Thursday, September 28, 2017

Oordenking 1 Oktober 2017

Tema:  Dié Here-nabye-leefwyse!
“Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
(2 Korintiërs 3: 18b)

Ek hoor hierdie week een van die beste beskrywings van hoe mense net so maklik hulle lewensdoel mis: “om arm te wees met baie geld”. Dit is so ‘n natuurlike ding om jou lewe op die verkeerde doelwitte te fokus, soos rykdom of prestasie of gewildheid of alle daagse probleme. Daar is soveel meer in die lewe vir ‘n Jesus-mens, wat die diepte element van ‘n intieme verhouding met Jesus ontdek.

Daar is ‘n drastiese en radikale verskil tussen die ou mens sonder Jesus in sy lewe en die nuwe mens wat totaal oorgegewe aan Jesus lewe: dood of lewe; gebind of vry; verlore of gered; donker of lig; selfgerig of selfloos; aardsgebonde of vol hemelse heerlikheid; blind of siende; doof of horend; ensovoorts; ensovoorts.

Nou verduidelik Paulus in 2 Korintiërs 3 hoe die oorgang van die ou mens na die nuwe mens moontlik is: slegs deur “die Here wat die Gees is”. Niemand van ons kan onsself verander nie. Niemand van ons kan ander verander nie. Let mooi op hoe dit in Die Boodskap omskrywe word: “Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats. Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees is, wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê.” (2 Korintiërs 3: 18b)

Die antwoord vir ‘n nuutgemaakte lewe, lê in “hoe meer ons die Here se grootheid raaksien”. En die enigste praktiese manier, hoe elkeen van ons meer van die Here se grootheid kan raaksien, is dat ons meer tyd met Hom sal spandeer. Hy hou baie daarvan dat ons Hom soek, na Hom verlang, spesifieke dinge doen om sy teenwoordigheid te soek, ingestel is om Hom in die alledaagse te belewe, in gesprek met Hom te bly. Ja, elkeen van ons kan vir die Here baie bly maak, deur net baie beter agter te kom hoe baie Hy van ons hou.

Die ongelooflike gevolg van hierdie Here-nabye-leefwyse, is dat Hy deur elkeen wat so leef, ander se lewens nuut maak en verander “soos Hy dit wil hê.”

Wil jy baie graag “verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê”?

Die Here self, wat Gees is, is reeds besig om jou te verander om sy heerlikheid te weerkaats!

Thursday, September 21, 2017

Oordenking 24 September 2017

Tema:  Hoe ernstig is jy met Jesus?
“Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Hebreërs 13: 15)

Die tyd om doekies om te draai is verby! Stop onmiddellik met die speletjie wat ons “godsdiens” noem! Reguit en ondubbelsinnig moet ons nou vir mekaar die suiwer waarheid van ‘n lewende verhouding met Jesus uitspel. Ja, jy sê, jy het jou pad saam met Jesus begin loop, anders sou jy nie nou hier lees nie. My vraag aan jou: hoe ernstig loop jy hierdie pad?

·         Watse impak het jou verhouding met Jesus in jou lewe?
·         Het Jesus in die afgelope 24 uur ‘n direkte invloed gehad in enige besluit wat jy geneem het?
·         Was daar in die afgelope paar dae enige tyd wat jy afgesonder het om alleen met Jesus te wees?
·         Het jy enige persoonlike getuienis, wat baie spesifiek met Jesus in jou lewe te doen het?
·         Was jy in die afgelope week iewers in gesprek met enige ander persoon, gered of ongered, oor Jesus?
·         Ervaar ander mense iets van Jesus in jou?
 
Voel jy dalk ongemaklik as ek hierdie vrae vra? Dan is dit tyd dat jy ernstig sal besin oor jou verhouding met Jesus. In ‘n opregte verhouding met Jesus, maak Hy van jou ‘n totaal nuwe mens.

 Die Hebreër-skrywer konfronteer ons met: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring ...”  Hierdie is alles behalwe net lippetaal of net pragtige lofliedere sing. Hierdie is ‘n lewe van totale prysgawe en oorgawe aan Jesus self.

Dit beteken: ek en jy ontdek die grootsheid, die finaliteit en die volledigheid van Jesus se bloedoffer aan die kruis vir my en jou. Hierdie bekeringsoomblik keer ons lewens totaal om wanneer die Heilige Gees hierdeur lewe in ons “inblaas”. Die gevolg is:

·         Volledige en permanente opoffering van alles wat vir jou in hierdie aardse lewe belangrik is; en
·         ‘n Definitiewe en totale oorgawe aan alles wat vir Jesus nou hier op aarde belangrik is.

Prakties word jou lewe ‘n offer aan Jesus: jy soek met alles in jou dat elke stukkie detail in jou lewe deur Jesus se prioriteite bepaal word; jy beleef dat sy Gees elke verhouding waarin jy moontlik in is, met ‘n spesiale gees van liefde vul; jou tyd, jou geld, jou besittings, jou planne, jou drome, ja, jou ALLES, is Syne en Syne alleen, en so bestuur jy dit elke dag vir die res van jou lewe hier.

Hoekom is hierdie totale oorgawe van jou lewe belangrik?
Slegs een rede: jy is ongelooflik kosbaar en spesiaal vir Jesus!

Thursday, September 14, 2017

Oordenking 17 September 2017

Tema:  Deur Gods genade alleen gestuur!
“En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.” (Efesiërs 3: 6)

Deur genade alleen, word ons wie God wil hê ons vir Hom moet wees!
Deur die wilsbesluit van geloof alleen in die Reddende Een, word ons gered!
Deur Christus alleen is daar lewe!
Alleen deur die Woord wat lewe in en deur ons word, is daar vreugdevolle vryheid!
Tot eer van God alleen, leef ek deur Hom alleen elke dag!

Hierdie grondwaarhede van ons saligmakende geloof, vorm die kerninhoud van Jesus se opdrag waarmee Hy ons in die wêreld instuur – die Missio Dei, dit is “gestuur deur God” in Latyn. Wat beteken dit vir elkeen van ons?

Ek is sy gestuurde met die voorreg om sy opdragte vir my, uit te voer.
Ek is gesalf met sy Gees om sy lewensdoel met my hier op aarde te bereik.
Ek word vervul met sy volheid en dit is die belangrikste toerusting wat ek nodig het.

Elkeen van ons het baie spesifieke gawes en kwaliteite wat aan ons gegee is, sodat God sy koninkryksdoel met ons kan bereik. Dit is ons elkeen se voorreg en ons verantwoordelikheid en ons fantastiese geleentheid om ons hoër en dieper lewensdoel tydens ons aardse lewe ten volle te bereik. Ons besit ‘n gewaarborgde rykdom in Christus wat bedoel is om met ander te deel. Die wyse waarop ons dit met ander deel, verskil van persoon tot persoon. Die gehoorsame samewerking in die ontwikkeling van jou unieke gawes, is ‘n wesentlike deel van jou geloofsgroei.

‘n Paar voorbeelde, en let wel, daar is eintlik onbeperkte voorbeelde:
·         Om die goeie nuus oor Jesus aan ander te vertel;
·         Om genesing te bring vir die siek wêreld wat sonder God probeer regkom;
·         Om troos te gee in al die hartseer wat in ons midde is;
·         Om verligting te bring vir die armoede wat net erger word;
·         Om getrou te bid tot God wat altyd in beheer sal bly;
·         Om eerlik en met opregtheid elke dag te leef in elke omstandigheid;
·         Om in elke verhouding met Jesus se omgee-liefde ‘n verskil te maak.

Ek en jy is God se geliefde uitgesoekte uitverkorenes, wat die voorreg het om ander mense te begelei om deel te kry aan alles wat God belowe het!

Friday, September 8, 2017

Oordenking 10 September 2017

Tema:  Eer aan God alleen is ons lewensdoel
“... aan Hom kom die eer toe ... in ons verbondenheid met Christus Jesus ...” (Efesiërs 3: 21)

Deur genade alleen, word ons wie God wil hê ons vir Hom moet wees!
Deur die wilsbesluit van geloof alleen in die Reddende Een, word ons gered!
Deur Christus alleen is daar lewe!
Alleen deur die Woord wat lewe in en deur ons word, is daar vreugdevolle vryheid!

Hierdie bogenoemde “alleen”- geloofswaarhede vorm die fondament vir ons elkeen se lewe om tot eer van God alleen, ons lewensdoel te bereik. Maar wat behels ‘n lewe tot eer van God prakties elke dag?

Die Latynse Soli Deo Gloria word onder ander gedefinieer as “the glory of God is man fully alive”. Daar is vir elkeen van ons ‘n dieper dimensie om ons lewensdoel op aarde tot eer van God te leef.

Oppervlakkig en moontlik tradisioneel, word die eer van God hoofsaaklik verstaan dat ons baie mooi lofliedere tot eer van God sing as ons in die kerk is. Of dat ons daarna strewe om steeds deur ‘n wettiese lewenswyse net hard genoeg te probeer om ‘n goeie mens tot eer van God te wees. Met hierdie onvergenoegde lewenswyse voel ek maklik dat daar niks goed in my is nie en dat ek steeds ‘n sondaar is. Hierdie dwaashede steel steeds ons vreugde in die lewe en sál ons steeds vasgebind laat voel. Dit is duidelik dat die mensdom eerder geneig is om God eindeloos te frustreer met hul eie selfsugtige agenda, as om Hom te vervul met blydskap.

MAAR na ons deur die genade van God, met ‘n definitiewe geloofsbesluit, Christus alleen die lewende Woord van ons lewe maak, beweeg ons dieper tot eer van God alleen!

Anders gesê, na ware bekering volg ‘n totaal ander storie: die inwonende Gees van Christus bevry my van alle mislukkings, bevry my van my verlede, maak alle wonde gesond en breek alle bindinge. Deur my nuutgemaakte verbintenis met Jesus alleen, maak Hy my volkome lewendig. Om tot eer van God te leef beteken om vreugde te vind in die lewe wat God gee, in wie ons is, en God vind vreugde in ons vreugde. Vreugde wat ons hartlik en met opregte betekenis verwoord in die lofliedere wat ons in én buite die kerk sing!

My lewensdoel vir God word ‘n werklikheid, want Hy neem volledig verantwoordelikheid dat my lewe tot sy eer alleen sal verloop. Ek kan net tot eer van God leef as ek beantwoord aan die doel waarvoor Hy my geskep het, as ek die mens word wat Hy met my bedoel het, hoe Hy wil hê ek sy beeld uitdra in my eie unieke vorm wat Hy my gegiet het. Nou leef ek glad nie meer vir myself nie, maar vir Hom alleen. Waarmee is Hy besig, wat is sy groot agenda, wat maak Hom moeg, wat gee Hom eindelose vreugde.  Nou is ek sy koningskind wat Hy met liefde versorg en bemagtig. Ek is sy gesalfde en sy gestuurde. Ek is volmaak in sy oë en vervul met sy volheid.

Prakties beteken dit om Hom te ontdek in elke oomblik van my dag, want die mens wat tot eer van God leef, is die mens deur wie God leef.