Thursday, November 10, 2016

Oordenking 13 November 2016

Tema: Om deur gebed een te word met Jesus
“Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (Johannes 6:56)

Deur gebed in my binnekamer luister ek na God se Woord. In my Bybel lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al hoe meer ‘n vaste en wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende Jesus in my!

Kom ons delf dieper in die misterie van ons eenwording met Jesus, Hy wat deur sy lewende Gees in ons woon en werk. In Johannes 6 vertel Jesus vir sy volgelinge meer van die betekenis dat Hy self die brood van die lewe is. Hy vergelyk die opname van brood wat geëet word in die menslike liggaam, met die eenwording tussen Hom en elkeen wat in Hom glo. Hy beklemtoon dit baie sterk dat die brood wat die mense elke dag eet om hulle fisiese honger te stil, nie permanente versadiging bring nie. Daarteenoor sal elkeen wat deur geloof die brood van die ewige lewe eet, nooit weer honger kry nie.

Hoe kan elkeen van ons seker maak dat ons wel die brood van die ewige lewe eet? Hierdie ewige brood het alles te doen met ons elkeen se bewustelike keuse om gedurig en voortdurend en met toewyding, ons volle samewerking te gee vir die Gees se werking in ons. Om hierdie brood te eet, kan op baie maniere beskrywe word, soos onder andere geloofsgroei, heiligmaking en geestelike verdieping. Alhoewel hierdie eenwording met Jesus in ons volledig sy Gees se werk in ons is, vra dit ons volledige samewerking.

Die een moontlike manier wat Jesus gebruik om hierdie eenwording te beskrywe, is dat ons een word met sy liggaam. Daar vind inkarnasie plaas, dit is, ons word die beliggaming van Jesus self. Ja, goed, dit is ingewikkeld, maar dit is juis die misterie wat ons nie regtig verstaan nie. Eenvoudiger gestel, ons word Jesus se hande en sy voete. Geestelike groei is nie om meer soos ‘n engel te word nie, dit is eerder om meer in jou fisiese liggaam Jesus se gesagvolle verteenwoordiger te wees. Op hierdie wyse is daar al hoe minder verskil tussen ons geestelike lewe en ons alledaagse doen en late.

Waar begin of gebeur hierdie inkarnasie of totale nuwe lewensbenadering? Daar waar die Gees geleentheid kry om met jou en my besig te wees. En hier is nie vaste voorskrifte of neerdrukkende eise wat gestel word nie. Maar onder andere is die tyd en wyse waarop ons geleentheid skep in ons binnekamer, verseker een van die beste plekke om geïnspireer en gevorm te word om Jesus se hande en voete in ons daaglikse lewe te wees!

Thursday, November 3, 2016

Oordenking 6 November 2016

Tema: Om te bid vir die ewige Brood
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee ...” (Johannes 6:35a)

Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou. Jou binnekamer is een baie goeie plek om die waarde daarvan te ervaar om die lewende teenswoordige God in gebed te vertrou. Tog het elkeen van ons baie nodig om beter te verstaan waarvoor ons God werklik kan vertrou.

So leer ons graag by Jesus self uit dit wat ons in die Bybel lees, toe Hy hier op aarde was. In Johannes 6 gee Hy brood aan meer as vyf duisend honger mans met die wonderwerk-vermeerdering van vyf garsbrode. Ons Jesus weet van fisiese honger en leer ons om te bid vir ons daaglikse brood. Hierin leer ons dat ons “met vrymoedigheid na die genadetroon” (Hebreërs 4: 16) van God kan gaan deur te bid. Vra gerus vir die Here wat jy dink jy nodig het, Hy wil dit graag hoor – vertrou Hom vir jou alledaagse behoeftes!

Na hierdie wonderwerk met die vermeerdering van die brood, wou die skare mense Jesus met geweld hulle aardse koning maak. Hy vlug berg op, net Hy alleen. Dit word donker, sy dissipels vaar met ‘n skuit oor die see, ‘n storm bars los, Jesus loop op die water na hulle en maak die storm stil. Die volgende dag spoor die skare wat kos gekry het Hom op en dan leer Hy hulle oor die eintlike “brood wat lewe gee.” Vir Johannes is al hierdie gebeure rondom Jesus baie belangrik, want dit gee die motivering waarom sy volgelinge met aandag wil luister na sy lering.

Jesus self is “die brood wat lewe gee”. Deur ons geloof in Jesus, eet ons hierdie simboliese geestelike brood en word ons ewige geestelike honger gestil. En soos Hy self sê: “Julle moet werk ... vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat die ewige lewe gee.” (Johannes 6:27). Hy gaan verder om vir elke Jesus-mens te belowe: “... Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Johannes 6:37b). Maar dan natuurlik die uiteinde van elkeen wat hierdie uitnodiging ernstig opneem: “... Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (Johannes 6:40b).

Waar word hierdie beloftes waar vir my as Jesus-mens? Deur gebed in my binnekamer luister ek na God se Woord. In my Bybel lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al hoe meer ‘n vaste en wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende Jesus in my!