Thursday, August 25, 2016

Oordenking 28 Augustus 2016

Tema: Ons Vader weet wat en wanneer ons vra
“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?”
(Lukas 18:7)

Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 18 leer ons meer by Hom oor gebed, ons heel belangrikste kontak wat ons met Hom het.

‘n Weduwee kom smeek by ‘n regter vir hulp met iemand wat haar erge skade aandoen. Dit moes ‘n baie ernstige saak gewees het, want sy hou eenvoudig net nie op om die regter lastig te val om hulp nie. Die regter is egter ‘n baie harde en gewetenlose mens – hy het geen ontsag vir God of vir enige ander mens nie. Die weduwee se herhaaldelike lastig val en sy vrese dat sy hom kan klap, maak dat die regter ingee.

Wat het dit presies met gebed te doen? Die agtergrond van hierdie vertelling van Jesus, is Jesus se dissipels wat Hom uitvra oor die wederkoms waarvan Hy hulle vertel het. Dit help ons om te verstaan, dat al voel dit asof die Here uitstel om weer te kom en ons in die proses moedeloos kan word, is dit nie nodig om moedeloos te word nie.

As hierdie ongenadige regter uiteindelik tog ingee, is hy geensins te vergelyk met ons hemelse Regter nie. Ons hemelse Vader is die genadige Een by uitnemendheid. Hy hoor as ons in gebed by Hom pleit vir hulp. Hy weet die heel beste wat sy uitverkorenes die nodigste het. Hy ken ons behoeftes beter as wat ons dit self besef. Hy hoor wel as ons aanhoudend vra, al ervaar ons baie keer dat Hy nie gee wat ons vra nie. Sonder dat ons dit dadelik of soms enigsins agterkom, gee Hy wel. Baie keer gee Hy beter as wat ons vra, ons kom dit nie noodwendig altyd agter nie.

Ek weet nie waarmee jy op die oomblik stoei in jou lewe nie? Maar daar is ‘n Vader in die hemel wat weet! Ek weet nie wat maak jou moedeloos in jou gebedslewe nie? Daar is Iemand baie besonders, wat jou wel duidelik raaksien op moed-verloor-se-vlakte!

Glo met jou hele mens-wees: jy is ‘n uitverkorene van God! Hou aan om dag en nag tot Hom te roep, Hy sal reg doen in jou lewe! Want, Hy is Wie Hy is!!!

Thursday, August 11, 2016

Oordenking 14 Augustus 2016

Tema: Die hemelse realiteit van ons Vader se liefde
“Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by Pa, en alles wat Pa het, is ook joune.” (Lukas 15:31)

Jesus vertel stories, beter bekend as gelykenisse, dat ons beter kan verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In die gelykenis van die verlore seun, kry ons te doen met ‘n Vader wat ware liefde demonstreer – dit is daardie liefde wat elkeen van ons innig na smag.

Met die eerste lees of luister na die gelykenis van die verlore seun, lyk dit asof die klem val op die eerste seun wat sy pa se huis verlaat het en in die vreemde sy erfporsie gaan uitmors met ‘n losbandige lewe. Dan beland hy met niks tussen die varke en verlang terug huis toe. So gaan hy terug na sy pa en word soos ‘n eregas terug ontvang deur sy pa. Die pligsgetroue oudste seun wat tuis alles vir sy pa gedoen het, reageer met woede op hierdie helde ontvangs van sy slegte broer.

Kyk ons mooier na die eintlike betekenis van hierdie storie vir lewe, gaan dit baie eerder hier oor die Pa se optrede teenoor sy kinders. In die Pa se reaksie op die twee seuns se uiteenlopende gedrag teenoor Hom, ontdek ons meer van ons hemelse Vader se liefde vir ons. Die hemelse realiteit, of dan goddelike werklikheid, van God se liefde, verander die lewe vir soekende en gebroke mense. Sy liefde is onvoorwaardelik, permanent en innig.

In hierdie storie ontmoet ons die God in wie ons wil glo: ‘n Vader wat nog altyd met uitgestrekte arms op ons wag en Hom op niemand afforseer nie. Sy diepste begeerte is om ons te seën en nie om ons te straf nie.

Ons leefwêreld bestaan uit verskillende klasse wat mekaar vergelyk en oordeel en selfs veroordeel. Die Pa in die storie, vergelyk nie die twee seuns nie. Ons Vader se liefde vergelyk ons nie met mekaar nie, maar is ‘n baie spesiale en unieke liefde wat elkeen se besonderse persoonlikheid verryk. In sy liefde, wil Hy my vind, net so graag as wat ek Hom wil vind. En ons God spesialiseer daarin om die inisiatief te behou om ons te vind op die manier wat elkeen van ons dit die nodigste het.

Elkeen van ons is ‘n geliefde in God se oë. Die kern van ons geestelike stryd is om net meer te ontdek dat elkeen van ons sy liefde werd is. Meer en meer groei ons in hierdie lewe daarin dat God se liefde ons lewens stuur en verryk en omvou.