons! So wyd en ver en hoog en diep strek die liefde van Christus!
En hoe gee ons dan sin aan ons eie mens-wees? In ons eie mens-wees in aksie, kyk ons met God se oë as sy verteenwoordiger op aarde, na alle ander mense. Dit is deel van die evangelie: om met liefdevolle omgee na ander mense vol foute te kyk en my lewe te gee vir ander mense. Selfloos lewe ek as mens in belang van ander mense. Deur ons as geredde mense strek Jesus se liefde wyer, en verder, en hoër, en dieper na ander mense. So is ek saam met Jesus op reis op aarde – betekenisvol lewe ek dan eers!
Doom Charl

Wednesday, June 22, 2011

Oordenking 26 Junie 2011

Oordenking 26 Junie 2011
‘n Vreemde, maar wonderlike reis
“In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.” (Efesiërs 3:12)
Dit kan maklik gebeur dat jy siek en ongelukkig voel oor jou persoonlike omstandighede omdat jy die verkeerde verwagting van die lewe het. Jy wou nou al ‘n lekker rustige lewe op ‘n veilige plek gehad het. Jy word omgekrap en ontsettend negatief oor elke klein dingetjie of dan selfs groot ding wat verkeerd loop in jou lewe. Jy sien moeilik die positiewe in jou of in ander se omstandighede. En om alles nog te vererger, lyk dinge in die kerk en in die land erg deurmekaar en op die afdraande pad.
Ons verstaan nie dat ons nou nog op reis is na ons eintlike bestemming nie. Ons leef asof hierdie aardse lewe, en net hierdie lewe vol stryd en probleme die eindpunt is. Ons besef nie dat ons nie te veel luukses in hierdie lewe moet verwag nie. Ons geniet nie ons aardse reis met die regte benadering nie. Te veel kere gaan ons gesprekke oor hoeveel beter die verlede was. Indien ons nie ‘n lekker verlede het om na te verlang nie, dan verlang ons na ‘n beter toekoms. En in die proses mis ons die lekker van vandag.
Dan is daar ander van ons wat doodbang is vir die reis, omdat ons dink ons is alleen en moet in eie krag allerhande gevare en onsekerhede trotseer. Ons maak die slimste planne om nie van ander afhanklik te wees nie. As ek maar net genoeg geld bymekaar kan maak (en min mense weet wat genoeg is!), as ek maar net gesond genoeg kan bly, as ek maar net my kleinkinders kan sien groot word, as ek maar net ... My lewensleuse word “solank ek net self sonder ander kan ...”
Hoekom verstaan ons nie dat Jesus saam met ons op pad is nie? Hierdie Jesus-reis kan daarom op ‘n vreemde manier goed en aangenaam en wonderlik wees. Hy word al hoe meer die luukse vir my op hierdie onder weg wees. Dit is ‘n vreemde reis want as gelowige kind van Hom, is ek ‘n vreemdeling op aarde op pad na my ewige bestemming by God. Maar vandag wil Hy die reis vol lekkerte maak, dit is ‘n voorreg saam met Hom, die genot is nou en hier in Hom, want Hy is nou en hier by my!
Doom Charl

Sunday, June 12, 2011

Oordenking 19 Junie 2011

Oordenking 19 Junie 2011
Respek vir pa en ma en ander
“Eer jou vader en jou moeder ...” (Eks. 20:12a)
Verbeter ander se lewe, maak ander ryker, gee betekenis aan almal om jou se lewe – dit is die heel belangrikste motivering agter die wet van die Here. Hoe meer die Gees jou laat groei in geloofsgehoorsaamheid, hoe lekkerder maak dit jou en almal om jou se lewe.
Die belangrikste oefenskool vir lewenswaarhede, is in die gesin. Binne die intieme eenheid van die gesin word geloof gevorm. Ouers en kinders leef hier in verantwoordelikheid teenoor God. Hier word die allerbelangrikste gesagsverhoudinge gevorm. Die gesin, waarvan die huwelik wesentik deel is, is die belangrikste verband in die samelewing. So, wanneer alles in die gesin gesond en in orde is, het dit ‘n direkte positiewe invloed in die samelewing.
Die woorde “eer, respek, ontsag, gesag” het almal te doen met die vyfde gebod, maar die vyfde gebod gaan oor baie meer as kinders wat aan hulle ouers gehoorsaam moet wees. Die hele samelewing is afhanklik van minderes wat respek moet toon aan meerderes. Hierdie lewenshouding is slegs moontlik waar die nuutgemaakte kind van God in voortdurende ontsag binne God se teenwoordigheid lewe. Waar ek as mens my nietigheid teenoor God se grootheid elke oomblik beleef, kan ek nie anders as om teenoor Hom met die hoogste respek te lewe nie.
Die belofte van die vyfde gebod, “dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee”, behels meer as die letterlike betekenis daarvan. In die konteks van die Bybel beteken dit ‘n gelukkige en vredevolle lewe vir jou en almal saam met jou. Wedersydse respek in die gemeenskap, beteken dat ons vir mekaar ruimte gee om elkeen gemaklik te kan lewe. Ja, selfloos is elkeen ingestel op ander se behoeftes en nood. Ons help mekaar waar nodig, ons deel met mekaar en ons deel uit. Naasteliefde en respek vir ander, is binne die christelike taal sinonieme.
Hierdie respek begin in die huis by elke ouer. Waar pa en ma oor God met ontsag praat, in die huwelik mekaar met liefdevolle eer hanteer, self hulle kinders met respek opvoed, en elke ander vorm van gesag herken, word dit aan die kinders oorgedra. Vanuit die Vaderskap van God, het gelowige ouers die geleentheid om as God se hande teenoor hulle kinders op te tree.
Prakties positief:
• Ouers, ook enkelouers, praat mooi voor alle kinders oor God, die Bybel en die kerk;
• Wees ‘n voorbeeld in die hantering van alle vorme van gesag;
• Pa en ma is die ouers van hul kinders, nie hulle maats nie (daar is ‘n verskil!);
• Oupas en oumas se invloed in kleinkinders se lewenshouding is van groot belang;
• Alledaagse optrede teenoor alle ander mense wat ons pad kruis, dwing respek af;
• Wedersydse respek geld regdeur al die lewensfases van elkeen in die huisgesin;
• Om mekaar te eer, is om God te eer!
Doom Charl
NS Gelukkige vadersdag

Tuesday, June 7, 2011

Oordenking 12 Junie 2011

Oordenking 12 Junie 2011
Pinksterkerk in 2011
“En onthou: Ek is by julle al die dae ...” (Matt. 28:20b)
Hoor, glo en leef dit – God is met sy Gees altyd by ons, ook in Junie 2011!
• Hoor dat ons aan die magtigste kerk in alle tye behoort, want ons het die Almagtige by ons!
• Glo dat Christus self sý kerk laat herlewe, want Hy het sý eie lewe daarvoor opgeoffer!
• Leef deur die opstandingskrag van die Heilige Gees wat in sý wedergebore kerkmense uitgestort is!
Hoe sal ons graag wil sien dat sý pinksterkerk ná pinkster 2011 lyk?
1. God, in sy liefde en grootheid, is alles in sý kerk;
2. Niemand binne of buite sý kerk, voel uitgesluit van sý liefdesruimte in sý kerk nie;
3. Almal in sý kerk geniet die voorreg om saam sý dienswerk te doen!
Te idealisties? Menslik gesproke is so ‘n kerk vandag onmoontlik. Tog is die teenwoordige lewendmakende volmaakte Gees van God nog altyd juis hierheen met sý kerk oppad!
Hoe help die magtige Gees ons as sý kerk na die einddoel?
• Hy rus gewilliges toe met sý bekwaamheid en sý bewoëndheid;
• Hy maak die deure van sý kerk oop vir stukkende twyfelaars;
• Hy maak sý kerk se oë en harte oop vir die nood van buitestaanders;
• Hy wil jou baie graag in sý kerk gebruik net soos Hy jou wil hernuwe;
• Hy stort sý liefde uit, om oor te loop uit sý kerk uit, na ander;
• Hy stuur sý kerk met sý lig, in die donkerte in, om nuwe lewe te bring;
• Hy sorg vir sy eie eer in sý kerk totdat Hy weer kom!
Geniet elke oomblik van pinksterkerk wees waar Hy alles in almal wil wees!
Doom Charl

Tuesday, May 31, 2011

Oordenking

Oordenking 5 Junie 2011

Saam met Jesus op die berg ... nagedink oor die kerk

Jesus sê: “Aan My is alle mag gegee ... Ek is by julle ...” (Matteus 28: 18a en 20b)

Die kerk is in die moeilikheid: die kerk loop leeg en die kerk verduur al hoe meer kritiek. Met kerk word alle erkende kerke met ‘n Christelike belydenis bedoel. Statistiek wys daar daar ‘n dalende tendens is in die getal mense wat op die kerk se boeke is. Dit is veral in die ouderdomsgroep van 18 tot 35 wat jongmense weggedryf het uit die kerk uit, die kerk word al hoe meer ‘n oumens-kerk. Saam met hierdie dalende getalle is daar die modder gooiery in die media na die kerk se kant. Die debatte in die kerk word deur die media as sensasie misbruik en skep verwarring binne die kerk.

Dit bring ons by die ou vraag: wie of wat is die kerk? Dit is nie die gebou nie; dit is nie die sinode nie; dit is nie die dominee of die kerkraad nie; dit is selfs nie diegene wat sonder ‘n bekeerde lewe eredienste bywoon nie. Die kerk is die lewende stene in die gebou (simbolies); die kerk is elkeen wat vrygekoop is deur die bloed van Jesus Christus; die kerk is die Geesvervuldes; en nog vele ander beskrywings, soos:

Die kerk lewe met God se mag altyd binne God se teenwoordigheid !
· Toe Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy sy mag oor alles en almal bevestig én belowe dat Hy altyd by ons is – deur die Heilige Gees.
· Om saam met Jesus op die berg te wees, is simbolies om altyd in sy teenwoordigheid te lewe.
· Die enigste manier om suiwer kerk te wees, is om saam met Hom op die berg te wees; of nog beter: Jesus IS altyd saam met die ware kerk op die berg.
· Dit is ‘n vreemde kerk: vol foute en met gebroke, sondige mense, maar gelowiges wat Hom getrou wil dien.
· Gedóóp in sý Naam, die teken en seël van sý besitreg, van sý eienaarskap, maak van ons sý kerk, die kerk wat aan Jesus behoort.
· Waarmee hou sý kerk hul besig? “Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” So bid ons in pinkstertyd dat die Heilige Gees ons in hierdie waarheid sal lei.
· “Alle mag” van Hom vul sý kerk: alles fokus in die kerk op Hom, want Hy vul die kerk met sy mag – Hy neem verantwoordelikheid vir ‘n wen-wen.
· Sý magtige kerk word gestuur om prakties, plaaslik, in die alledaagse lewe van elke dag, met woord en daad, met getuienis en diens, ander te help om ook dissipels van Hom te wees.
· Want sý kerk het die troos en versekering dat Hy altyd by ons is deur die Heilige Gees. Hoor, glo en leef dit weer, want dit is pinkster!

Sý kerk kan nie in die moeilikheid kom nie, want Hy kan nooit in die moeilikheid wees nie – aan Hom is alle mag in hemel en op aarde gegee, en Hy is met ons, nou en elke dag, ja, vir altyd!

Doom Charl

Thursday, May 19, 2011

Oordenking 22 Mei 2011

Oordenking 22 Mei 2011
Lewendmakende Lewende Een
“Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe ...” (Esegiël 37: 14a)
Hoe meer ek worstelend nadink oor my eie gebrekkige geestelike groei en die min geestelike vrug wat ek in mede-kerkmense sien, hoe meer besef ek dat die “self” ons grootste struikelblok bly. Die vraag bly dus: hoe kom ek verby selfloosheid, eie belang en selfsug?
Daar is net een manier: die Selflose Een maak vry van selfloosheid! Dit bring ons by, wie is die Selflose Een? Weer soek ek woorde wat minder bekend is om Hom te probeer beskryf. Ons is so gewoond, te gewoond, aan Here, God, Jesus, Christus, Verlosser, Vader, Heilige Gees, ens. Hy is baie meer as net sy Bybelse aanspreekvorme of titels. En indien ons ander woorde kry of uitdink om meer van Hom te omskryf, bly dit menslike woorde om die Onverganklike, Onsienlike, Almagtige, Alwyse, Ewige, Aanbiddelike Een te beskryf. Kom ons waag dit ‘n millimeter nader aan die Allerheiligste Een!
Ja, nader aan Hom en verder weg van selfloosheid. Hoe nader ons aan Hom kan kom, hoe beter ons Hom ken, hoe vryer word ons van die self, hoe beter kom ons weg van eie belang. Hy maak ‘n onbeperkte aantal maniere beskikbaar om nader aan Hom te kom: deur sy Woord praat Hy oor Homself, deur die skoonheid van sy skepping leer ons Hom ken, deur stilte raak ons bewus van Hom, deur tye van beproewing bly Hy by ons, en op nog vele ander maniere kan ons nader aan Hom kom. Opstandingstyd wat oorgaan in Pinkstertyd, Heilige Gees-tyd, gee vir ons die geleentheid om dit nader aan Hom te waag.
En deur wat Hy die graagste DOEN in selflose sondaars, ken ons Hom en is ons nader aan Hom. Hy is die enigste Een wat Lewendmaker is, Hy is die enigste Lewe-doener, Lewegewer, Lewe-bewerker. Hy is die Gees wat lewe bring in bene sonder vleis en senings. Hy laat selfsugtige mense uit hulle grafte kom sodat hulle selfloos kan lewe. Waarlik lewe, lewe in en deur die Lewendmaker, gefokus lewe vir die Lewe-doener, die opstandingslewe leef vir die Opgestane Een! Hoe meer Hy Doener van Lewe in my is, hoe nader is ek aan Hom en hoe meer word Hy in my!
Geestelike groei en geestelike vrug in Pinkster en in die tye wat kom, is die doen-ding van die Lewendmakende Lewende Een:
· ... laat sy Gees in jou kom;
· ... sodat jy (selfloos) kan lewe;
· ... Hy sal dit doen (Hy belowe dit swart op wit)!
“Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here. (Eseg. 37:14c,d)
Doom Charl

Wednesday, May 11, 2011

Oordenking 15 Mei 2011

Selflose opstandingslewe
“Hierdie redding kom nie uit julleself nie ... Dit kom nie deur julle eie verdienste nie ... om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” (frases uit Ef.2:8-10)
Ons raak so gewoond aan sekere woorde wat ons oor baie jare in die kerk hoor, dat ons dit nie reg verstaan nie en dat dit nie ons lewe positief verander nie. Om hierdie rede hou ek daarvan om na ander woorde te soek, wat nuut op die oor klink en wat ‘n impak op ons lewenswyse kan maak. So het ek afgekom op die erkende Afrikaanse woord “selfloos” wat in die Verklarende Woordeboek omskryf word as “onselfsugtig; sonder om aan eie belange te dink”.
Selfloosheid is vir my een van die heel belangrikste sigbare eienskappe van gelowiges wat die opstandingskrag van Jesus Christus deur die Heilige Gees in hulle lewenswandel besit. ‘n Ware opstandinsglewe word vry van al die “ek”-pogings tot redding en ‘n heiliger lewe. Dit dink nie eers aan eie belange nie. Dit is ‘n lewe gerig op God in die eerste plek, maar dit is ook ‘n 24 uur sewe dae gerigtheid op my naaste (soos in die samevatting van die liefdesgebod). Selfsug vernietig juis ‘n liefdevolle lewenswyse; terwyl onselfsugtigheid verhoudings met God en ander kragtig opbou.
Klink alles so teoreties, so onmoontlik? Ja, uit onsself totaal onmoontlik, maar ons aangehaalde teksvers hierbo wys, dat dit is waarvoor God ons bestem het. Hy bewerk ons redding, Hy gee geloof, Hy stroop ons van eie verdienste, Hy maak ons vry om selfloos te wees, Hy doen sy goeie werk deur ons, Hy maak ‘n impak in ons en in ander. Dit is God se werk waarmee Hy die graagste besig is: om van ons selflose heiliges te maak!
Kom ons raak nou baie prakties (nie wetties nie!). ‘n Selflose opstandingslewe beteken:
· Bel of SMS iemand van wie jy niks hou nie wat pyn of hartseer ervaar;
· Gee vir ‘n minderbevoorregte R100 wat dit glad nie van jou sal verwag nie;
· Gee ‘n opregte kompliment aan iemand wat jou irriteer;
· Bewys ‘n guns aan iemand wat baie aan jou verskuldig is;
· Maak vrede met ‘n persoon wat jou te nagekom het.
... sodat ander meer van die opgestane Een in jou kan sien, Hy wil dit baie graag doen!
Doom Charl

Monday, May 2, 2011

Oordenking 8 Mei 2011
Hoe leef ons die opstandingslewe?
“Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Kor. 15:58)
Hierdie teks is die afsluiting van Paulus se uitsonderlike hoofstuk oor die opstanding en is vir ons ‘n pragtige beskrywing van hoe gelowiges wat die opstanding reg verstaan, kan verwag om te lewe. Ons grootste uitdaging bly steeds om ons daaglikse lewe, dit is die hele week van Sondag tot Saterdag, te vul met inhoud wat wys ons leef met Opstandingskrag. Hoe verstaan ek hierdie teksvers?
Die lewenskwaliteite wat hier vir ons gegee word, is geensins wettiese voorskrifte nie. Ek verstaan dit as die direkte gevolg van die werking van die Gees wat ons daagliks soek in alles waarmee ons besig is. Daar is bevryding in Opstandingskrag, want dit is God se lewendmakende Gees wat in en deur ons nou reeds met sy vernuwende werk besig is. Hier is geen prestasie of verpligting vir ons nie, net oorgawe, net oopstel, net beskikbaar bly vir sy werk in ons, net toegee en toelaat dat Hy werk. Die standvastigheid, die onwankelbaarheid en die oorvloed vind ons in die geloof wat ons in God ontvang het, nie in ons eie inspanning en nakom van verpligtinge nie.
In die Bybel vir Kinders word hierdie teks eenvoudig en meer verstaanbaar vertaal: “Liewe vriende, hou vas aan die Here. Moenie dat iets julle ooit van Jesus af wegtrek nie. Hou ook aan om vir die Here te werk. Weet dat wat julle vir die Here doen, alles die moeite werd is. Ons weet mos dat ons eendag vir altyd saam met Hom gaan wees.”

Hou aan die Here vas deur soveel as moontlik by sy werk betrokke te wees, dit is alles die moeite werd, want uiteindelik gaan dit vir ons die heel beste by Hom wees. Of kan ons dit omdraai: wees nou alreeds soveel as moontlik by Hom deur by sy werksaamhede in te val, dan is ons is só besig om aan Hom vas te hou. Nooit mag dit vir ons moeite en inspanning wees om aan Hom vas te hou nie, eerder lekkerte en vryheid dat Hy by ons is!

Die opstandingslewe wat vol Opstandingskrag is, is nie net die beste manier van lewe nie, dit is die enigste manier van lewe. Dit is ‘n lewenswyse wat 100% deur die Gees geleef word, al ervaar ons dit nie elke oomblik van die dag nie. Dit is God wat in ons leef, soos Hy wil en soos Hy besluit, en in die mate wat ons Hom toelaat en vryheid gee om ons lewe te beheer. Ons probleem as gevolg ons sondige aard, is dat Hy wil 100% in ons leef, maar ons gee Hom nie altyd die volle geleentheid nie. Van God se kant af gesien, is dit vir ons bedoel om ‘n veilige en ‘n baie aangename lewenswyse te wees – dit is nou die opstandingslewe. Dit is in elke geval hoe ons die ewigheid in sy teenwoordigheid gaan deurbring! So, hoe gouer ons in die ding kom (dit is die opstandingslewe), hoe beter vir ons en veral vir Hom!

Om oor na te dink:
(1) Hoekom voel jy gereed om nou reeds die opstandingslewe te leef?
(2) Waarna sien jy die meeste uit van die hemel?
(3) Hoekom is dit vir jou lekker om ‘n kind van die Here te wees?

Doom Charl

Tuesday, April 26, 2011

Is jy gereed om te lewe of om te sterwe?

“... sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”  (Joh. 20: 21c)
In heelwat evangelisasiemetodes, word mense gekonfronteer met die vraag: “Is jy gereed om te sterwe?” met die bedoeling “Is jy gereed om hemel toe te gaan?”  Dit is ‘n manier om agter te kom hoe sake staan met ‘n persoon se geloofsverhouding met die Here. Maar is dit regtig ‘n geldige manier om iemand se geloof te toets? Die eintlike vraag vir gelowiges is nie of jy reg is om te sterwe nie, maar eerder of jy reg is om te lewe. Ek gaan verduidelik:
Ons is nou in die opstandingstyd van die Christelike kerkjaar, dit is die tyd tussen die herdenking van Jesus se opstanding en sy hemelvaart. Dit is ‘n baie goeie tyd van die jaar om baie mooi te besin oor die eintlike betekenis van Jesus se oorwinning oor die dood. Die grootste uitdaging is nie om saam te stem dat Hy waarlik opgestaan het nie, maar baie eerder om die betekenis van sy opstanding vandag in ons alledaagse lewe beter te verstaan. Watter impak maak die opgestane en lewende Jesus in my lewe elke dag?
Soos ons teksvers hierbo dit stel en soos dit binne ons geloofsleer aan ons verduidelik word, glo ons in ‘n lewende God en nie ‘n god van die dood nie. Hy het nie net sy mag oor ons grootste vyand, naamlik die dood, kom wys toe Jesus uit die dood opgewek is nie. Hy het daarmee vir ons die ware, die ewige, die vredevolle lewe in Christus moontlik gemaak. Hy vernietig daarom die bedreiging van die aardse dood vir gelowiges, en gee in die plek van die sterwe, die vernuwende Geesvervulde lewe vir elkeen wat dit verlang. Hy gee die lewe reeds voor ons hemel toe gaan, sodat ons nou, vandag vir Hom kan lewe!
Is jy gereed om eerder te lewe as om te sterwe? Wel, Jesus het opgestaan uit die dood, sodat jy nou reeds in Hom en vir Hom kan lewe, en ook sal bly lewe in ‘n verheerlikte toestand, al sou jy en ek uiteindelik hier op aarde sterwe. Glo dus eerder om nou reeds voluit en met toewyding as volgeling van die opgestane Jesus te lewe, moenie wag totdat jy sterwe nie!
Hoe reageer jy op die volgende vrae:
  1. Is jy gereed om te lewe, of om te sterwe?
  2. Watter impak maak die opgestane en lewende Jesus in jou lewe elke dag? 
  3. Vir wie gaan jy in die volgende 24 uur hierdie twee vrae vra, en met die persoon/e daaroor praat?
Doom Charl