Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee ...” (Johannes 6:35a)
Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou
persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou. Jou
binnekamer is een baie goeie plek om die waarde daarvan te ervaar om die lewende
teenswoordige God in gebed te vertrou. Tog het elkeen van ons baie nodig om
beter te verstaan waarvoor ons God werklik kan vertrou.
So leer ons graag by Jesus self uit dit wat
ons in die Bybel lees, toe Hy hier op aarde was. In Johannes 6 gee Hy brood aan
meer as vyf duisend honger mans met die wonderwerk-vermeerdering van vyf
garsbrode. Ons Jesus weet van fisiese honger en leer ons om te bid vir ons
daaglikse brood. Hierin leer ons dat ons “met
vrymoedigheid na die genadetroon”
(Hebreërs 4: 16) van God kan gaan deur te bid. Vra gerus vir die Here wat
jy dink jy nodig het, Hy wil dit graag hoor – vertrou Hom vir jou alledaagse
behoeftes!
Na hierdie wonderwerk met die vermeerdering
van die brood, wou die skare mense Jesus met geweld hulle aardse koning maak. Hy
vlug berg op, net Hy alleen. Dit word donker, sy dissipels vaar met ‘n skuit
oor die see, ‘n storm bars los, Jesus loop op die water na hulle en maak die
storm stil. Die volgende dag spoor die skare wat kos gekry het Hom op en dan
leer Hy hulle oor die eintlike “brood wat
lewe gee.” Vir Johannes is al hierdie gebeure rondom Jesus baie belangrik,
want dit gee die motivering waarom sy volgelinge met aandag wil luister na sy
lering.
Jesus self is “die brood wat lewe gee”. Deur ons geloof in Jesus, eet ons hierdie
simboliese geestelike brood en word ons ewige geestelike honger gestil. En soos
Hy self sê: “Julle moet werk ... vir die
voedsel wat nie vergaan nie en wat die ewige lewe gee.” (Johannes 6:27). Hy
gaan verder om vir elke Jesus-mens te belowe: “... Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Johannes 6:37b).
Maar dan natuurlik die uiteinde van elkeen wat hierdie uitnodiging ernstig
opneem: “... Ek sal hom op die laaste dag
uit die dood laat opstaan.” (Johannes 6:40b).
Waar word hierdie beloftes waar vir my as
Jesus-mens? Deur gebed in my binnekamer luister ek na God se Woord. In my Bybel
lees ek hierdie waarhede en word dit deur geloofsgroei al hoe meer ‘n vaste en
wonderlike deel van my intieme verhouding met die lewende Jesus in my!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.