“Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!” (Psalm 84:13)
In die stilte van jou binnekamer, verinnig jou
verhouding met die stil Een in jou! Elke Jesus-mens het gebed nodig in jou
persoonlike en intieme verhouding met die inwonende Gees van God in jou.
In Psalm 84 word die onbeskryflike positiewe
waarde van ‘n besoek aan die tempel soos in die tyd van die Ou Testament
beskrywe. In die denke van die gelowige voor die uitstorting van die Heilige
Gees, is God op ‘n besonderse wyse teenwoordig in die tempel in Jerusalem. Daar
in die tempel woon God. Om ‘n pelgrimtog aan te pak Jerusalem toe om die
voorgeskrewe offers te bring, bring groot seën en voorspoed vir die getroue
Jood. Daar waar God is, is rus en vrede. Waar Hy is, ontvang die gelowige nuwe
krag. Simboliek beskrywe iets van die uitsonderlike ervaring in God se
teenwoordigheid. Die mossie en die swaeltjie maak nes daar. Dit is soos
fonteine water na droogte, soos vroeë reën wat seën bring.
Maar dan met die afsluiting van die Ou
Testament, kom ‘n totaal nuwe en beter bedeling vir elke Jesus-mens. Jesus
Christus word gebore as mens op aarde en kom Self vertel wat sy koms beteken. Hy
kom gee die belofte van die Heilige Gees wat sou kom en kort na sy volledige
verlossingswerk op aarde afgehandel is, word die Heilige Gees uitgestort. En
watter verskil het dit nie gemaak nie! Nou is God nie meer beperk om net in die
tempel in Jerusalem teenwoordig te wees nie, maar Hy kom woon deur sy Gees in
elke Jesus-mens!
Vandag en elke ander dag, kan elke Jesus-mens
die besondere ervaring en wete hê dat God teenwoordig is. En waar Hy is, word die
onbeskryflike waarde van ‘n besoek aan die tempel waar. By Hom is rus en vrede,
by Hom is nuwe krag, by Hom is nuwe lewe. By Hom is alles wat elke Jesus-mens
nodig het, vir ‘n intieme en persoonlike liefdesverhouding met Hom.
Ons elkeen se binnekamer, waar ons alleen by
Hom is om te bid, is die plek en die geleentheid om iets baie besonders en baie
spesiaal te ervaar van God se teenwoordigheid. Hierdie ervaring kom nie
noodwendig dadelik en op ‘n bonatuurlike wyse nie. Elke Jesus-mens word
aangemoedig om sy of haar eie ontdekking en gewaarwordings in sy of haar
binnekamer te maak. Daar is nie bindende voorskrifte of swaar pligte vir
hierdie wonderlike geleentheid nie.
Raak bewus van die waarde om die lewende
teenswoordige God te vertrou in gebed!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.