Thursday, July 28, 2016

Oordenking 31 Julie 2016

Tema: Ons hét ‘n plig, maar ...
“Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10b)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk.

Na aanleiding van Hebreërs 10:14, “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.”, maak ek die radikale stelling: ons kan nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Maar na aanleiding van Jesus se vertelling in Lukas 17, wil ek byvoeg: ons wil nooit weer by God in die moeilikheid wees nie! Hoekom, vra jy?

‘n Slaaf werk getrou vir sy eienaar. Na ‘n dag se baie harde werk, kom hy by die huis én dan moet hy nog sy eienaar na-ure bedien sonder enige teëpraat. Eers wanneer hy eendag klaar is met alles wat sy eienaar na ‘n lang dag van hom verwag, mag hy self eet en drink, en iets vir homself doen.

Hier is dit baie belangrik dat dit is slaaf is wat deur ‘n eienaar besit word. Vir slawe is daar geen vergoeding en geen vaste werksure nie. Slawe verskil van dagloners, wat wel vergoed word en net sekere ure hoef te werk. In Jesus se gelykenis gaan dit nie oor die onredelike eise van die eienaar van die slaaf nie, maar eerder oor die gesindheid van die slaaf teenoor sy eienaar.

Binne die geestelike dimensie van God se koninkryk gaan dit oor ons, die slawe, se gesindheid teenoor ons Eienaar. Ons is baie duur gekoop deur die bloed van Jesus om nooit weer in die moeilikheid by God te kan wees nie. Maar wanneer en juis omdat, ons besef hoe duur die prys vir ons vryheid is, wil ons dan ook nooit weer in die moeilikheid by God wees nie.

Ons hét dus ‘n plig as vrygekoopte slawe binne God se koninkryk om Hom gewillig en heelhartig te dien. Eers wanneer ons werklik ontdek wat dit beteken om ‘n vry slaaf in God se ryk te wees, is ons bereid om met die regte gesindheid alles, ja ALLES, te doen wat ons Eienaar van ons verwag. Hy gee besliste beginsels in sy Woord en deur sy Gees in ons, wat ons met toewyding en met blydskap navolg.

Hoe meer ons verstaan waarmee ons God besig is en waarvoor Hy ons nodig het in sy koninkrykswerk, hoe meer sal ons Hom met vreugde dien. Hierdie koninkrykbeginsels verryk ons lewe, want dit is in die eerste plek nie in ons eie belang nie. Ons dien omdat ons wil en omdat ons kan en omdat dit van ons vereis word. Daarom word ons nooit moeg om te dien in die koninkryk nie. Ons werk ook nie om met onsself tevrede te wees nie, maar omdat ons weet hoe belangrik dit is dat God tevrede met ons sal wees!

Thursday, July 21, 2016

Oordenking 24 Julie 2016

Tema: Die grootste en waardevolste rykdom in alle tye!
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ...” (Matteus 13:44a)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is in terme van die ewigheid. Vir Jesus het die ewigheid te doen met “die koninkryk van die hemel”, of op ander plekke “die koninkryk van God” genoem.

Nou vertel Hy twee baie kort gelykenisse, wat baie maklik verkeerd verstaan kan word. Eers is daar “’n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê.” Waarskynlik is dit ‘n gewone dagloner wat besig is om in hierdie saailand te werk en wat hierdie baie kosbare skat ontdek. Omdat dit nie sy eie saailand is waarin hy werk nie, kan hy nie net sommer die skat vat nie. Hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop daardie land.” Hier is geen sprake daarvan dat hy enige iets oneerlik doen in hierdie transaksie nie. In die tweede soortgelyke vertelling, loop ‘n juwelierhandelaar “’n baie waardevolle pêrel” raak. Ook hy “gaan verkoop alles wat hy het, en koop die pêrel.”

Nou is die belangrike vraag: waarna verwys die skat in die land en die waardevolle pêrel in terme van die koninkryk van die hemel? Maklik kan die skat en die pêrel verkeerd verstaan word as dat dit verwys na Jesus self as Verlosser, of na die Woord van God, of na die kerk van Christus op aarde. Baie eerder verwys die skat en die pêrel na die voorreg en die gawe om deel te wees van die koninkryk van God. Die grootste en waardevolste skat wat ons kan kry, is om vir ewig te behoort aan God se ryk van heerskappy en liefde!

Nog ‘n belangrike vraag na aanleiding van Jesus se vertelling: wat beteken “gaan verkoop alles wat hy het”? In ander woorde, sal ons ook kan vra: wat kan elkeen van ons doen om hierdie grootste en waardevolste skat te kry? So maklik kan hierdie waaghalsige verkoop van alles, weer neerkom op eie inspanning en verdienstelike opoffering. Op hierdie manier kan niemand die skat bekom nie.

Die enigste manier om God se beheer van jou lewe, deur Sy Gees, vir ewig deel te maak van jou lewe, is:

          Om die rykdom te ontdek van sy ewige beloftes;

          Om met jou hele hart te glo in Hom;

          Om bereid te wees om alles op te offer ter wille van die ewige rykdom wat in Hom alleen te vind is!

Thursday, July 14, 2016

Oordenking 17 Julie 2016


Tema: Om soos Jesus jammer te kry ...
“Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” (Lukas 10:33)

So maklik kan ons dink ons verstaan. Ons verstaan waaroor die lewe gaan, ons verstaan wat in ander se lewe aangaan, ons verstaan die Bybel. Maar soms het ons ‘n kans om net weer nuut te dink. Ek nooi jou uit om nuut te dink oor die tweede bekendste vertelling van Jesus, naamlik die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die heel bekendste gelykenis van Jesus is die een oor die verlore seun.

‘n Onbekende persoon word deur rowers op ‘n gevaarlike pad oorval, beroof en baie seergemaak. En dan sommer half kaal daar langs die pad gelos. Eers kom die baie godsdienstige en wetsgetroue priester ver verby en ignoreer die beseerde langs die pad. Nog ‘n kerkmens, die Leviet, kom verby en doen ook sonder enige rede, niks.

Dan kom die Samaritaan verby. Ons kan met sekerheid sê dat die beseerde persoon, die priester en die Leviet Jode was. En dit is juis die punt: die Jode en die Samaritane het mekaar in Jesus se tyd gehaat soos pes. Op geen manier sou enige Jood enige moeite doen met ‘n Samaritaan nie. Nou gebeur die ongehoorde en onaanvaarbare ding: ‘ n Samaritaan help ‘n beseerde Jood!

Let op die omvang van die hulp: hy doen eers noodhulp net daar op die plek, dan laai hy die beseerde persoon op sy rydier én dan gee hy vir hom blyplek in ‘n herberg vir die waarde van amper een maand, met die ooreenkoms dat hy enige uitstaande koste sal betaal met sy terugkoms! Vir Jesus se luisteraars iets totaal ongehoords!

Nou is jou kans om nuut te luister: wie is hierdie Samaritaan in Jesus se vertelling?

Die Samaritaan is die verwerpte een, geminag en verstote. Die Jode wat luister het, het letterlik niks gedink van die Samaritane nie, wat nog om te dink dat hulle iets vir ‘n Jood sou doen. Duidelike grense: geen simpatie, geen gevoel.

Miskien hoor jy vir die eerste keer: Jesus is self hierdie Samaritaan in sy eie vertelling!

Kan of is jy bereid om soos Hy innig jammer te kry?